Jorrie Jordaan, wat die grootste deel van sy lewe as student en akademikus aan die Universiteit van Port Elizabeth (later die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) verbonde was, het ’n onuitwisbare indruk gemaak op elkeen wat hom leer ken het. Hy was ’n dinamiese persoon wat mense kon inspireer deur sy entoesiasme vir die lewe en dit wat hy as die moeite werd geag het in sy beroep en daarbuite. Omdat hy geen kompromieë aangegaan het oor gehalte nie, het hy onvermydelik in sy werksomgewing op laks tone getrap, maar daardeur ook gebou aan ’n kultuur van uitnemendheid wat aansteeklik ingewerk het op almal wat in ’n span met hom saamgetrek het. Tog het hy ’n sagte hart gehad vir dié wat aan die ontvangskant van ongeregtigheid was, en daarby ’n uitstekende humorsin geopenbaar – een van die onmiskenbare aanduidings van intelligensie.
Toe ek by die destydse UPE ’n taalkundepos aanvaar het in Afrikaans en Nederlands, het ek hom leer ken as ’n geesdriftige kollega en dosent wat studente aan sy voete gehad het en ’n liefde vir die Afrikaanse letterkunde by hulle gekweek het. Hy was terselfdertyd ’n uitstekende kommunikeerder en kon blitsvinnig op sy voete dink. Die toenmalige rektor, Jan Kirsten, het op ’n keer laat blyk dat die onderhoud met hom voor sy aanstelling as lektor op daardie stadium die beste was wat hy nog ooit met ’n voornemende dosent gevoer het.
Jorrie was ’n vindingryke ondernemer en het die tekens van die tye reg gelees toe die geesteswetenskappe, en veral die tale, by universiteite onder beleg gekom het. Nadat hy hom vroeër as letterkundige gevestig het (as redaksielid van Stilet was hy ook onder andere gasredakteur), het hy nou besef dat nuwe eise in die universiteitswese ’n nuwe aanpak geverg het. Met die herrangskikking van departemente het hy ’n loopbaan in mediastudies begin en as departementshoof gesorg dat studente met ’n aanleg in tale tereggekom het in studierigtings soos die joernalistiek, waarvoor daar ’n aanvraag sou wees. Ook daar het hy hom op nasionale vlak gevestig, byvoorbeeld as redakteur van die vaktydskrif Communicatio.
Maar hy was ook avonturier, en het as biker ’n vriendekring opgebou saam met wie hy en sy gade die land op hulle ysters verken het en wat hom tot op die laaste ondersteun het.
Ons sal hom onthou as ’n vriend, kollega en mentor wat ’n verskil gemaak het in die lewens wat met syne in aanraking gekom het en wat sal bly voortleef, nie net in die herinnering aan hom nie, maar ook in die verskil wat hy teweeggebring het. Jorrie het as mens én as akademikus gegroei, en in sy laaste jare, ook toe hy in die skadu van die kankerdiagnose geleef het, voluit gelewe en uitgestaan as ’n kwaliteitmens – sy nalatenskap sal ons steeds daaraan herinner.

