Poort 2009: Waar is die dae toe ons water uit die badkamerkraan gedrink het?

  • 0

Poort is ’n projek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ten doel het om Afrikaanse skeppende skryfwerk by hoërskoolleerders aan te moedig. Nadat onderwysers belowende graad 10-, 11- en 12-leerders identifiseer en hul gedigte, prosa- of dramatekste instuur, besluit ’n keurkomitee van die Letterkundekommissie watter bydraes in die bundel opgeneem word. Die twee beste inskrywings ontvang elk ’n kontantprys van die PUK-Kanselierstrust. Die Poort-tradisie bestaan reeds sedert 1971 en verskeie bekende hedendaagse skrywers het hulle debuut in dié publikasie gemaak. Louise Viljoen skryf in die inleiding tot Poort 2009 dat 192 inskrywings van 45 skole vanjaar ontvang is.

Die weninskrywings vir poësie is Helé de Beer van George se “Poseidon” en Chantel Turner van Durbanville se “sonskyn na reën”. Die weninskrywing vir prosa is Wiehan Agenbag van Bellville se “Wie is daar?”. Hierdie tekste is beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se webtuiste.

Soos wat ’n mens kan verwag, speel heelparty van die skoliere se tekste in die skoolmilieu af. Vir die leser roep dit heel moontlik herinneringe van sy of haar dae op die skoolbanke op. Helé de Beer skryf byvoorbeeld oor ’n juffrou se moordkuil in die gedig “Táálonderwyser” (11) en Derick le Roux se spreker dagdroom eerder voor hy sy trig-huiswerk doen (47). Die spreker in Nettie van Jaarsveld se gedig “die frekwensie-lose voorwerpe” (17) klink weer of sy nou net uit ’n biologieklas uitgestap het, kompleet met verwysings na “die super-ertjies van Mendel” en “Tinia Solium”.

Hiermee saam is daar verskeie verwysings na die sorgeloosheid van kindwees en die bewuswording van hoe die lewe “regtig” is. Marli Venter skryf byvoorbeeld oor die “kind van gister” en in die gedig “herfsjare” (9, 10), verklaar die spreker: “die staanhorlosie/ tik tik my ouer”. In die wengedig, “sonskyn na reën” (8), sê die spreker: “Met my kinderhande probeer ek jou vasplak,/ maar/ bostik en superglue werk nie in die regte lewe nie.”

Saam met die gewaarwording van ’n “regte lewe” lyk dit ook of ’n paar van die jong skrywers ’n preokkupasie het met die baarmoeder, waarmee ’n gevoel van geborgenheid geassosieer word. So skryf Marli Kortenhoeven in “fetus-ontvlugting” (15) oor ’n kind wat “nét/ kind” is en moet “ontvlug/ in slaap se baarmoeder” vir beskerming “teen dít/ wat werklike lewe is”. In Marina Albertyn se prosastuk “Mense agter maskers” word die aanvangs van ’n aktrise/sangeres se optrede soos volg beskryf:

Die gordyn styg op en sy voel haarself uit ’n warm baarmoeder ontsnap. Sy sluit haar oë en voel hoe sy deur wit lieste beweeg tot in die verblindende lig. Sy word iemand anders.

Soortgelyk aan Albertyn se gebruik van die “masker”-beeld, skryf Caro Jordaan ook oor die “maskerbal van die lewe” waar “identiteit en realiteit” nie “maatjies [is] nie” (20).  

Die kwessie van identiteit, of die bewustheid van ’n ontluikende identiteit, word by ’n paar van die tekste vooropgestel. So besin Riyaadh Jamodien oor name: “Bevat ’n Naam werklik ons identiteit?” (18). Mari Gildenhuys se spreker verbind haar identiteit met haar omgewing: “Ek wil saam met die son oor Afrika loop en saam met die maan op die duine slaap, want hier is dit Ek. Wie ek regtig wil wees” (46).

Heelparty van die tekste is op die omgewing en die mens se verhouding met die omgewing ingestel. In die gedig “Moeder Aarde” (16) word besoedeling aangespreek en vra die spreker: “hoe sê ek jammer/ vir dit wat ons doen?”. In die eerder genoemde gedig, “die frekwensie-lose voorwerpe”, word voorspel dat “die son eendag gaan lê” en die “plante en diere wat by mekaar pas [... sal] inspan en vertrek”. Laasgenoemde versreël(s) verwys kennelik na die Bybelse sondvloed. Die religieuse element word in Van Jaarsveld se slot versterk:

Hy sal oppak en Hy sal
stil stil verdwyn
en die idiotiese mens
wag vir die Son om te skyn. 

