Ons ken haar almal: die onnutsige rooikopmeisiekind met vlegsels en sproete, so sterk soos Superman, wat met haar perd en apie in Huis Winderuis woon en basies maak soos sy wil. Pippie Langkous het ’n anargistiese streep wat baie ouers koue rillings laat kry en kinders laat gil van die plesier. Sy het baie mag, maar soos Pippie se skepper self gesê het: “Pippie het nooit haar mag misbruik nie.” Sy het eerder, soos ’n mens van ’n superheld sou verwag, haar bonatuurlike krag gebruik om goed oor kwaad te laat seëvier.
Pippie se avonture is 1975 deur Nerina Ferreira in pittige Afrikaans vertaal. Dié vertalings is telkens herdruk. Heruitgawes, met prettige illustrasies deur Carl Hollander, het in 1992 verskyn en is weer eens keer op keer herdruk. Nadat dié drie bundels (Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan Boord en Pippie Langkous in die Suidsee) ’n ruk lank onverkrygbaar was, is dit onlangs opnuut vrygestel deur Human & Rousseau. Dis dalk ’n goeie geleentheid om ’n bietjie meer oor Astrid Lindgren, Pippie se “ma”, te wete te kom.
Lindgren is in 1907 op ’n plaas in die suide van Swede gebore. Sy het op die platteland grootgeword, op agtienjarige ouderdom swanger geraak en uitgewyk na Stockholm, waar sy geboorte gegee het aan ’n seun, Lars. Sy is in 1931 getroud en het Pippie Langkous geskep vir haar dogter, Karin, wat in 1934 gebore is.
Lindgren se kinderboeke is in 60 tale vertaal. Die bekendstes sluit – benewens Pippie Langkous – Bill Bergson, Master Detective (1945), The Children of Noisy Village (1961) en The Brothers Lionheart (1961) in.
Sy is dikwels bekroon en was taamlik invloedryk. Sy het in 1976 ’n verhaal geskryf waarin die held deur hoë belasting tot ’n bedelaarsbestaan gedwing word. Daar is bespiegel dat dié verhaal destyds gelei het tot die val van die Sweedse regering en die skrapping van drakoniese belastingwette. Sy was ook ’n aktivis vir diereregte en het daartoe bygedra dat ’n wet wat onmenslike behandeling van plaasdiere verbied, in Swede deurgevoer is. In 1999 is sy in ’n stemming aangewys as Swede se gewildste inwoner.
Lindgren se warm persoonlikheid, idealisme en humanitêre lewensuitkyk is legendaries. Haar boeke gee uitdrukking aan liefdevolle verhoudings, bemagtiging, vryheid en ’n nabyheid aan die natuur. Al het sy ’n fortuin met haar skryfwerk verdien, het sy in dieselfde woonstel aangebly waar Pippie Langkous jare tevore die lig gesien het.
Lindgren het, ten spyte van swak sig, tot in die vroeë 1990’s bly skryf. Sy is in 2002 op 94-jarige ouderdom oorlede.
Om terug te keer na Pippie Langkous in Afrikaans: ’n mens wonder of dit nie tyd is vir heruitgawes wat deeglik onder ’n taalversorger se hande deurgeloop het nie, pleks van faksimilee-herdrukke van die 1992-uitgawes. Ferreira se vertalings is oor die algemeen knap, maar soms word daar om geen logiese rede nie oorgeslaan na die verlede tyd. En daar sou baie gedoen kon word om dié verhale meer geskik te maak vir moderne lesertjies. Enkele voorbeelde is “(...) die moeite getroos (...)” op bladsy 95 in Pippie Langkous gaan aan boord – mense praat nie meer so nie. En sou jong lesers weet wat ’n “slangbesweerderes” (op dieselfde bladsy) is? Op bladsy 62 in dieselfde bundel staan daar “(...) ’n bietjie rustiger daaraan kan toegaan”. In Pippie Langkous in die Suidsee is daar anglisismes soos “daardie besigheid met Kersfees” op bladsy 101, en “iets om ooit na uit te kyk nie" op bladsy 106.
Hoe ook al: Pippie Langkous is so deel van die Afrikaanse kinderboekkultuur soos Alba Bouwer se Rivierplaas-stories of WO Khüne se Huppelkind. Dis heerlik om haar terug te hê.
Bronne
www.nytimes.com /books
www.rightlivelyhood.org/lindgren
Pippie Langkous gaan aan boord
Sagteband; 120 pp
ISBN 9780798142922
Pippie Langkous gaan aan boord
Sagteband; 120 pp
ISBN 9780798142939
Pippie Langkous in die Suidsee
Sagteband; 112 pp
ISBN 9780798142946
Uitgegee deur Human & Rousseau; Kaapstad en Pretoria