Rachelle Greeff se Palazzo van die laaste dans is ‘n dans met woorde

  • 0

Titel: Palazzo van die laaste dans
Skrywer: Rachelle Greeff
Uitgewer: Kwela Books
ISBN: 9780795702365
Formaat: Sagteband
Palazzo van die laaste dans, Rachelle Greeff se vierde kortverhaalbundel, is ‘n kragtige terugkeer na daardie magte wat alle lewens dryf: seksualiteit, godsdiens, liefde en die dood. Dans word deurgaans as ‘n leitmotief gebruik en dien as bindmiddel waardeur gegewens ineengevleg, die primêre magte verstrengel, en die lewe sodoende as ‘n tour de force uitgebeeld word.
 
In die openingsverhaal besef Leo as jong seun dat dans jou hoër en verder laat spring, oor en oor asof jy nooit moeg word nie. Dit maak jou as ‘t ware onsterflik. Dit red jou van ‘n halfdooie bestaan in die ouetehuis. Hy word danser en ontmoet so vir Pia, ‘n verslaggewer. Pia het ‘n groot aantrekking tot die dans en dansers:
 
Hulle wat dans, trek lyne wat gewone mense onmoontlik kan herhaal, trek haar op uit die sleur van koerantkantore wat ruik na drukkersink … Daardie beswete torso’s en ledemate tot die uiterste ingespan is vir haar alle pennestrepe, verhale en skitterende woorde op aarde, een vir een uitgesweet (21).
 
Dit word uit die staanspoor duidelik dat dans die ongewone en magiese beliggaam, dat dit ‘n dissipline is wat jou tot ‘n ander vlak verhef, jou bo die daaglikse bestaan uitlig – ‘n idee wat versterk word wanneer Leo jare na sy dood in drome aan Pia verskyn.
 
Die openingsverhaal stel op subtiele wyse ook reeds die ooreenkomste tussen dans en die skryfproses op. Soos met dans, verg skryf ook uiterse dissipline, gefokusde aandag, deursettingsvermoë. Die magiese krag wat jou vir ‘n oomblik wegvoer na ‘n verhewe bewussyn, is juis hierin vervat. Skryf het, soos dans, ook daardie “skitterende woorde, een vir een uitgesweet”. Vir Pia verteenwoordig Leo dus nie net dans as sodanig nie, maar ook die dans van die lewe – en van die dood. Dans is, net soos die skryfproses, deurspoel van ‘n energie, ‘n “frenzy”, wat die lewe inkleur en jou oomblikke bo die alledaagse gee.
 
Hierdie tema word regdeur die bundel herhaal.
 
In “Blues vir ‘n roosbuurt” oordink die hoofkarakter, Kabous, wat self ‘n skrywer is, die hele skryfproses. Die leeskring-vrouens dink skryf is “koorsagtige inspirasie en begeesterde sinne wat stu, allegro di bravura, uit die skrywer se vingers op die toetsbord” (39), maar sy weet dat dit feite is wat die “fiktiewe herkonstrueer”, ‘n proses wat dissipline verg, ‘n “ordinêre skryfdril”. Die blote opeenvolging van handelinge moet weggeskryf word – soos met dans is dit die ure se oefen – maar Kabous besef “hoe verder jy gaan, hoe nader wentel jy aan – en dis al troos, al magic – die slot wat nie jy nie, maar die storie self skryf” (44). Hierin is iets van die magiese kwaliteit van dans terug te vind – daardie oomblik waarin jy jouself verloor en verhef word na ‘n ander wêreld. Dit is dan ook hierdie insig in die proses wat Kabous dryf om op te tree teen geweld in haar buurt. Wanneer die ou blou Honda Ballade weer voor haar huis stilhou, stap sy uit met die wete dat sy net oor die straat hoef te kom; die einde, die ontsnapping, die ontlonting, skryf homself.
 