Soortgelyk aan die apokaliptiese einde wat in bogenoemde gedig in die vooruitsig gestel word, skets Agenbag in die wen-prosastuk ’n na-oorlogse aarde wat in ’n tipe Wasteland, of “barre niemandsland”, ontstaan het (29-31).

Stéphan Nel se abstrakte prosastuk “Die tyd word min” is weer ’n komiese skets van die “Komitee van Chronologiese Sake” se vergadering, waartydens Freek, die “Senior Algehele Bestuurder van Lewe, die Heelal en so te sê Alles”, sy onderdane verskree omdat die aarde slegs drie dekades oor het. Die oplossing lê, aldus Freek, in die herwinning van die tyd wat mense daagliks verspil en wat dan in die “dertiende dimensie” verlore gaan. Hierdie stuk is beslis ’n hoogtepunt in die bundel.  

Nog ’n juweeltjie is die dramateks (die enigste dramateks wat in Poort 2009 opgeneem is) van Marina Albertyn, “Toilet - die groot gelykmaker” (23). Albertyn skets in vier paginas die denke van vyf baie uiteenlopende karakters terwyl elkeen op die troon sit: daar is Theresa, die maatskaplike werker, wie se lewensfilosofie klink “soos ’n bumper sticker op ’n hippie se beetle”; John, die liberale student, wat besin oor die “betonoerwoud” en hoedat ’n mens “Swem in die dam van middelmatigheid of verdrink in die see van ekstremisme”; die effense besope Jean, wat aan ’n eetstoornis ly; die kunstenaar, Michael, wat uitwei oor die “eenlobbige logiese mens met grysstof” wat op die sesde dag geskape is; en Amy, ’n dogtertjie van vyf, wat haarself al kan afvee. Die teks kort ’n goeie slot, maar natuurlik moes Albertyn haar na die spasiebeperkinge van Poort skik.

Sommige van die prosastukke lees soos die uittreksels van filmdraaiboeke. In Maryka Viljoen se “Liefde is sterker as ’n swaard” (51) kom ’n paartjie byvoorbeeld teenoor ’n klomp seerowers te staan, en in Werner Raath se verhaal “Blou: die kleur van genade” (53) oorleef ’n gesin ’n tsoenami in die Seychelle. Marelie Beyers vertel die verhaal van Santjie, ’n kind wat van die kinderhuiskok, aan wie sy so geheg is, geskei word (44), en Carla Breytenbach skryf weer oor Lana wat tydens ’n oorlog van haar pa geskei word (42).

Ander prosastukke val meer in die “Suid-Afrikaanse” verwysingsraamwerk (as daar van so iets gepraat kan word). Helena van der Westhuizen skryf byvoorbeeld oor ’n “egte Van der Merwetroue” waartydens die mans die “kamer verlaat” om gou na die rugbytellings te gaan kyk (49) en Andries van Aswegen (60) en Christiaan Blignaut (36) se verhale speel teen ’n plaasagtergrond af.

Soos uit my bespreking van Poort 2009 afgelei kan word, is dit ’n baie veelsydige bundel. Dit is interessant om te sien watter temas daar by vandag se jongmense spook: van die baarmoedergevoel, tot by ’n gesonde besinning oor die lewe, soms met ’n religieuse inslag. Dit is meestal goedgeskrewe en verbeeldingryke tekste. Wat ’n mens van hierdie jong skrywers opval, is die onbenepe en eerlike manier waarop daar oor redelik ernstige kwessies geskryf word. Wat ek ook by dié tekste inlees, is ’n angstigheid oor “grootword” en skoolverlaat. In Theltom Masimila (13) se woorde:

waar is die dae toe ons water uit die badkamerkraan
gedrink het?
toe toastbrood swartgebrand kon wees
gedoop in no-name peanutbutter en rooi jam.

*Poort 2009 kan teen R30 by die Akademiekantoor bestel word. (Stuur gerus ’n e-pos aan Marietjie Botha.) 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top