Ek lees met hartseer in Ben Engelbrecht se plasing dat Paddy O’Byrne oorlede is.
Paddy was al ’n gesoute radioman toe ek as jong man begin het in die ou Uitsaaihuis in Commisionerstraat. Hy was seker die beminlikse man in die uitsaaiwese, altyd besig om almal om hom te vermaak. Ons het mekaar gewoonlik net by ateljees en in die nuuskantoor en die indiskoteek raakgeloop, maar elke kort ontmoeting was ’n vreugde, met Paddy wat oorloop van goedige spitsvondigheid.
Iets wat ek nooit sal vergeet nie, is ’n rit saam met hom en Esmé Euvrard Bloemfontein toe. Ek het ’n vermaaklikheidsprogram geskryf wat daar opgevoer is as deel van die instelling van FM-uitsendings. Al wat ’n ampsmotor was, is ingespan om die who’s who van uitsaaiers uit Johannesburg aan te ry vir ’n gala-naweek. Paddy het ’n Mercedes bestuur wat die ampsmotor was van die ongewildste “grootbaas” in die SAUK. Esmé het agter gesit en gil van die lag. Toe ons by my huis wegtrek, begin Paddy met ’n eenman-show van liedjies, parodie en persoonsnabootsings wat eers in Bloemfontein opgehou het. As sy stock-karakter, was hy ’n Engelse lord wie se chauffeur iewers heen op pad is met hom, of die chauffeur self.
Tussenin het hy elke internasionale ster van die eeu perfek nageboots. Dosyne van hulle. Hy het die verskillende brokkies van mekaar geskei deur elke keer met ’n ander stemtoon te sê “I don’t care” en dan ’n nuwe koers gevat. As ek daardie dag ’n bandmasjien kon aanskakel wat vyf uur lank loop, dan het ek die internasionale regte op ’n rolprent lankal verkoop.
Dit was die beste entertainment in my dertig jaar in die bedryf.
In een stadium moes ons van die hoofpad afdraai na ’n grondpad waar ons vertraag word deur ’n bontspul van ’n trop beeste wat wagterloos daar staan en ons aanstaar met daardie ondeurdringbare onnoselheid wat net beeste kan monster. Paddy beveel: “Jenkins, get those darned animals off the road.” Maar ons kan niks anders doen as toeter druk nie. Die beeste drentel onwillig weg. Maar so twintig tree van die pad af, aan my kant, staan so ’n uitgevrete amasone van ’n Afrikanervers. Ek sien in haar oë hoe besluit sy: Fok julle! En sy storm. Sy tref die Mercedes se deur met ’n vaart wat die deur en die vensteroopmaker se handvatsels tot aan die ander kant van die kar laat spat, en sy slaat die pragtigste badskottel van ’n duik wat jy jou kan voorstel. Paddy is verruk. Hy spring uit die kar, pluk sy baadjie uit en probeer die bees uitlok om dit weer te doen. Hy swaai sy baadjie soos ’n stiervegter en dans met die komieklikste grasie die stof los tussen die rooigras. “Toro! Toro! Toro!” Maar sy wil nie weer nie. Sy staar hom net skaapagtig aan. Ons dink haar kop is seer.
Agterna het ek verneem die grootbaas was baie onsteld oor sy kar en het verskeie mense, behalwe vir my en Paddy, gevra of die storie, wat almal geken het, die waarheid was. Een van hulle het vir my gesê hy het nie genoeg van die man gehou om vir hom te sê dit was die waarheid nie, maar eerder sy vermoede dat dit ’n fanatastiese leuen was, versterk het.
En nou is Paddy ook nie meer daar nie.
Rus in vrede, Paddy. Hier leef jy voort in baie vreugdevolle herinneringe.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.

