Trevor Manuel - 'n Lewensverhaal: deeglik, breedvoerig en empaties

  • 0

Titel: Trevor Manuel – ‘n Lewensverhaal
Skrywer: Pippa Green
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047247
Prys: R320

Dit moes in 2006 tydens sy antwoord op die begrotingsdebat gewees het dat Trevor Manuel ‘n opposisielid in die parlement giftig toegesnou het dat die staat nie bereid is om sy huishulp se salaris vir hom te subsidieer nie. Dit het nie gegaan oor ‘n koste-eise-skandaal soos wat onlangs in die Britse parlement gesien is nie. Nee. Dié arme vent het bloot die vermetelheid gehad om loonsubsidies voor te stel as ‘n manier om werkskepping te bevorder. Ten minste sedert 2007 word daar egter gereeld in die lanksdienende finansies-minister se begrotingstoesprake en middeltermyn-begrotingbeleidsverklarings van die moontlikheid van loonsubsidies melding gemaak.

Ten spyte daarvan dat werkskepping ‘n geweldige probleem in Suid-Afrika is en ‘n groot oorweging vir sy toenmalige portefeulje was, sal ‘n mens nie presies weet wanneer Manuel die betrokke opposisielid met sy tong gekwets het, wie die opposisielid was of hoekom manuel die latere gemoedsverandering ondergaan het ná jy die lywige en andersins hoogs gedetailleerde Trevor Manuel – ‘n Lewensverhaal agter die blad het nie. Eweneens is daar ook dié wat dit loop te vertel het dat Manuel dalk Suid-Afrika se finansies gedurende die langste periode van ononderbroke nasionale ekonomiese groei gelei het, maar daar nie vergeet moet word dat dit tydens besonder gunstige internasionale ekonomiese omstandighede was nie. In hierdie boek deur Pippa Green bly die fenomeen van Manuel ongekonfronteer deur daardie stemme.

Sou dit ongeoorloofde partydigheid wees wat dit verhoed het? Is dit moontlik uit onkunde oor ‘n neonasionalistiese trajek waarop Suid-Afrika hom sedert 1994 bevind, wat sienings buite dié van die regerende party s’n outomaties met ‘n laer vlak van legitimiteit beloon? Of was dit die oordrewe uitwerking van die outeur se self-erkende sensitiwiteit dat haar werk nie as ‘n politieke ingryping gesien moet word nie? Dit mag dalk geen van hierdie moontlikhede wees nie, maar die vermoede is tog daar dat dit iets te make het daarmee dat Green nie daardie kwaliteit wat sy self in ander biograwe ag (om die hede te bo te gaan, maar terselfdertyd te kan ignoreer), nie genoegsaam kon handhaaf om hierdie biografie waarlik ‘n grootse en volrond innemende werk te maak nie.

Dit is nie dat die werk nie oor talle aangrypende oomblikke beskik nie. Die afgryslike gevolge van apartheid word op ‘n geweldig menslike vlak met Manuel as die onderwerp van die biografie in verband gebring. Die vele bittersoet gevolge wat dit vir hom, sy geliefdes en sy vriende gehad het, word feitelik eerder as in prosastyl aangebied, maar dit verhoed nie die leser om emosioneel betrokke te raak nie. Dit bly, inteendeel, deurlopend ‘n redelik dinamiese leeservaring, omdat dit op hierdie wyse insig bied in Manuel se geharde opruiendheid as ‘n politiese en gemeenskapsaktivis, ten spyte daarvan dat hy geweldige gevaar in die gesig gestaar het. Die leser word dus amper gewys eerder as om met analise gevoer te word oor hoekom Manuel deur van sy felste kritici as ‘n finansies-minister met ‘n groot hart beskryf is, selfs al is hy somtyds so onnodiglik twisgraag en geneig om homself alleengesag toe te eien oor aangeleenthede waaroor hy geaffekteerd kan raak.

Daar is ook nie ‘n tekort aan werklik goeie geskiedkundige navorsing nie. Gebeurtenisse word deeglik gekontekstualiseer en geboekstaaf. Die lewensreise van verskeie ander openbare en minder openbare persoonlikhede word ook in verband met Trevor Manuel s’n aangebied. Ons ontmoet mense soos Popo Molefe, Mosiuoa Lekota, Cheryl Carolus, Maria Ramos, Manuel se moeder Philma, en sy eerste vrou, Lynne, opnuut.

Interessant, byvoorbeeld, is dat Manuel se burgerlike en politiese bewussyn vir die eerste keer werklik gestimuleer is toe sy vader Abraham hom op 13-jarige ouderdom geneem het om vir die Arbeidersparty stemme te werf. Na een van hierdie aande uit op straat is Abraham in sy slaap oorlede. Het Manuel dus as jong seun in sy politieke en burgerlike betrokkenheid volhard omdat hy sy pa gemis het? Die outeur laat hierdie vraag, getrou aan haar demonstratiewe styl, oor aan die leser om te vra, maar nie sonder dat die moontlikheid die hart diep raak nie.

As daar een rede genoem moet word hoekom hierdie biografie sonder omhaal in die lys van goeie boeke oor ons politiek ingesluit moet word, is dit sy behandeling van die belangrike rol wat burgerlike-samelewingsorganisasies oor byna vier dekades heen in die opbou van binnelandse teenstand teen apartheid gespeel het – veral hoe die situasie in die moeilike Wes-Kaap ontvou het. Hierdie geskiedkundige reis, wat deur die eerste deel van Green se boek omsluit word, is ook verreweg die deurslaggewendste in die uiteensit van die drukstrome wat Trevor Manuel laat uit-animeer het soos wat hy nog steeds doen.

Hoewel eksklusief getrou aan die dominante politieke siening van die tyd waarin dit geskryf is, is Trevor Manuel – ‘n Lewensverhaal ‘n deeglik-nagevorste, uitvoerige en empatiese beskrywing van een van ons invloedrykste openbare persoonlikhede, die geskiedenis en die mense wat hom gemaak het. Na aanleiding van Manuel se onlangse aanstelling op die senior rang van wat nou effektief ‘n gestapelde kabinet is, is dit duidelik dat hy moontlik nog diep spore in Suid-Afrika kan trap met betrekking tot die toekoms van die land. As sodanig mag dié boek selfs onontbeerlike leesstof geag word vir enigiemand wat hulle bemoei met die lesse wat Suid-Afrika se politieke geskiedenis vir sy hede en toekoms inhou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top