In gesprek met ... Cyrille Fijnaut

  • 0
Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Cyrille Fijnaut is ’n Nederlandse kriminoloog. Hy was tussen 2001 en 2011 professor in internasionale en vergelykende strafreg aan die Universiteit van Tilburg. Die speerpunte van sy akademiese betrokkenheid is georganiseerde misdaad en terrorisme, internasionale polisiëring en geregtelike samewerking, vergelykende regsprosedures en polisiewet. Hy het al honderde artikels en ’n hele klomp boeke oor hierdie onderwerpe geskryf. Toe hy onlangs ’n praatjie gehou het oor die polisiedienste en geregtelike samewerking tussen België en Nederland, het hy na die tyd vertel dat hy Suid-Afrika in 1992 besoek het. Hy was lid van die Goldstone-kommissie. Die Goldstone-kommissie is destyds deur Nelson Mandela in die lewe geroep. Mandela was uiters besorg oor wat met die polisiediens moes gebeur tydens die politieke omskakeling van die apartheidsregering na ’n nuwe demokrasie.

Fijnaut is destyds deur sy kollega, Dirk van Zyl-Smit, dekaan van die regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad, uitgenooi. Sy kennis oor polisiëring in Europa sou ten dienste van die Goldstone-kommissie aangewend word. Hulle het onder leiding van regter Richard Goldstone gewerk. Ander deskundiges met wie Fijnaut in die kommissie saamgewerk het, was Philip Heyman van Harvard, Clifford Shearing van die universiteite van Toronto en Wes-Kaapland en Don Foster van die Instituut van Kriminologie aan die Universiteit van Kaapstad. Reeds by sy aankoms was Fijnaut goed ingelig en kon hy name soos Max de Preez en Allister Sparks posisioneer binne die pers. Hy het artikels oor die politieke stand van sake gelees in die Vrye Weekblad, The Argus, The Guardian Weekly, The Weekly Mail en Die Burger. Hy het ook vooraf Amnestie Internasionaal se rapport oor Suid-Afrika, A State of Fear, grondig bestudeer.

Cyrille Fijnaut (Foto voorsien).

Wat was u eerste indrukke van Suid-Afrika destyds?

Die uitgestrekte plakkerskampe wat onder die vliegtuig deurgeskuif het, het my oë laat rek. Ek wou graag dadelik ’n plakkerskamp besoek, maar dit was nie maklik nie. Van Zyl-Smit het my gewaarsku dat so ’n besoek ’n onherroeplike skok sal wees, want dit is ’n derde wêreld binne-in ’n eerste wêreld. Of soos Shearing dit opgesom het: Suid-Afrika is die wêreld in die kleine … My besoek is ’n keer uitgestel met die verskoning dat dit sogenaamd te “nat” was, maar ek vermoed dit was omdat ek die vorige dag ’n vraag aan Inkatha gestel het oor die gebrek aan tradisionele wapens by Zoeloe-ANC-lede. Inkatha het hierdie tipe wapens as deel van hulle Zoeloe-tradisie verdedig. Ek het toe gewonder of ek as “gevaarlik” gemerk is. Uiteindelik het ek wel ’n plakkerskamp besoek met huisies van karton en sink in allerhande kleure en vorms, afgryslike “squatter camps” in die modder, groepe mense wat probeer het om warm te word om klein vuurtjies, maer honde… Die werklikheid was nog onthutsender as die televisiebeelde! Later het Beauty Hofmeyer van die Legal Education and Assistance Projectteenoor my beweer dat 98% van die blankes nog nooit in ’n plakkerskamp was nie. Hulle het geen idee gehad het hoe dit daar lyk en wat daar afspeel nie.

Ek was verbyster om op die lughawe te sien hoe ’n goedgeklede, swaargegrimeerde blanke vrou met ’n kopknik ’n onbekende swart seuntjie nadergewink het om haar tas van die bagasieband af te tel en op haar trollie te sit. Hy het dit gewillig en met ’n glimlag gedoen, sonder om teë te praat. Toe dit blyk dat dit die verkeerde tas was, het hy ewe gewillig dit weer teruggesit en later die regte tas vir haar opgetel. Ek wou ingryp. Ek kon die vriendelikheid van die seuntjie en die armes wat hy later vir my verteenwoordig het, nie verstaan nie. ’n Paar soortgelyke insidente het tydens my besoek voorgekom. Dit was verwarrend. Ek het my oriëntasie verloor.

