In limbo: Twee Nagtegaals tref die kol

  • 0

Titel: In limbo
Outeurs: Jackie en Reinet Nagtegaal
Uitgewer: Joho! Uitgewers, Kaapstad
Uitgereik: Maart 2009
ISBN: 9780980275476
Prys: R160

Klik hier om In limbo nou van kalahari.net te bestel!

 

 

Sit ’n helmet op voor jy In limbo lees. En, manne, dra ’n boks, anders gaan jou knaters dit nie hou nie. Jy’s gewaarsku. Hierdie boek tref hard, maar dit is die pyn werd.

Ek het aanvanklik gedink "Twee Nagtegale sing ’n duet” sou ’n heerlike titel wees vir hierdie resensie. Helaas, toe nie. Die boek herinner veel meer aan Meredith Monk (oor wie ek mal is) as wat dit klink na Enrico Toselli se soetsappige “Nagtegaalserenade”.

In die ware tradisie van literature engagée speel In limbo nie bloot met die estetika nie, dit krap rond in die menslike siel, dit vlek alkoholisme oop en dit ondersoek ten seerste die lot van straatkinders in Suid-Afrika.

Kortom, dit is ’n diep boek. As julle bekend is met Ian McEwan (2001) se Atonement, dan weet julle ongeveer wat om te verwag.

 

Die storie

In limbo handel oor ’n stinkryk ma, Dette, en haar stinkryk dogter, Tommy. Albei drink soos visse, behalwe dat visse nie vodka drink nie.

Tommy se bankbalans is miljoene sterk weens ’n patent wat sy verkoop het. Dette s’n lyk nie veel slegter nie, want sy skryf selfhelpboeke wat van die rakke af vlieg. Dié twee vroue het boonop ’n besige sekslewe so tussen die drank deur.

Waarom sal twee suksesvolle mense so suip?

Soos die boek vorder, besef ons dat drank en seks ’n manier is om te vergeet van ’n verskriklike gebeurtenis in dié twee vroue se lewens. Ek gaan nie sê wat dié gebeurtenis is nie.

 

Om leeg te wees

Wat ek wel kan noem, sonder om die storie weg te gee, is dat ma én dogter naarstiglik probeer om Tommy se tweelingsussie, Liz, by hulle lewens te betrek. Dié woon klaarblyklik in Griekeland en maak geen kontak nie. Tommy gaan so ver as om Liz se ruimte op Facebook te administreer. Sy skep dus ’n virtuele suster in die plek van die afwesige een.

Die leë kol hou nie op by die sussie nie. Tommy sukkel ook om vriende te maak. Aan die einde van die eerste hoofstuk staan daar:

Ek flick deur al my iPhone contacts. Tussen al die name is daar niemand wat ek kan bel nie. Loneliness laced with vodka. What a life.

Dette is in ’n soortgelyke bootjie. Sy het ook, danksy daardie een gebeurtenis jare gelede, haar werk, haar vriende en haar kollegas verloor.

Kyk gerus na die titel van ’n boek wat Tommy in Exclusive Books raaksien: Life With, is Life Without: A Holistic Approach to Addiction .

G’n wonder nie dat die twee vroue seks en alkohol misbruik.

 

Seks of liefde?

Voor mý kopie nog opgedaag het, moes ek al hoor dat ma en dogter ’n katelknaap deel in hierdie boek. My vrou het met dié brokkie inligting by die huis gekom.

Die man wat so gelukkig is, sê hierdie resensent droomverlore, se naam is Hans Schwabe. Julle hoef nie Matriekduits te hê om die woord swaap hierin raak te sien nie.

Hans is nie dom is nie. Dis net dat hy voortdurend val vir ouer vroue om te probeer kompenseer vir die gebrek aan liefde tydens sy jeug. Swaap wat hy is, probeer hy die vroue dan red van hulle probleme. Dis egter die jonge Tommy wat een middag, na seks op die strand, vir hom sê: “Just because you can make me come doesn’t make you Jesus.”

Hans kom woon in Dette se huis om dit te “vergroen” en hy knoop ’n verhouding met haar aan omdat hy andersins op straat sou sit. Onskuldig is Hans dus glad nie. Hy verruil sy lyf vir ’n dak oor sy kop. (Lesers wat belangstel, kan gerus Bernhard Schlink (2002) se vertaalde kortverhaal “Suger peas” ná In limbo lees.)

Tommy soek ook. Háár soektog na liefde dryf haar in die hande, arms en beddens van mans in – tálle mans – onder wie Hans Schwabe.

Dette is weer bitter lief vir haar dogter en doen ontsettend baie moeite om haar komplekse kind by te staan; Tommy is egter Dette se enigste steunpilaar. Dié twee kan nie sonder mekaar leef nie, al versondig hulle mekaar hoeveel.

Uiteindelik het ons met twee baie interessante vroue te doen.

