Mukiwa: A white boy in Africa

  • 0

Met sy berigte en boeke oor Suider Afrika het die joernalis Peter Godwin plaaslik bekendheid verwerf. Hy is bv die outeur van Wild at heart: Man and beast in Southern Africa, waarvoor Nelson Mandela die voorwoord geskryf het. Hieruit blyk dat hy aanvaar word in wat seker "progressiewe kringe" genoem kan word. Hy geniet 'n tweeledige voordeel. Hy het in Rhodesië grootgeword en ken dus die omgewing beter as 'n buitestander. Maar hy hoef deesdae nie meer daagliks met die plaaslike omstandighede saam te leef nie omdat hy eers na Brittanje en daarna na die VSA uitgewyk het. "I longed to live in a safer place, a place where there weren't so many dangers to spoil my fun" (bron hieronder, p 138). Benewens vandag se boek, gaan ek volgende week nog twee van Godwin se boeke oor Rhodesië/Zimbabwe bespreek. Daarna, op Maandag 30 deser, kom Godwin se jongste boek, The Fear (2010), aan die beurt. Ek hoop dat Wouter, ingevolge ons ooreenkoms, dan ook sy siening oor laasgenoemde boek sal gee.

In hierdie skrywe beperk ek vervolgens my aandag by Mukiwa: A white boy in Africa (London: Macmillan, 1996, 418p). "Mukiwa" verwys na die ligpienk kleur van 'n wildevy, dus Godwin se velkleur (p 128). Wit mense is "wakiwa" genoem en wit Zambiërs "Zamboons" (p 148). [Wittes, anders as swartes, mag blykbaar enigiets genoem word sonder dat dit as rassisties of beledigend geag word.] Die boek handel oor Godwin se jeugjare in Rhodesië, insluitende die bosoorlog. Dit is opvallend hoe baie ooreenkomste daar tussen die optrede van die terreurbendes in Rhodesië (Mugabe se ZANLA en Nkomo se ZIPRA) en Suid-Afrika (ANC en PAC) was. Ook in hoe 'n groot mate Suid-Afrikaners en veral Afrikaners betrokke by die ontwikkeling van Rhodesië was. Godwin ken uiteraard baie Afrikaanse woorde.

Een van sy eerste vriendinne was Afrikaanssprekend. "I became a fervent admirer of the Afrikaners. After all, they were real white Africans ... I began to wish that I was an Afrikaner with a solid identity and I even started spelling my name the Afrikaans way – Pieter" (p 187). [Die rugby-afrigter van die Springbokke het die teenoorgestelde gedoen deur van Pieter na Peter de Villiers te vorder.] In 1923 kon hierdie gebied, toe bekend as Suid-Rhodesië, as die vyfde provinsie by Suid-Afrika ingelyf gewees het, maar die meerderheid kiesers het daarteen gestem.

Godwin is in 1957 in Salisbury (Harare) gebore. Sy ouer suster Jain is in 1978 tydens die bosoorlog by 'n padblokkade gedood. Maar hy beklemtoon graag die voortgesette politieke verligtheid in sy ouerhuis. "There really wasn't much room in the middle in Africa." Godwin wou bekend wees as "a friend of the black man" (p 195). "'What you doing?' ... 'Being friendly to the natives,' I replied" (p 250). As mediese dokter was sy ma dekades lank betrokke by die gesondheidsorg van hoofsaaklik swartes.

Nadat die swartes in 1980 die bewind in Rhodesië oorgeneem het, het Gowin geneig om selfs meer verlig te word. "You know, I'am sorry. About the war and everything" (p 333). [Dieselfde verskynsel het hom in Suid-Afrika voorgedoen met bv Broederbonders wat 'n Damaskus-ervaring ondergaan het.] Die land se naam is na Zimbabwe verander. Plek- en straatname is eerder verander as om hulle in stand te probeer hou. In die buurland Mosambiek het politieke onafhanklik (in 1975) soortgelyke gevolge gehad. Oor Beira skryf Godwin: "Most of the graceful avenues of flamboyant trees had been hacked down for firewood" (p 390). In Zimbabwe is "black townships" voortaan "high density suburbs" genoem (p 342) en die "Tribal Trust Lands" het "Communal Areas" geword (p 349). Die staatsdiens, weermag, polisie, ens, (eintlik alles) is geafrikaniseer.

"A time when old value systems had been up-ended and old devils had suddenly become gods; when witch doctors became traditional healers and formed their own trade union; when servants insisted on being called domestic workers, joined the Party, acquired a surname and demanded the minimum wage. When you could be prosecuted for calling a black adult 'boy' and thrown in jail if you breathed the word k----r" (p 326; laasgenoemde is die Arabiese woord vir 'n nie-gelowige, dus nie-Moslem).

Teen die einde van die boek vertel Godwin van hoe hy trane gestort het "at the impermanence of my family in Africa. At our silly misguided attempts to fashion the continent to our alien ways" (p 399). Hierdie "alien ways" is voorheen (bv deur Ian Smith) "civilized western standards" genoem (p 183). Hy besoek die Umtali-Melsetter gebied (in die ooste, aan die Mosambiekgrens) waar hulle lank gewoon en wittes met harde werk en baie opoffering plase uit die ongerepte natuur geskep het. "Melsetter wasn't Melsetter any more, of course" (p 405). Dit heet nou Chimanimani. Die monument wat die wit pioniers gehuldig het, het verdwyn. "The war had purged Melsetter of settlers" (p 406). Tydens en selfs tot kort na die oorlog het hierdie wittes in 'n waan verkeer: "They hoped that their liberal reputation and openness would be their best defence" (p 407). Die wittes wat nie vermoor is nie, het padgegee. "Now it is all resettlement area here for black farmers" (p 412).

Godwin gesels met 'n oud-guerrilla-vegter wat nou boer op wat oorgebly het van wittes se plase. "He was obviously thriving now, he was a member of the National Assembly, and he sat on a special committee looking at the future of land reform" (p 415). 'n Mens sou dink Godwin weet die verskil tussen 'n plaas met infrastruktuur en 'n stuk ongerepte grond; dat beslaglegging sonder vergoeding op plase iets anders as die herverdeling van grond aan grondhongeriges is. 'n Mens sou dink hierdie oud-soldaat van die Rhodesiese weermag gaan ten hemele skreeu oor die onreg wat voortreflike wittes aangedoen is. Maar wat wil hy eerder doen? "I wanted to apologize to him – admittedly more for my own benefit than his" (p 414).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top