In Memoriam: Maya Angelou

  • 1

Maya Angelou: 4 April 1928 – 28 Mei 2014 (Bron: www.oprah.com)

 

“Ma, wat is persimmon"?

“’n Tamatie.”

“Hoekom skryf sy nie net ‘tamatie’ nie?”

“... ’is ’n Amerikaanse tamatie.”

Dit was my eerste ervaring van Maya Angelou. Die herinnering het by my opgekom toe LitNet my vra om hierdie huldeblyk te skryf. Haar debuutwerk het op ’n boekrakkie in die gang van ons huis gelê met strokies aantekeninge in my ma, ’n lekeprediker, se handskrif. Ek moes aan die begin van middelbare skool gewees het. Die boek het duidelik ’n indruk gelaat, selfs al was daar aanvanklik nie veel begrip nie. Vir my was dit chick lit,en net wanneer ek dit wou neersit, het die outobiografiese Marguerite Johnson oor groot sake soos die geheimenisse van bottende jong vroulikheid en die verskille tussen hermafrodiete en lesbiërs geskryf, wat my met hernude ywer laat voortlees het. ’n Paar weke later kon ek in een van my ma se preke haar oorvertelling ter lering en stigting van “’n gevalle dogter” en die “verskrikking van sonde” hoor.

Oor die jare het ek I know why the caged bird sings (1969) ’n paar keer met groter waardering herlees, ’n keer of wat onderrig en dikwels eksemplare vir geliefdes as geskenke gegee. Vandag staan daar verskeie uitgawes in my boekery, elkeen met sy eie klein geskiedenisse.

Dit is eers later dat ek besef het dat Angelou se grootste bydrae haar herskrywing van haar eie lewe is. Hopelik het ek groter insig gehad in die moed wat dit kos om oor die verbystering van kinderverkragting of sosiale vernedering te skryf wanneer begrip by onsimpatieke tongklappery eindig. In haar opeenvolgende outobiografieë Gather in my name (1974) en Singin’ and swingin’ and gettin’ merry like Christmas (1976) was dit haar toenemende selfvertroue wat my getref het, veral omdat sy haar moes handhaaf in bedrywe op die rand van uitgeworpenheid, soos prostitusie, ontkleedansery of as buskondukteur.

In The heart of a woman (1981) en All God’s children need traveling shoes (1986) ontmoet ons haar en haar aangetrokkenheid tot Afrika en ook tot Suid-Afrikaners, onder meer haar ontmoeting met die destyds verbanne ANC se Tambo’s en haar verhouding met die PAC se verteenwoordiger in Kaïro, Vusumzi Make. Make wen aanvanklik haar guns met sy galantheid en later kom sy agter dat hy sy vrou as onderdaan en gedwee “African wife” verkies. Wanneer sy op ’n dag aankondig dat sy ’n werk as joernalis by ’n Egiptiese weekblad gekry het, ontplof hy woedend:

I watched the disbelief on his face turn to anger, then to rage. 

“You took a job without consulting me? Are you a man?”

[...] His vilification included my insolence, independence, lack of respect, arrogance, ignorance, defiance, callousness, cheekiness and lack of breeding. [...]

“You must call [back] and explain that you acted as an American woman, but that I returned home and reminded you that now you are an African wife.” (The Collected Autobiographies, ble835–6)

Geleidelik word haar vertellings oor al haar outobiografieë heen die verhaal van ’n vrou wat uit die spreekwoordelike kou breek.

As literêre vorm is die outobiografie die gekose manier waarop sosiale uitgeslotenes en minderes stem aan hul ervarings gee – of dit nou Frederick Douglass, Booker T Washington, Zora Neale Hurston, Toni Morrison, Richard Wright, Assia Djebar of, in Suid-Afrika, Peter Abrahams, Es’kia Mphahlele, Naboth Mokgatle, Noni Jabavu of Emma Mashinini is.