 

Harte soos ’n plaaskombuis

Tommy, die stinkryk, rondslapende, suipende meisiekind, het ’n hart van goud. Sy spandeer ’n groot deel van haar geld aan ’n skuiling vir straatkinders. Sý betaal vir kos, vir medies én vir ’n sielkundige om na die kinders te kyk.

Tommy is dus ’n baie komplekse, maar baie nice meisiekind; dalk is sy selfs een van die mees memorable karakters in die present literatuur. By theway, you have guessed it, Tommy mix meer as net haar bedmaats.

Dette gee óók om. Sy neem vir Hans Schwabe in en gee hom ’n Toyota Prius present. Sy help dikwels vir Tommy met die skryf van toesprake oor die straatkinders en sy gee baie geld weg vir liefdadigheid.

Die vroue is soms ampertjies te oulik om waar te wees, maar wees versigtig: op een vlak lees die roman soos die plot van ’n sepie, tog spreek dit soveel hartseer en pyn aan dat dit soms voel of jy na ’n Europese kunsfilm kyk. Op beide ’n mikro- én ’n makrovlak, op ’n persoonlike én openbare vlak, word die menslike hartseer ten toon gestel, ondersoek en gekoester.

Hierdie dualisme tussen groot en klein, intiem en openbaar, speel sigself ook in die vertelstyl af.

 

Twee vroue, twee stemme

In limbo se hoofstukke wissel mekaar af soos twee boulers. In die onewe hoofstukke mix Tommy haar woorde en thoughts in die eerste persoon, dan, in die ewe hoofstukke, wórd Dette in ’n suiwer, volwasse Afrikaans vertel.

Dít gebeur met absolute reëlmaat.

Vir Tommy, die ek-verteller, leer ons dus intiem, van binne, ken. Ons weet byvoorbeeld presies wanneer ’n man haar penetreer. Niks word weggesteek nie. Dette, daarenteen, word van buite vertel. Háár liefde en háár lewe beleef die leser tweedehands.

By geleentheid sal die alwetende verteller in die ewe hoofstukke ook iets oor Hans en Tommy vertel, maar nooit met dieselfde intimiteit as waarmee ons Tommy in die onewe hoofstukke beleef nie.

Die vertellers sluit aan by mekaar en borduur voort op mekaar se werk. Oor die algemeen werk dit uiters goed. Ek het slegs by die oomblik van katarsis gevoel dat die twee vroue nét te gou ná mekaar, sonder om daaroor te gesels, hulle eie demone op dieselfde wyse begin uitsorteer. Die katarsis werk steeds goed, want daar is ’n duidelike aanleiding daarvoor; dis net dat dit my opgeval het hoe die twee stemme mekaar in die storie volg.

Onwillekeurig wonder die leser dus: Het Jackie die onewe hoofstukke geskryf en Reinet die ewe hoofstukke? ’n Klein bietjie navorsing toon dat dit baie moontlik is. Lees gerus Willemien Brümmer (2009) se artikel in Die Burger. Maar is dit ter sake? Dalk nie. Die spel is egter interessant en leeskringe wat die boek behandel, kan gerus hierna oplet.

Van leeskringe gepraat, wanneer ek by hulle optree, vra mense gereeld uit oor die mens(e) agter die boek.

Ek ken die Nagtegaals geensins goed genoeg om oor húlle te praat nie, maar ek kan lees. Willemien Brümmer se stuk het baie interessante parallelle tussen die vier vroue (twee werklik en twee fiktief) vorendag gebring.

 

Die mense agter die boek

Hier is ’n paar voorbeelde van die parallelle.

Dette en Tommy

Reinet en Jackie

Dogter promisku

Dogter promisku (aldus die ma)

Dette se besonderse poedel

Reinet se besonderse poedels

Dogter sorg vir straatkinders

Dogter sorg vir straatkinders

 

Is dié teks dus outobiografies is? Nee. Tommy en Dette se lewens verskil in ander opsigte baie van Jackie en Reinet se openbare persoonlikhede. Dette se huis is in Kaapstad, teen die berg. Die Nagtegaals is bekende inwoners van Melkbos. Tommy se werk met straatkinders is in Rondebosch, Jackie s’n is in Stellenbosch. Dette is geskei, Reinet nie. So sou ons kon aanhou.

Die vraag is egter: Waarom sou die vertellers sulke parallelle trek en dit boonop met die pers deel? Hier moet ek my beroep op ’n groter akademikus as ek. Joan Hambidge (2009) het onlangs dieselfde vraag gevra tydens haar gesprek oor Jaco Kirsten se boek, Om na ’n wit plafon te staar. Kirsten het óók die speletjie gespeel (my resensie toon dit duidelik, De Vries 2009). Hambidge se kommentaar hierop was: “Dit is juis die punt van die roman, om hierdie spel met Roland Barthes se vraisemblance vol te hou.”

Nou, as julle soos die uwe eers ’n woordeboek moet nader hark, dan is dít hoe ek hierdie konsep verstaan: “Oëverblindery, of te wel die vermoë om die skyn van die waarheid vol te hou.” (En, sou julle ’n ete hou waartydens julle dié boek wil bespreek, die uitspraak van vraisemblance is glo "fraai-saan-blaans.)

