In landsbelang
Quintus van der Merwe
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624048466
Prys: R140.25
Quintus van der Merwe se jongste roman, In landsbelang, loop gevaarlik naby aan werklike politieke toestande in Suid-Afrika, veral in ag genome dat dit sonder die gebruiklike “alle karakters is fiktief” op die winkelrakke verskyn het.
Johan Castelyn word, na twee jaar gevangenskap in Togo, aangesê om te spioeneer op die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Nerine Cloete, nadat president Dube besef sy staan op die punt om ’n wapenskandaal oop te vlek. Alhoewel die president ontken dat hy ooit in Parys was, word daar eksplisiete foto’s gevind van hom en ’n prostituut tydens sy besoek aan die Franse hoofstad. Die twee intriges vloei deurlopend parallel met mekaar tot teen die einde van die roman waar hulle – haastig en onvolledig – ineen vloei.
My grootste probleem met In Landsbelang is dat die karakters geensins gemotiveerd optree nie en gedurende die roman selfs plat en oppervlakkig voorkom. Alhoewel die roman goeie niefiktiewe gegewens bevat, is die dialoog stram en die karakterisering onvolledig en onwaarskynlik. So word ’n stelling soos “Die ou het my probeer doodskiet” byvoorbeeld beantwoord met “Dit is baie erg, maar ons gaan dit daar moet laat.”
Ek vind dat ek gedurig tydens die verhaal die vraag vra: Sal ’n karakter werklik so optree in so ’n situasie? Sal ’n karakter met sy handpalm op sy bors slaan as hy, verontwaardig, na homself verwys, of sal hy op sy bors slaan met sy wysvinger? Dit is belangrik dat handgebare en ander spontane reaksies goed en waarskynlik uitgebeeld word, maar hulle word in hierdie roman ongelukkig nie realisties genoeg beskryf nie. Lesers geniet tog karakters met wie hulle hulle kan vereenselwig, maar In Landsbelang slaag ongelukkig nie daarin nie.
Swak redigering is aan die orde van die dag; die teks is propvol anglisismes (“moment”, “konklusie” en “kompromitterende posisies”), wat tog sekerlik deur beter Afrikaanse woorde vervang kon word (oomblik, slotsom, ens ens). Die Suid-Afrikaanse nasionale voël, die bloukraanvoël, word ook na verwys as die “bloukransvoël”. Hoe het so iets die uitgewersoog gemis?
Die roman slaag dalk feitelik, maar karakters en gebeure word ongelukkig nie lewensgetrou genoeg uitgebeeld nie. Die taalgebruik is ietwat styf en die sekstonele kom voor asof die skrywer self effe ongemaklik was tydens die skryf daarvan.
Karakters tree ook ongeloofwaardig op tydens hoogtepunte van die storielyn: Nerine Cloete se naïewe en selfbewuste houding kom nie ooreen met die karakter wat Van der Merwe aanvanklik vir die leser geskets het nie; karakters tree ongeloofwaardig op tydens die spanningsvolle tonele, soos byvoorbeeld om te “skree” terwyl die karakters in ’n besonder spanningsvolle oomblik reg langs mekaar staan en nie noodwendig sal wil aandag trek nie.
In landsbelang kon, met ’n bietjie meer fiksie en ’n bietjie minder navorsing, ’n baie lekker spanningsverhaal gewees het, maar ongelukkig bereik die spanningstonele nie vir hierdie leser die gewenste hoogtes nie. Die styl en die storie is bloot nie boeiend genoeg nie.