Na ’n verblyf in onder meer Europa, Egipte en Ghana keer Maya Angelou terug na haar geboorteland en met die publikasie van I know why the caged bird sings word sy bekend vir haar aangrypende vertellings oor die identiteitsoeke van ’n vrou of ’n swart Amerikaner in wit-oorheersde Amerika. In ’n galery van merkwaardige Amerikaanse skrywers wat vroue soos Alice Walker, Audre Lorde, Gwendolyn Brooks en die Nobelpryswenner Toni Morrison insluit, staan Angelou as waarskynlik die bekendste uit. Met haar welluidende rokerstem, haar dramatiese voordragte en haar common sense-insigte (veral op Oprah Winfrey se geselsprogramme) het sy wye aanklank by mense van alle sosiale agtergronde gevind.

Sy was veelsydig as mens en as skrywer, nie net as outobiograaf nie, maar ook as digter en selfs as Hallmark-groetekaartjieskrywer. Sy was klaarblyklik ook ’n goeie kok, te oordeel aan haar resepteboeke Hallelujah! The Welcome Table (2007) en Great Food, All Day Long (2010).

Gedurende die naweek na haar dood het ons vir nagereg ’n paar laatherfspere in rooi muskadel gedoop, selfs al was dit groenerig. Hier is haar resep uit Great Food – aangepas – vir pere in port. (Wees gewaarsku: sorg dat daar genoeg port is en begin voorbereiding minstens drie uur voor opdiening en nie, soos ons, 40 minute voor die tyd nie.)

4 ryp, ferm pere
3 koppies port (ons het uit nood Rooiberg rooi muskadel gebruik)
¼ koppie suiker
2 koppies water
3 tafellepels Cointreau
2 teelepels vanielje-ekstrak.

(a) Skil die pere, maar hou hulle heel met hul stingeltjies aan; sny die pere onder gelyk, sodat dit regop staan. (b) Meng die port, suiker en water in ’n geskikte pot en bring tot kookpunt, plaas die heel pere daarin en posjeer; verlaag die hitte en laat onbedek vir 35 minute prut; draai die pere gereeld totdat hulle sag is; haal die pere uit en plaas eenkant op ’n bord. (c) Verhoog die hitte en verminder die vloeistof deur vir 20 minute te kook totdat dit ’n dikkerige, loperige stroop vorm (egter nie te dik nie). (c) Voeg Cointreau en vanielje by. (d) Plaas die pere regop in ’n opdienbak en giet die stroop oor. (d) Verkil vir twee uur voor opdiening. (e) Bedien met vanieljeroomys.

Eet en geniet ter herinnering aan ’n lewe wat in ryk taferele en fyn besonderhede oorvertel is, ’n vol lewe wat groot geleef is. Die woorde wat Maya Angelou in haar lofdig aan Nelson Mandela geskryf het, is volledig op haar eie nalatenskap van toepassing: “We will remember and be glad that you lived among us, that you taught us, and that you loved us all.”

Lees ook 'n webseminaarbydrae waar na Maya Angelou verwys is.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Hein! Ek het ook maar nie met die beste insig kennis gemaak met Maya Angelou nie. Ek het gedink sy's een van die beste en braafste skrywers wie ek tot op daai stadium gelees het. Ek het die Civil Rights Movement slaafs gevolg en juis daarom besluit dat ek haar en Toni Morrisson moet lees. Jy word op elke skryfkursus aangemoedig om nie 'n eerstepersoonsvertelling te skryf as jy 'n roman aanpak nie. Sy het dit met oorgawe en baie suksesvol gedoen! Later eers agtergekom dat dit haar biografie is wat oor die 5 boeke verprei is. En jys reg - elke boek het sy net beter en beter geword. Net so kliphard gelag toe sy met 'n regte African te doene kry. Ek gaan 'n punt daarvan maak om al 5 van haar boeke weer te lees. Ek moes nou die dag twee uitleen want skielik het my Kasie bygekom! Dankie Hein!!! en Groete! 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top