Presies. Dis twee slim vroue. Hulle weet hoe om die leser aan die raai te hou. In die ware tradisie van die sepie, is oppervlak belangrik, die skyn is alles.

Dette lééf vir die skyn. Tommy háát die skyn.

Albei ís uiteindelik deel van die skyn; totdat hulle op verskillende maniere, op hulle eentjie, ’n aaklige oomblik van self-erkenning bereik.

Leeskringe kan gerus die volgende boeke vergelyk en kyk hoe die leser verlei word om die mens agter die storie by die boek te betrek:

  • In limbo , deur Jackie en Reinet Nagtegaal (2009)
  • Om na ’n wit plafon te staar , deur Jaco Kirsten (2009)
  • Kladboek , deur Joan Hambidge (2008).

En let ook op hoe die omslae van elkeen van hierdie tekste bydra tot die vraisemblance.

Selfs Willemien Brümmer (2008) se bundel, Die dag toe ek my hare losgemaak het, het betrekking. In dié geval vervreem die voorblad egter opsetlik.

 

Die omslag van In limbo

Streng literati steur hulle gewoonlik min aan die omslag van ’n boek – dit is die ontwerpers wat daaroor opgewonde raak. In dié geval wil ek egter wys op hoe mooi die fiktiewe “dokumente” op die omslag inspeel op die inhoud.

Karen Miller se kunswerk op die voorblad skets Tommy en Dette se lewens só mooi: sjampanje en kaviaar, maar ook doodsheid. ’n Enkele blom skei hulle, en die wêreld agter hulle is ’n plaat niks. Die papiere wat hulle lees (of waaragter hulle van die wêreld wegkruip) gee hulle gesigte ook ’n gevoel van see no evil, speak no evil.

Ja, dit is tékste wat die vroue se gesigte van ons, die leser, se blik afskerm. Die teks verdoesel dus. Die teks maak die bekende onbekend. Die téks, dames en here, is wat Tommy en Dette onderskei van Jackie en Reinet, al kan julle hóéveel raakpunte sien tussen die vier.

Die ontwerpers het egter ’n stappie verder gegaan met hierdie speletjie. Op die agterblad is kiekies van ’n laggende ma en twee blonde kleuters – Dette dus, saam met Tommy en Liz. Die poedel verskyn ook en dan daardie één, baie alleen foto van ’n vrou wat oor die see staar. Dit is slim om die leser so te lok, te verlei en die (vals) dokumente op te dis as bewyse van ’n fiktiewe bestaan.

 

Die laaste opslagbal

Ten spyte van die slim truuks, kan die leser nie help om Jackie en Tommy se lewens met mekaar te vergelyk nie. Dit word dan, tekstueel, so aan ons opgedis.

Wees egter versigtig. Ek het begin met ’n kriekettema, en ek gaan afsluit met een. Net soos ’n goeie draaibouler soms ’n ses of twee afstaan om ’n ongeskikte kolwertjie sag te maak vir daardie vinnige volbal op die paaltjies, so is die buitetekstuele spel, waaronder die omslag, ’n manier om die leser lekker te laat droom. Doen jy dít, gaan die boek jou tref waar dit seermaak.

Geniet die mooi mense, die seks, sjampanje, die weelde. Dis alles daar, maar Hans, Tommy én Dette moet op die harde manier leer dat die oppervlak broos is. Vir die skerpsinnige leser gaan die stryd teen die karakters se demone baie interessant wees. Die leser wat die boek soos ’n sekstoeris benader, gaan ’n bal kry waar dit seermaak.

Reinet en Jackie kan skryf, dit weet ons nou al. Reinet en Jackie kan duidelik ook lekker gesels, soos Willemien Brümmer vir ons wys. Maar hulle is slim. Baie slim. En, wat die hart (en brein) van vol is, daarvan loop In limbo oor.

 

Beperkte bronverwysings

Brümmer, Willemien. 2008. Die dag toe ek my hare losgemaak het. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2009. Twee Nagtegaals vlieg saam. Die Burger, 20 Maart 2009. http://www.dieburger.com/Stories/Features/By/19.0.1396857501.aspx

De Vries, Izak, 2009. Dié boek gaan ’n paar plafonne tref. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=
1270&news_id=62407

Hambidge, Joan. 2008. Kladboek. Kaapstad: Protea.
—. 2009. ’n Belydenis van ’n geskryfde: Joan Hambidge. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=
1270&news_id=63503

Kirsten, Jaco. 2009. Om na ’n wit plafon te staar, ’n (reguit) roman. Kaapstad: Tafelberg.

McEwan, Ian. 2001. Atonement . Londen: Jonathan Cape.

Nagtegaal, Jackie en Reinet. 2009. In limbo. Kaapstad: Joho! Uitgewers.

Schlink, Bernhard. 2002. Sugar peas. In Flights of love (vertaal). Londen: Phoenix.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top