Soos in “Blues vir ‘n roosbuurt” is ook die ander verhale deurtrek met verwysings na geweld en die sosiopolitieke omstandighede. Daar is verwysings na grondeise agv korrupsie in die vorige bestel (“Brakwaterroos”), bendegeweld, en die vervlakking en verval van museums en ander kulturele instansies (“Palazzo van die laaste dans”). Ook die koloniale verlede van die voormalige Rhodesië en die politieke bestel in Zimbabwe word be-skryf (“Killing fields”).
 
Dit is dikwels juis die mans in die verhale wat, alhoewel hulle deur die dans die vermoë het om iemand anders te word, besig is met die laaste doodsdans en die hardste getref word deur die geweld. Die vrouekarakters, daarenteen, is nie om hierdie rede noodwendig swakker karakters nie. Hulle blyk slegs waarnemers van die dans te wees, maar het ander maniere ontwikkel, dikwels deur die verbeeldingswêreld wat met stories, mites en fantasieë geassosieer word, om van die alledaagse te ontsnap. Soos byvoorbeeld Mien, vir wie die leser in “God in ‘n bottel” en “Brakwaterroos” leer ken. Mien, wat vroegaand al haar G&T begin drink teen die pyn van twee gestorwe seuns en ‘n man wat in die Ooste dans, het behoefte aan God, aan die mite. Wanneer sy bid, voel dit egter asof sy net ‘n “out of office reply” kry.
 
Mien se dominee-vriend skryf in ‘n e-pos dat hy dikwels wonder of verbeelding nie dalk werklikheid is nie.
 
Wanneer Mien na ‘n ongewone sms haar deur vir ‘n vreemdeling oopmaak, word hy die mitiese redder: ‘n tipe hedendaagse Jesus-figuur wat ‘n draak, daardie mitiese Oosterse dier wat tegelyk in die hemel en onder water kan leef, oor sy lyf getatoeëer het. Vir Mien word die messiaanse fantasie, die seksuele en verbeelde sterker as die werklikheid en beskerm haar teen die pyn van verlies. Die eggo hiervan is reeds in “Blues vir ‘n roosbuurt” aanwesig as Kabous sê: “Sonder mites is ons nie ons nie.”
 
Ook in die ander verhale word die skryfdaad, soos die dans, tegelyk ‘n verskansing teen en ‘n viering van die lewe. In “Indifference to everything except your canvas” oordink die hoofkarakter, Maggie, hoe dit moet wees wanneer jy iets steel. Dink jy later weer daaroor, of verloor dit sy magiese kwaliteit sodra die daad verby is? Die antwoord vind sy dan later wanneer sy, soos Henry James, skrywerlike diefstal pleeg en uit ander lewens om haar “steel”: sy gebruik indrukke en ander se woorde om haar eie jeugherinneringe fiktief te herkonstrueer.
 
Die leser mag dalk verlei word om te dink dat Maggie se skrywerlike diefstal ‘n leemte in haarself probeer vul, ‘n gebrek aan eie lewe te probeer vul. Vir Maggie ís haar skryfwerk en die skryfdaad self die lewe. Die ironie van die titel lê juis opgesluit daarin dat skryf, soos dans, jou lewe word, en daardie magiese plek wat weg lê van die alledaagse. As danser en skrywer – indien jy wil “dance, dance, dance till you drop” – kan jy egter nie onverskillig teenoor die alledaagse wees nie. Jy kán nie nét dans nie. Jy kán nie nét skryf nie. Albei vra ‘n interpretasie van die geweld, die liefde, die sensualiteit, die dood en die lewe om jou. Albei vra van jou ‘n ystere wil en dissipline en die moed om jouself in die oomblik van die slot, die einde te verloor. Slegs dan kan jy die magiese kwaliteit daarvan beleef. Slegs dan kan jy, soos Farouk in “Palazzo van die laaste dans”, iemand anders word.
 
Rachelle Greef se Palazzo van die laaste dans is ‘n sterk en betowerende bundel. Dit is ‘n dans van woorde wat die leser meesleur en intrek. Dit is ‘n ode aan die laaste dans en die lewe as repetisie hiervoor.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top