Daar is Steven Pinker (gebore in 1954) wat eerder 'n kognitiewe wetenskaplike as 'n sielkundige genoem kan word. Hy is deur bv Noam Chomsky, Daniel Dennett en Richard Dawkins beïnvloed, maar hy slaag daarin om 'n eie stempel op sy werk af te druk.
Dan was daar Harold Pinter (1930-2008) wat as dramaturg, draaiboekskrywer, regisseur, toneelspeler en orator bekendheid verwerf het. In 2005 is die Nobel-prys vir letterkunde aan hom toegeken. Hoewel sy literêre vermoëns nie betwyfel word nie, is dit nogal moeilik om verering vir hom as mens te hê vanweë sy arrogansie, wat dikwels in onbeskoftheid uitdrukking gevind het. "Mrs Pinter confirms that they never had another [child] because Harold was so difficult" (bron hieronder, p 104).
Pinter is in 1956 met die aktrise Vivien Merchant (1929-1982) getroud, maar hulle is in 1980 geskei. In 1958 is hulle enigste kind, Daniel, gebore. Die parlementslid Hugh Fraser (1918-1984) is in 1956 met Antonia Pakenham (gebore in 1932) getroud en hulle is in 1977 geskei. Hulle het ses kinders gehad. Sedert 1975 het Pinter en Antonia Fraser saam gewoon. Hulle het in 1980 getrou.
Antonia Fraser het 'n tiental boeke oor historiese onderwerpe gepubliseer. Haar jongste boek is Must you go? My life with Harold Pinter (London: Phoenix, 2011, 392p). Die titel is ontleen aan die vraag wat Pinter op die dag van hulle ontmoeting aan haar gevra het (p 5). Sy gebruik dit ook as sluitstuk vir haar boek. Oor Pinter se dood aan lewerkanker na baie lyding, skryf sy: "Must you go? Yes, it was time" (p 392).
Met ses kinders was dit vir die outeur geen maklike besluit om te skei nie. "For the first time I faced up to what another life would be like and whether it could ever exist" (p 16). "I wonder whether I am capable of uprooting myself for anyone" (p 25). "I never knew I had it in me to break my marriage" (p 95). Maar Pinter het haar met sy sjarme en gedigte oorweldig: "My heart is not a beat away from you ... Everything we do / connects the space / between death and me / and you" (p 11-12, 92). Pinter: "You have given me a sense of the present, the happiness of the present. I've never had that before" (p 131). Fraser: "All I can do is shelter you under the wide umbrella of my love" (p 259).
In sy latere jare het Pinter al hoe meer by politieke aktivisme betrokke geraak. Hy het die bestaansreg van Israel erken, maar baie simpatie met die Palestyne gehad. Hy het die romantiese idee gekoester dat Israel nie so militant hoef te wees nie. Pinter was ook by die anti-apartheidsbeweging se kulturele boikot van Suid-Afrika betrokke, waarvolgens Britse dramas, radio- en televisieprogramme, ens, nie beskikbaar gestel is nie. Maar hy het myns insiens reg gehad met sy simpatie vir die Koerde, Korsovare en Oos-Timorese. "Harold remained a resolute defender of the Serbs as being unfairly victimized" (p 244). "He loves speaking out against the established order" (p 178). Die uitgangspunt van sy politieke uitsprake was: "The-artist-is-also-a-citizen" (p 230).
"It may seem odd to relate that Harold, a determinedly non-believing and non-practising Jew, and I, an aspiring if extremely imperfect Catholic, should have lived together for thirty-three years in perfect amity where religion was concerned" (p 224). Maar dit geld nie alle ander dinge nie. Fraser is lief vir swem, lank in die bad lê en om tydig en ontydig aan die slaap te raak. Haar resep vir hierdie outobiografiese vertelling is soos dié van Darcy in Jane Austen se Pride and prejudice (1813): "Think only of the past as its remembrance gives you pleasure" (p 357).
Soos in seker alle lewensbeskrywings is daar die verskynsel dat mense, bv die ouers (maar ook ander familielede, vriende en bekendes) sterf, dat die kinders trou en dat daar kleinkinders gebore word. Mense skuif in die werklikheid in maar ook daar uit. "Remember everything passes away" (p 45). By die Pinters was daar hoofsaaklik kontak met die opperklas. Baie bekendes se name word genoem. Een van hulle vriende was pas in die nuus: die dramaturg en oud-staatshoof van die Tsjeggiese Republiek, Vaclav Havel (5.10.1936-18.12.2011). Talle reise en luukse verblyf in eksotiese plekke word beskryf. Drankmisbruik speel 'n groot rol; dermate dat sowel Pinter se dood as dié van sy eerste vrou daaraan toegeskryf kan word.
Johannes Comestor

