Nog altyd hier gewees - Die storie van 'n Stellenbosse Gemeenskap
Deur Hermann Giliomee
Tafelberg-Uitgewers
Kaapstad
Sagteband
ISBN-10: 06240 4466 1
“Die Vlakte was Stellenbosch se Distrik Ses.” Met dié gelaaide stelling in die inleiding van hierdie boek ruk Giliomee die leser tot stilstand. Hierdie stelling oor die verlede van Stellenbosch is gevul met groot drama en afwagting, aangesien die afgryse van die gewelddadige verskuiwing van mense uit Distrik Ses, gemeenskappe tot vandag nog met weersin vervul.
Dit titel Nog altyd hier gewees, asook die ondertitel, skep aanvanklik die verwagting dat die inhoud slegs oor die lotgevalle van die Stellenbosse gemeenskap handel. Die indruk word geskep dat daar slegs op die gebeure rondom die traumatiese verskuiwing van bruin mense vanaf die Vlakte gefokus sou word. Ons kom egter gou agter dat Giliomee, deur ‘n lokale gebied teen breër kontekste (histories, geografies, kultureel en godsdienstig) af te ets, daarin slaag om die lotgevalle van die Stellenbosse bruin mense as ‘n mikrokosmos van verontregting op die breër Suid-Afrikaanse historiese landskap uit te beeld.
Giliomee bewys met hierdie boek watter formidabele geskiedskrywer hy is. Die indrukwekkende bronnelys en die wyse waarop die historiese gegewens oorgedra word, toon die intense navorsing wat die werk voorafgegaan het.
Alhoewel die skrywer met sy eenvoudige skryfstyl daarin slaag om die leser te boei, is daar tog dikwels plek-plek ‘n onnodige relaas ten opsigte van die ontrafeling van historiese detail.
In sy toeligting van die gebeure op die Vlakte gryp Giliomee ver terug na die verlede, selfs so ver as tot voor die 1700’s. Wou hy seker maak dat die volle omvang van die verweefdheid van historiese gebeure nie misgekyk word nie? Kan ‘n mens dalk iets meer sinister hierin lees? Wou hy deur die teruggryp na die verre verlede die subtiele boodskap oordra dat wit mense die politieke verontregting van bruin en swart mense slegs van vorige regerings oorgeërf het?
Ongeag wat die antwoorde op voorgaande vrae ook al mag wees, slaag Giliomee daarin om die onreg teenoor bruin en swart mense breedvoerig op te teken, sonder om enige gebeure te vertolk.
Alhoewel daar begrip is vir hierdie byna neutrale weergawe van die geskiedenis, haper iets tog. Te min detail word verskaf rondom die pyn en lyding en die menslike ontreddering wat mense tydens die gedwonge verskuiwing moes deurmaak. Giliomee kon meer ruimte aan die gebeure rondom die verskuiwing weens die Groepsgebiedewet afgestaan het, aangesien hy hopeloos te veel besonderhede oor ander historiese kontekste wou gee. Dit sou meer funksioneel gewees het, aangesien die ontworteling van die bruin gemeenskap in Stellenbosch net so opspraakwekkend as die gebeure in Distrik Ses was. Dit sou ook die dramatiese stelling in die inleiding van die boek (“Die Vlakte was Stellenbosch se Distrik Ses.”) vir ons bevestig en daardeur die boek netjies afgerond het.
Ondanks hierdie leemtes word die feite op so ‘n vernuftige wyse oorgedra dat die boek soos ‘n dokumentêre geskiedenisfilm voor jou afspeel. Die inligting wat die skrywer kon opdiep, word sonder kamoeflering, sonder om doekies om te draai, blootgelê. Die ongenaakbare feite oor menseregte-vergrype uit Suid-Afrika se verlede word op onverskrokke wyse openbaar. Dis onverskrokke want die skrywer skroom nie om die aandadigheid van sy Afrikanerlandgenote aan die kaak te stel nie. Hiervoor sou hy sweerlik in die verlede geteer en geveer gewees het!
Maar watter nut het ‘n boek soos hierdie wat so ‘n sensitiewe deel van ons geskiedenis dek? Sal ons sê dis ‘n goeie boek met waardevolle feite, “so what?”? Kan die boek as ‘n soort katalisator dien op ons weg na regstelling en genesing?
Daar is definitief ‘n paar lesse wat ons uit die boek kan leer:
- Die eie belange, hebsug en gewetenloosheid van een gemeenskap teenoor ‘n ander kan konflik en wantroue net laat eskaleer.
- Rassevooroordeel moet ten alle koste uitgeroei word.
- Wit mense moet hul bevoorregting ten koste van ander rasse begin erken en nie steeds sê dat hulle in die duister was oor ander se verdrukking en uitbuiting nie.
- Ons moet mekaar beter leer ken (oor “rasgrense” heen) en mekaar se goeie hoedanighede ontdek (soos Giliomee die positiewe eienskappe van die bruines uitbeeld).
- Die bruin stem toe en nou (in die Kaap) is regtig vir ons stof tot nadenke.
- Bruin mense moenie vergeet hoedat hul politieke naïwiteit en gebrek aan eensgesindheid óók tot hul politieke lot in die Apartheidsera bygedra het nie.
Die boek vul ‘n mens met gemengde gevoelens. Enersyds gryp dit jou om die hart omdat die skrywer so meesterlik met hierdie sensitiewe stuk geskiedenis omgaan. Andersyds stuit die wit mense se politieke oneerlikheid en agterbaksheid in die verlede en die miskenning van bruin en swart mense se menswaardigheid jou teen die bors. Jy besef weer eens met ontsteltenis en afgryse hoedat bruin en swart landgenote deur wit mense onteer en verneder is.
Elkeen behoort hierdie boek te lees. Beide oud en jonk behoort hulle van die inhoud van hierdie boek te vergewis. Voorts kan diegene wat vandag steeds ander se menswaardigheid aantas, gerus kennis neem van die rampspoedige implikasies wat rassediskriminasie tot gevolg kan hê.

