In die tyd van korona
Die jaar het skaars begin
en ek wens al dis verby
nes ek wens dat Covid-19
in sy kar sal klim en ry
Hy’t net hier ingestorm
soos ’n ongenooide gas
en seker gemaak die lewe
sal nooit weer wees wat dit was
Hy verwoes en vernietig families
hy bring ondraaglike pyn
en die seer daarmee gepaard
is ’n seer wat nooit verdwyn
Die regering maak leë beloftes
ons weet nie meer wat om te glo
ons bid en vestig ons hoop
op die onsigbare Man van Bo
Oud en jonk ly honger
met hul katte en honde en al
as die mense by Sassa gaan toustaan
lyk dit die polisie raak mal
Wat moet die arme mense eet?
Talle sit sonder werk
’n pastoor wat graag wil preek
word verbied by sy eie kerk
Niks sal ooit weer normaal wees
soos ek en jy dit onthou
ons glimlag nie meer so gereeld
elke dag word daar gerou