
Foto: Canva
In die leegtes
In die leegtes
van stille oomblikke,
op uitgestrekte vlaktes van niks,
dwaal ek soms
verby jou, verby my
op soek na iets
wat ek iewers verloor het
in my eie woestyne
toe my dors te groot was.
Toe liefde moeg geword het
en langs my kom lê het
stil, aan die slaap
in nagte sonder rus,
in ’n bed wat te klein is
vir drome wat nie wil bly nie.
En ek verdwaal
in hierdie doolhowe
wat wegdraai
van al my hoofpaaie,
terug na gisters
vol afskeid,
vol groete
en ’n groot gemis.
Want só is dit
wanneer gedagtes val.
Mense wat weg is,
is weg.
Niks bring hulle terug nie.
En tog,
hier in ons harte
bly daar leegtes
waar hulle woon,
waar hulle soms weer aanklop.
Ons weet dit.
Ons harte weet:
Wanneer hulle verbykom,
bly hulle net ’n rukkie
fluister dat hulle verstaan,
dat ons moet aanstap
op ons eie pad.
Hulle wag
vir die groot weersien,
eendag
by ons ewige tuiste.
En intussen reis ons aan,
deur die leegtes,
deur die woestyne,
met hulle stil teenwoordigheid
nog altyd
in ons.

