Uitgewers: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869193072
Jeanne Goosen se novelle Louoond,wat vir die eerste keer in 1987 verskyn het, word allerweë erken as een van die klassieke tekste in die vroulike kanon van die Afrikaanse letterkunde. Saam met Die kremetartekspedisie van Wilma Stockenström en Klaaglied vir Koos en Erf van Lettie Viljoen, ook uit die tagtigerjare, is dit van die eerste voorbeelde van die sogenaamde vroulike skrywing waarin lesers se verwagting deurbreek is deur vertellings wat nie doelgerig afstuur op ’n hoogtepunt nie, deur ’n verhaalgang bepaal deur ander oorwegings as die logiese en chronologiese, en deur ’n eiesoortige taalgebruik. Omdat dit belangrik is dat hierdie soort baanbrekende teks beskikbaar is vir liefhebbers en studente van die Afrikaanse letterkunde, is Protea se heruitgawe van hierdie kort novelle, wat aanvanklik deur HAUM-Literêr uitgegee is, besonder tydig.
Die motto van die novelle plaas die leser onmiddellik binne die sfeer van vroulike ervaring en skrywing wat vroeër deur die patriargale tradisie gemarginaliseer is. Dit lui naamlik: “Nog ’n boek deur ’n vrou. Luister vriende, die wêreld van die kombuis is van die mens en van God verlate. Dit is ’n toestand – een van beheerde histerie.” Die kombuis is tradisioneel die ruimte van die vrou en histerie is in die negentiende-eeuse psigoanalise as ’n spesifiek vroulike toestand beskou (die woord histerie is trouens afgelei van die Griekse woord hysteros,vir baarmoeder). Met haar uitspraak dat die kombuis haar “veilige domein” is, lê die ek-verteller in die teks ’n skakel met digters soos Elisabeth Eybers, Sheila Cussons, Ina Rousseau en Antjie Krog, wat ook die kombuis as ruimte verken en getransformeer het.
Die kombuis word dan ook in hierdie teks geteken as ’n toestand waarin waansin en histerie slegs met moeite in bedwang gehou word. Dit is in hierdie ruimte wat die ek-verteller in haar te groot skaapvelpantoffels kos maak uit Kook en geniet, na die musiek van Callas en Chopin luister, haar Doberman-honde en kat versorg, aan haar manuskrip skryf, ’n stryd voer teen die vlieë wat deur die nabygeleë varkplaas gelok word, gesels met haar Armeense buurvrou wat ’n Christelike kerk begin het, die koerante lees waarin daar berig word oor die politieke noodtoestand van die middel-tagtigerjare, en met haar aktivistiese vriendin Hermien oor die telefoon gesels. Sy word as ’t ware geïsoleer binne haar kombuis deur die aanhoudende mis en reën wat die buitewêreld vir haar ondeursigtig en onverstaanbaar maak.
Die kombuis is egter ook ’n ruimte van skeppende anargie waarin kreatiewe energie losgelaat en geykte patrone omver gewerp kan word. “Die potte en panne vibreer, leef in spanning. Atome word nooit oud of koud nie,” sê die verteller (44-5). Omdat die kombuis volgens haar ‘n “ongeklassifiseerde” ruimte is, kan sy na gelang van haar bui en behoefte daarvan ‘n “heilige bidsaal” (45), ’n laboratorium (63) of ’n sake-onderneming maak waarvan sy die “kombuisdirektrise” is (12).
Juis daarom is die kombuis, waarin sy met soveel hartstog kook dat die “lowwe spat, die bone kreun, die uie sis” (52), ook haar skryfruimte. Sy praat van haar uitgewer en verwys na die manuskrip getitel Kombuisblues wat sy in die louoond van haar maagdelike Defy-stoof bêre sodat haar huismaat E dit nie sien nie. Sy skryf sodat sy iets kan verstaan van die mens se posisie tussen die ander wesens op aarde (soos die vlieë en miere wat haar ruimte binnedring) en binne die groter gang van evolusie. Dit is ook die skryfproses wat haar sal help om deur die grense wat haar inperk, te breek: “Skryf het ’n obskure saak geword. Tog bly ek glo dat ek woorde oplaas sal kan oplei om anderkant grense te verken” (49).
