Soms wonder ek of ’n mens nog iets goeds van religie kan sê. Dit sal mos darem niks kwaad doen nie, of hoe? Religie was al daar vir eeue lank, en as ek elke ou gelofie so ’n pluimpie kan gee, sal die gelowiges 'n bietjie beter voel.
Kom ek begin by Hindoeïsme. Divali vier hulle met vuurwerke wat pragtig vertoon teen die donker hemelruim. Nie alleenlik is dit mooi nie, maar dit hou ook die honde stil. Geen Hindoe het al ooit aan my voordeur geklop met pamfletjies om my van sy geloof te oortuig nie. Hulle vegetariese disse is nie te versmaai nie.
Mohammedanisme. Hierdie geloof het bewys dat geloof ’n gevaarlike ding is, en daarvoor is ons hulle innig dankbaar. Hulle het ook ’n pragtige simbool van die sekelmaan en ek is hulle innig dankbaar dat hulle nie ’n bloederige lyk daaraan gaan vasspyker het nie. Ek het al films gesien van hulle dienste, en dis te pragtig as duisende van hulle so gesinchroniseerd platval. Wat ek ook van hulle hou is dat hulle nie Christene is nie.
Wat ek hou van die Christendom is dat hulle nie Moslems is nie. Ek dink dis wonderlik van hulle. Wat ek ook van hulle hou is dat hulle nie meer mense vermoor wat nie soos hulle dink nie. Ek is hulle innig dank verskuldig dat hulle nie meer volgens die Bybel leef nie. Hulle eet lekker aan die varkvleis wat my ou plasie daar naby Estcourt verskaf, veral noudat bees en skaap so ongoddelik duur is, en hulle gooi nie meer hulle stout kinders met klippe dood nie. Al wat hulle nou doen is om hulle teenstanders ’n geween en gekners van tande toe te wens, maar dis ook al, want dis so nikswerd soos bid. Hulle is ook meer toegewend teenoor die wetenskap. Onlangs het hulle vir arme Galileo om verskoning gevra vir wat hulle hom aangedoen het. Dit het die Rooms Katolieke kerk vyf honderd jaar geneem om tot so ’n stap oor te gaan. Dit wys jou net dat hulle dinge fyn oorweeg voordat hulle reageer; dis nie sommer hals oor kop dinge doen nie.
Wat ek hou van Judaïsme is dat hulle ook maar stil is en nie hulle geloof op jou afdwing nie. Van die drie woestyn gelowe of Abraham gelowe, is hulle die geduldigste. Hulle is die oudste, maar wag nog steeds op die Messias. Dis ook ’n heel humoristiese geloof, want ek is seker as die Messias vandag moet verskyn, sal hulle hom weer vasspyker.
Wat wonderlik is van Boeddhisme is dat dit ’n geloof is sonder ’n god, maar verder weet ek nie wat ek van hulle kan sê wat goed is nie, want hulle karma het al baie aardbewings die laaste ruk veroorsaak.
Nog ’n goeie ding wat ek van religie kan sê, is dat dit so absurd is, dat een of ander tyd die kollektiewe intelligensie van die mens dit sal ontmasker as ’n wrede skepping van die verbeelding, en dan is ons hopelik ontslae daarvan.
Groete
Angus


Kommentaar
Nog eens ’n kolskoot Angus!
Wat my tans bekommer is die aanslag teen die jeug. Godloosheid is die oorspronklike staat en godsdiens is ’n aangeleerde afwyking. Om die Evangelie aan kinders te verkondig; om kinders te leer om die Koran woordeliks voor te dra; om kinders te doop; om kinders te besny, is niks minder nie as molestering en ’n misdaad teen kinders. Voltaire se opmerking is baie toepaslik.
“We see that these tales have been written by fools, commented upon by simpletons, taught by knaves, and given to children to be learned by heart; yet the sage is called a blasphemer because he becomes indignant, and is irritated at the most abominable fooleries that ever disgraced human nature.”
So ’n skandalige aanslag op die ontwikkeling van die individu behoort in elke moderne demokrasie met afgryse verwerp te word. Kinders verdien respek.
Panda
Ek sien jy sukkel ook maar om iets goeds van geloof te sê. Ek het heeltemal misluk daarmee.