In misdaad se blik

  • 0

In meer as een gesprek op ‘n dag, word die onderwerp van ‘n opbouende dialoog verskuif na die werklikheid en kommer wat misdaad meebring.

In my wêreld, was die subtiele bestaan van sogenaamde “witboordjie”-misdaad nog altyd daar. Ongeag van die vorm wat dit aanneem, die sigbaarheid daarvan en die ekonomiese gevolg daarvan – is dit werklik. Meer van ons was of is daarby ingetrek as wat baie sal toegee, maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Die “misdaad” waaroor ek vandag die pen opneem, is egter groter in omvang en gevolg as wat baie van ons omgee om te weet. In die wysheid van ons Vader, het Hy my by ‘n plek in die dorp gebring waar my oë kan oopgaan en my hart verstom kan staan. Dit terwyl ek sonder veel sweet op my aangesig, ‘n brood kan verdien.

Vir baie van ons binnelanders en selfs diè nader aan die huis, is werk- en woongebiede soos Beaconvale, Epping, Bellville-Suid en Parow Industria geensins bekend nie. Wat egter waar is, is dat elke stad en groter dorp sy eie soortgelyke gebiede het. Dit is hier waar die fabriekspersele is en die meubels, ysterhekke, verf, en al die ander goeters vervaardig word. Dit is ook hier waar die mense wat net langs hierdie gebiede woon, meestal ‘n sukkelbestaan voer – nie altyd suiwer geldelik nie, maar weens die misdadigers in hul gemeenskappe.

Hier is misdaad nie ‘n oorlewingstegniek nie, dit is ‘n loopbaan. ‘n Loopbaan wat gevorm word vanaf die kleinkindjare. ‘n “Werksdag” wat begin deur die eerste treksel tik in te kry en dan die pad te vat opsoek na iets en alles wat ge-aas en indien nodig, gesteel kan word om te gaan verkwansel of ruil vir die volgende treksel. Hier breek die tieners helder oor dag by fabrieke en motors in, sonder vrees vir vervolging. Die dryfkrag van ‘n ekonomie en maatskaplike stelsel wat hierdie “loopbaan” bevorder, laat al hoe meer onskuldige ledige kinders misdadigers word.

Terwyl ek in gesprekke en vergaderings met die plaaslike owerheid, polisie, raadslede, huurders en eiendomseienaars sit, is almal dit eens dat weens die weeklikse inbrake hul versekering daarmee heen is, die eiendomseienaars kla want die huurders hernu nie hul kontrakte nie, en die plekke staan leeg en die ekonomie druk. Die polisie luister net …

Terwyl ek deur die gebiede ry, is die een opmerklike kenmerk deurlopend die jongmense wat “ rondhang”. Hulle lyk soos die “under cover” speurders in ‘n Hollywood fliek – dit sit en staan rond so sonder doel of heenkome. Moontlik is dit juis hul toegangsdeur na misdaad. Moontlik is dit hul mense se onvermoë om daardie “deure” te sluit, wat die groter misdaad is. Hier is die kerstenseisoen verby - nêrens let mens selfs Jehovagetuies op wat traktate van redding uitdeel nie; wat nog te sê van ons eie kerkmense.

Op die deurdrumpel van ons ekonomiese hartland, sit talle gemeenskappe wat in die wurggreep van misdaad vasgeklem is. Mense wat dit elke oomblik van elke dag en nag ervaar; nie net met sporadies inbrake nie. En terwyl ons Calvyne wetend of onwetend dit miskyk en uitreikspanne Thailand, Irak, Mosambiek en waar ookal stuur, is hierdie krakende smeltpot besig, om vinniger as wat ons dink, die voortbestaan van ‘n generasie in te sluk.

Tot die dag wanneer ons in die warmte van ons veilige woonbuurte die realiteit van misdaad ervaar en ons dan ons hande saamslaan en vra: hoekom dan ons, Here?

Hennie Fritz

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top