Hierin word sy gehelp deur sommige van haar kombuisgenote (dit is nou buiten die Dobermans, die kat, die vlieë en die miere). Dit is veral die sang van Maria Callas wat haar stemming registreer en beheer: “Callas is waansinnig en ek is desperaat,” sê sy aan die begin van haar vertelling (11). Callas is egter ook die een wat die “triestigheid van leë planete bewoonbaar maak” (40). Hoe belangrik hierdie kultuurproduk vir haar is, blyk wanneer die verteller haar verbeel hoedat sy met haar eertydse ANC-huishulp, Anna, sal onderhandel om tog net haar Callas-tape te kan behou wanneer sy ná die revolusie moet vlug. “Wanneer die rewolusie kom, sal ek my tape voor by my bra indruk, dit warm tussen my borste koester en laat vat,” sê sy (24). Die ander kombuisgenoot met wie sy by wyse van spreke in gesprek tree, is die spinnekop Arachne wat “onverbeterlike meesterwerke” van groot skoonheid spin net sodat sy ’n vuil vlieg kan vang: “Haar kuns is bóós,” meen die verteller. Die dophou van die spinnekop word dus ’n geleentheid om te besin oor die aard van (vroulike) kreatiwiteit en om ’n antwoord te gee op Opperman, aan wie die formulering “kuns is boos” ontleen word.
Die kombuis is ook die verteller se skakel met haar ouma, die vrou wat “dertig voorskote” het (60) en wat eweneens passievol in haar kombuis gekook het. “Sy is my geskiedenis,” sê die verteller van dié ouma wat glo dat die Afrikaners die land vrygekoop het met hulle bloed (52) en die geskiedenis van Jan van Riebeeck op drie panele (59-60) geborduur het. Hierteenoor glo die verteller se aktivistiese vriendin Hermien dat die ware geskiedenis van die land begin het met “’n trein vol mynwerkers en liedere” (58). Tussen hierdie uiteenlopende pole moet die verteller dus haar eie plek in die polities gespanne Suid-Afrika van die tagtigerjare bepaal.
Die een ander ruimte waarin die verteller haar in hierdie kort novelle bevind het te doen met wanneer sy met haar vriendin Hermien gesels oor die komende revolusie, geweld en mag terwyl hulle sit en visvang in ’n boot in die middel van die Langebaanmeer. Hermien vertel waarom sy haar veilige omgewing en werkskring verlaat het om ondergronds te gaan en deel te word van die versetsbeweging. Hulle argumenteer oor die regverdigbaarheid van geweld in so ’n situasie en die wenslikheid daarvan om die mens se geweldsdrang met chemiese middels te onderdruk. Die gesprek – en die novelle – eindig wanneer die twee vroue in die boot skielik daarvan bewus word dat die weermagkamp op die oewer van die meer hulle latrine-sluise oopgetrek het en dat die meer rondom hulle besig is om vol te loop met ekskresie. Vir Hermien is dit ’n teken van die wyse waarop die heersende magsorde alles besoedel, maar dit is ook ’n moment wat demonstreer hoedat die lagwekkende kan lei tot die revolusionêre deurbreking van grense. “Anger is not the only revolutionary attitude available. The power of laughter is just as subversive,” is die woorde van Toril Moi wat by ’n mens opkom wanneer jy aan hierdie en die talle ander komiese momente in die teks dink.
Louoond is vandag nog net so oorrompelend as toe dit in 1987 verskyn het. Ten spyte van die feit dat die historiese konteks verander het, bly die worsteling met die vraag hoe ’n mens jou opstel teenoor jou eie geskiedenis en dit wat rondom jou gebeur, merkwaardig relevant. Die geïnspireerde, hartstogtelike en liriese taalgebruik van die verteller beïndruk nog steeds. Haar smagting om net “een onsterflike reël te skryf, ’n reël wat die hele wêreld my sal beny” (14) klink byna ironies in ’n teks wat vol is van onthoubare en onsterflike reëls. Die sterkste hiervan is dié waarin die gekonsentreerde prosa van die teks ’n soort poësie word in ’n passasie soos die volgende: “Callas sing. Ek beluister haar met my siel. Die heelal is ’n fluisterstem. Ek kyk deur ’n teleskoop na die verste newels. Die antieke woorde bloei” (29).
Ten spyte van die feit dat daar al talle artikels en tesisse oor Louoond geskryf is, laat hierdie klein novelle haar nie maklik in ’n netjiese en samehangende betekenisuitleg vasvat nie. Dit is dan ook die uitsonderlike bekoring van hierdie teks: dit bly jou teruglok om weer te probeer, en beloon jou elke keer met nuwe moontlikhede.
*Hierdie resensie is vroeër op die boekeprogram van Fine Music Radio (Kaapstad) uitgesaai en word met hulle toestemming gepubliseer.


