Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Interessante poging tot selfdefiniëring van die Afrikaner

  • 0

Titel: Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke
Samestellers: Albert M Grundlingh en Siegfried Huigen
Uitgewer: SUNPReSS
ISBN: 978-1920109-54-7)
Publikasiedatum: Desember 2008
Aantal bladsye: 217


Aangesien ek onlangs by die jaarlikse KKNK was, is my geheue nog vars gebombardeer deur die amper onnatuurlike dosis "Afrikanerismes" waaraan mens elke jaar daar blootgestel word. Dit het vir my gevoel asof die oorgrote meerderheid van die gesprekke wat ek met vele mense gehad het, ? element van Afrikanerselfbewustheid bevat het. Storievertel is nie meer net blote vermaak nie, maar ? integrale deel van Afrikanerwees. Teaterstukke wat kontroversieel is, is goed omdat dit die grense van Afrikaanse kultuurprodukte verder verskuif, of sleg omdat dit die moraliteit van die volk verswak. Ons praat maar liewers nie oor musiek nie ...

Die punt wat ek wil maak, is dat alhoewel hierdie selfondersoek seker normaal is vir ? Afrikaanse kunstefees, die praktyk van selfondersoek, veral as dit by Afrikaners kom, skynbaar al hoe meer algemeen raak.

Dit het sekerlik ook te make met die historiese skuif vanaf die politieke kern tot die politieke periferie, wat gelei het tot ? skynbare vrees dat die Afrikaner se kultuur in gedrang is (myns insiens is Afrikanerkultuur - wat ook al daarby ingesluit kan word - aan die groei). Met dit in gedagte, besef ? mens die nuttigheid van ? boek soos Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar.

Die boek is, in ? neutedop, ? multidissiplinêre ondersoek na areas in die Afrikaanse volksgeheue waarin sekere wortels van Afrikaner-identiteit opgesluit lê. Die wye bestek daarvan dien as ? sensitiewe benadering tot die kompleksiteit van die konsep van identiteit. Dit is natuurlik onmoontlik om alle identiteitsmerkers te identifiseer, maar ten minste dien hierdie boek as waardevolle platform sonder om onnodiglik pedanties te raak.

"Geheue" verwys in hierdie geval na areas van afkoms (nie noodwendig fisiese plekke nie, maar eerder plekke van nostalgie), areas waarvan sommige aan die verdwyn is. Die gevoel wat ? mens kry is dat, aangesien sommige van die herinneringsplekke wat in die boek ondersoek word, al hoe verder weg beweeg in die geheue, die boek as ? tipe reddingspoging daarvan dien. Om dit nou op te teken voordat dit verdwyn, dien as dokument sodat sekere aspekte van Afrikanerwees nie vergeet sal word nie.

Soos van die titel afgelei kan word, is die boek se aandag egter nie net gesetel in die verre verlede nie, maar ondersoek dit ook die Zeitgeist van vandag se Afrikanerjeug, en die moontlikheid van ? herappropriasie van die betekenis van volksimbole wat die kultuur in nuwe rigtings instuur. Ek het nogal die uiteenlopendheid van die skrywers se invalshoeke geniet - van windpompe tot maaltye, bediendes tot boeremusiek, wat enigiemand wat hierin belangstel, ? goeie, breë vertrekpunt van hul selfontdekkingsreis gee.

Wat ek ook waardeer, is die insluiting van elemente rakende "bruinwees". So dikwels word daar ? skeiding geforseer op "bruin" en "wit" Afrikaanssprekendes - so asof ons onderskeie verledes niks met mekaar te doen gehad het nie. Die insluiting hiervan dien egter bloot as ? "landskapskets" van Afrikaners se verlede(s), aangesien die grootste gedeelte van die boek uitsluitlik handel oor "wit" Afrikaanssprekendes, met die dekonstruksie van "witheid" (en meer spesifiek "wit Afrikanerwees") as sentrale vertrekpunt.

Dit gesê, speel politiek nie ? rol in die boek nie. Ook nie geloof nie. Enige verwysings daarna is toevallig. Hierdie twee monoliete wat altyd so sentraal gestaan het in Afrikanerwees tydens die vorige eeu, is ewe skielik losgemaak daarvan. Hierdie proses is in lyn met meer moderne oorwegings rakende identiteit - waar die rol en invloed van strukture soos die kerk en staat op die konstruksies van identiteit bevraagteken word. Die ou NP/NG-selfdefinisie strook nie meer so maklik in vandag se Afrikanersamelewing nie ...

Nog ? belangrike punt is die skrywers van die onderskeie opstelle. Hulle verteenwoordig vele akademiese instellings en dissiplines en is almal kundiges op hul onderskeie gebiede, wat aan die boek ? sekere gewig gee (wat nou natuurlik nie beteken dat jy nie met hulle kan verskil nie!). Moet egter nie dink hierdie is boek net bedoel vir hoë akademiese bespreking nie. Dit is toeganklik én meestal interessant.

Wie het al ooit gewonder oor die geskiedenis van windpompe in Suid-Afrika - daardie ikoniese figure van ons landskap? Of die gewels van die "Kaap-Hollandse", of "Kaapse", boukuns (die argument rondom die spesifieke benaming word ook genoem)? Die boek dek baie grond, vanaf konsentrasiekampe tot lokasies, van "Abantu tot Ubuntu", van boeremusiek, Koos Kombuis en "De la Rey", tot Fokofpolisiekar - die lys is lank. Goed so.

Die poging is om te help met die selfdefiniëring van die Afrikaner, om hom te herinner aan sy verlede, en om ? prentjie te skep van waarheen hy op pad is, sonder om die rigting daarvan te versteur. Dit illustreer die feit dat Afrikanerwees nie maklik gedefinieer kan word nie. Dit is definitief ook nie staties nie, ? feit wat elke paranoïese volksbeskermer ? warm gevoel in sy/haar hart sal gee, en elke ander nuuskierige genoeg sal amuseer om die kulturele spasie wat die volk beset, fyn dop te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top