Ian Wessels en Dan Roodt

  • 0

Interessante Loslip gewees Donderdag. Dit was 'n opvolg op die ene waar die bespreking gegaan het oor 'n vriend van Ian wat reken hy kon verder in die lewe gekom het as hy beter Engels kon gepraat het.

Hierdie opvolg was toe oor die slegte behandeling wat Ian na die program gekry het. Dan Roodt, onder andere, sou reken hy wat Ian is, is 'n Afrikanerhater en moet teen 'n muur gesit en geskiet word. Ian was erg gebelgd oor hierdie negatiewe reaksie teenoor hom, veral siende dat hy maar net die boodskapper was.

Nou't 'n vriend van Ian gewonder of dit 'n tipiese Afrikanerkaraktertrek is; is hulle oorsensitief wat betref kritiek en reageer dan histeries, só histeries dat hulle selfs die boodskapper aanval? Hierdie kwessie het Ian so gepla dat hy dit toe as onderwerp vir 'n Loslipprogram gekies is en wel die een van Donderdag.

In die eerste plek, ek twyfel of Dan Roodt ooit so-iets sou sê; dit is net nie sy styl nie. Dan sou 'n beredeneerde repliek gelewer het maar indien hy wel reageer het soos Ian beweer vra ek Ian om verskoning dat ek hom van hierdie wit leuentjie beskuldig het. Dan moes dan baie kwaad gewees het.

Hoe dit ookal sy, mens sou nou dink dat Ian, geskool in die regte, alle kante van 'n saak sou oorweeg. Dat hy sy vriend sou vra of hy nie dink dat, in die lig van die heksejag op Afrikaans – straat-, dorps- en plekname wat verdwyn, Afrikaanse universiteite wat verdwyn het, Afrikaanse skole wat besig is om te verdwyn, Afrikaans wat in die nasionale parke, staatsdiens, wyn- en kaaskultuur en openbare lewe uitgeskuif is, die soort van ding – dit nie verstaanbaar is dat die Afrikaner effens liggeraak kan voorkom nie?

Selfde met die eerste vriend, die ou wat reken sy bevordering is teruggehou omdat sy Engels nie so goed is nie. Mens sou dink Ian sou hom maan om bietjie selfondersoek in te stel, daar skort dalk iets heel anders. Aksent het niks met vermoë te doen nie; ek weet van Engelse wat met 'n hewige Engelse aksent van die hoogste sporte in Afrikaanse ondernemings bereik het. 'n Duitse aksent is byvoorbeeld gesog in die Engelse wêreld waar uitnemendheid in tegnologie, wetenskap en sielkunde voorgestaan word. Chris Barnard en Lou Alberts was nie gerem deur 'n Afrikaanse aksent nie trouens, hulle was besig om vir die Afrikaanse aksent te doen wat die Duitsers vir die Duitse aksent gedoen het.

As 'n ou minderwaardig voel gaan die aanleer van wat hy as sy meesters beskou se aksent hom nie help nie. Wat nog erger is, hy gaan hierdie minderwaardigheid oordra aan sy kinders en van hulle tweedehandse Engelse maak deur hulle in 'n Engelse skool te sit. Hulle sal vir ewig daarmee saamleef dat hulle uit 'n minderwaardige agtergrond kom want hoekom anders sou hulle pa tot so 'n stap oorgegaan het; hoe meer kan bewondering en gedienstigheid dan nou weerspieël word as deur nabootsing?

Ian het nie een van hierdie twee vriende reggehelp nie maar hulle 'bekommernisse' as besprekingspunte oopgegooi. Hy is duidelik nie slegs die boodskapper nie. Kan jy jou byvoorbeeld indink dat, sou 'n ander vriend van hom nou wonder of, in die lig van die papiere en plastieksakke in en om die townships en taxistaanplekke, mens nie dalk kan aflei dat townshipbewoners en taxiryers meer geneig tot rommelstrooi as ander mense is nie, hy dit as 'n besprekingspunt sou aanbied? Dieselfde ten opsigte van protesoptogte en beskadiging van eiendom; sou hy reken dit kom duidelik meer onder sekere mense as ander voor en dit as Losliponderwerp aanbied? Nooit as te nimmer nie.

Maar verder hou ek van ou Ian, ten spyte van sy transformasie-onderrok wat so ver uithang. Hy praat mooi suiwer Afrikaans en hy behou wonderbaarlik sy geduld met mense wat van die onderwerp afwyk.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top