Die gesprekke met gewone blankes wat beweer het dat hulle nie geweet het van die geweld en moorde in die plakkerskampe nie. My kollega Shearing het dit beskryf as die “wir-haben-es-nicht-gewusst”-sindroom van institusionele hipokrisie. Die omvang van sensuur op die pers en die gevolglike gebrek aan algemene kennis aangaande geweld onder geskoolde blanke burgers kon ek nouliks bevat. Die hele sisteem het blykbaar die individu “beskerm” teen die sigbare en hoorbare gevolge van apartheid. Dit was dinge waarvan wat ek in Nederland soveel kon lees, sien en hoor as wat ek wou.

Die aggressie en gewelddadigheid van die polisie wat in video- en kamerabeelde tydens die vergaderings van die Goldstone-kommissie vertoon is, was vir my buitensporig. Dit het vir my gelyk asof die polisie soos die brandweer opgetree het: hulle was hoofsaaklik onsigbaar, maar het opgeduik waar dit lyk asof gevaar dreig – soos by stakings. Vreemd genoeg het die onderhandelaars van die polisie slegs beelde van massabyeenkomste, massaoptogte, stakings en betogings gewys sonder ’n enkele polisieman in beeld. Ek was verbaas oor dié eensydigheid, want polisieoptredes tydens sulke byeenkomste was nou juis my vakgebied waarvoor ek gekom het. So gebeur wir haben es nicht-gewusst dus. Die woord “bloedbad” is meerdere kere gedurende ons werksaamhede geopper. Dit het vir my gevoel ons sit op ’n vulkaan wat enige oomblik kan uitbars of in die kroeg van dieTitanic wat enige oomblik kan sink.

Van waar af het die Goldstone-kommissie gefunksioneer?

Dit was nogal ’n besonderse ruimte: die gevangenis wat gedurende die negentiende eeu deur die Engelse gebou is om opstandige boere in toe te sluit. Toe ek daar was, was die “business school” van die Universiteit van Kaapstad daarin gehuisves. Argitektonies was dit ’n geslaagde transformasie. Ek sou nogal graag so ’n tipe skool met sulke selgange aan die Erasmus Universiteit in Rotterdam wou sien! Maar ook sosiaal was die transformasie hier geslaagd, want die volledige personeel was gemeng. Dit was baie anders as apartheid in die samelewing daarbuite.

Wat het die taak van die Goldstone-kommissie behels en wat was u spesifieke werk?

Ons moes ’n memorandum vir die Goldstone-kommissie saamstel. Dit is aan die betrokke partye (byvoorbeeld die polisie en die ANC) voorgelê in ’n openbare aanhoorsitting, waartydens hulle opheldering kon vra oor bepaalde punte en dit vir twee dae kon bestudeer. Daarna kon alle partye hulle standpunte verduidelik en kon ons weer daarop in ’n samevattende rapport reageer, wat regter Goldstone bekend sou maak.

Vrae wat baie bespreking uitgelok het, was byvoorbeeld: 1) Wat is die verpligtinge van mense wat ’n betoging wil organiseer? 2) Watter owerheid moet die bevoegdheid kry om voorwaardes te stel aan die organiseerders? 3) Moet organiseerders en betogers strafregtelik aanspreeklik gehou word vir skade as gevolg van ’n betoging? 4) Aan watter norme moet die uitrusting en bewapening van die polisie by betogings en massaoptredes voldoen? 5) Is dit nog langer aanvaarbaar dat rubberkoeëls gebruik word om op betogers te skiet wat nie na die polisie wil luister nie? 6) Hoe moet die polisie optree as betogers owerheidsgeboue beset?

My standpunt dat die volledige samewerking van ’n samelewing die belangrikste voorwaarde is vir ’n vreedsame en demokratiese polisie, is dadelik aanvaar. Maar my versoek vir ’n internasionale ondersoek na politieke moorde is van die hand gewys, omdat die onderwerp blykbaar te sensitief was en dit die politieke gesprek sou belas. Ek is gewys op 2 240 politieke moorde in 1991, maar ook op 137 polisiemoorde in dieselfde voorafgaande jaar. My kollega, Foster, het egter saamgestem met die idee van “policing the police”.

Die polisiediens moes myns insiens volledig hervorm word met die volgende maatreëls: nuwe opleiding vir beide laer en hoër range; ’n gesuiwerde samestelling van die offisierskorp; nuwe polisiebeleid en transformasie van die spesiale eenhede. ’n Onderdeel van opleiding sou daarop toegespits moes wees om polisielede se vermoë tot selfkritiek te verskerp. Daarby het ’n bereidheid om in die openbaar verantwoordelikheid vir polisieoptredes te neem, gepas. Verder moes polisielede leer om te onderhandel by massaoptredes, betogings en stakings. Die grense van toleransie by sulke optredes moes in ’n eenvoudige en bruikbare lys vir die polisiemanne opgestel word.

My opmerking dat dergelike veranderings in die polisiediens net suksesvol deurgevoer kon word in die breër opset van politieke verandering en ’n herindeling van ekonomiese welvaart, het byval gevind. Die verteenwoordigers van die polisie was uiteindelik bereid om die beginsels, reëls en prosedures van die Goldstone-kommissie se rapport te onderteken, maar sonder om die polisie se rol daarin te erken. Wat die polisie in die verlede gedoen het, het hulle blykbaar gedoen omdat die regering dit van hulle verwag het. Hulle het met die ondertekening geen verantwoordelikheid vir enige geweld in die verlede geneem nie. Maar ook die ANC het hulle nie uitgespreek téén die gebruik van geweld in die polisiediens van die toekoms nie.

My kollegas van destyds se oë het gerek toe ek vertel het van my persoonlike Fragmente van een dagboek wat ek bygehou het. “Dit sal seker nooit volledig gepubliseer word nie,” het ek gesê. Nou kan u tog as onderdeel van hierdie onderhoud ’n samevatting daaruit weergee.

Miskien het u met u ervaring van daardie tyd ’n geldige boodskap vir die Suid-Afrikaanse polisie van vandag?

Ja, ek dink so. Ek bly by my standpunt van destyds dat die teenstelling arm-ryk gevaarlik is. Dit lyk vir my asof die groot sosioëkonomiese verskille in Suid-Afrika nog nie uitgewis is nie. Verstaan my mooi: armoede ís nie geweld nie, maar armoede skep vakuums vir potensiële wetsoortreders. En die werklikheid het my geleer dat vakuums in ’n samelewing altyd gevul word.

Sigbare polisiëring laat geen ruimte toe vir die invulling van dergelike vakuums deur misdaad en geweld nie. Die polisie moet indringend aanwesig wees in die openbaar. Hulle moet nie soos ’n brandweermag net toeslaan by massabyeenkomste, optogte of betogings nie. Geweld op straat moet voorkomend onderdruk word. Die geskiedenis van die Europese polisiedienste in die negentiende eeu het dit vir my geleer. Daar bestaan werklik iets soos ’n vreedsame en demokratiese polisie.

Ek het Nederland, België, Duitsland, Frankryk, Oostenryk, die Verenigde Koninkryk en Ierland se polisiekorpse oor tweehonderd-en-vyftig jaar bestudeer. Die polisie volg eintlik altyd die bestaande mag, maar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAP) het tog ekstra ondersteuning nodig gehad in ’n land waar daar ’n honderd-en-tagtig-grade-omkeer van mag sou plaasvind.

Daar is ’n verskil van twintig jaar tussen u bydraes in die Goldstone-kommissie met betrekking tot polisiëring by stakings en die polisie se optrede by die Marikana-mynstaking. Wil u daarop reageer?

Die SAPD se optrede was vir my pynlik en teleurstellend. Die werklikheid van hierdie Marikana-insident “klopt niet” met wat ek graag destyds wou oordra nie. As u my toelaat, wil ek graag die volgende paar vrae aan u lesers stel: Hoe moet die bevelvoering oor en in die polisie hervorm word om die herhaling van so ’n bloedbad te voorkom? Wat moet werkgewersorganisasies en vakbonde doen om in die toekoms hulle onderlinge konflikte op ’n vreedsame manier op te los? Watter rolle moet die plaaslike bestuur en die openbare ministerie speel in die begeleiding van die polisie by die voorkoming en beheer van ernstige ordeversteuring?

Suid-Afrika is vir my ’n pragtige land met ingewikkelde probleme waarin die vriendelike bevolking ondanks inisiatiewe soos die Goldstone-kommissie, tergend stadig leer om hulle probleme op ’n vreedsame manier op te los.

Fragmente van een dagboek – Kaapstad, 4-16 Julie 1992 (voorsien)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top