In search of Remarkable Trees: On safari in Southern Africa: Merkwaardige boomboek laat jou reis

  • 0

In search of remarkable trees: On Safari in Southern Africa
Thomas Pakenham
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 1-86842-287-9
192 pp
R350

 

Op die oog af is Thomas Pakenham se boek In search of Remarkable Trees: On safari in Southern Africa ’n pragtige koffietafelboek met mooi foto's van mooi bome op mooi plekke. “Lekker geskenkboek,” is my eerste gedagte met ’n vinnige deurblaai, maar toe val my oog op ’n foto van ’n kokerboom naby Die Toon in die Richtersveld, en in een blik is ek toegevou in die geborgenheid van dié naakte landskap. Twee treë vorentoe, een tree regs – daar het ek gestaan met driepoot en kamera om die grootsheid van dieselfde oeroue boom te probeer vasvang. Dis toe dat ek met aandag begin lees en besef dat hierdie boek ’n veelvlakkigheid inhou wat sy ooglopende status as koffietafelboek aansienlik verbreed.

Fotoboek

Enigeen wat in fotografie belangstel, sal besef dat die foto's in hierdie boek nie bloot kiekies van bome is nie. Die meeste foto's is geneem met ’n grootformaat-Linhof Technika-5x4 – ’n bokskamera met ’n konsertinalens waarmee jy nog soos oupagrootjie onder die kombers inklim om die beeld vas te vang. Die grootformaat-Linhof bly steeds ’n kamera om mee rekening te hou, selfs in dié era van gevorderde digitale fotografie. Een ding om mee rekening te hou, is sy gewig – ’n kamera wat saam met sy noodsaaklike bykomstighede rondom 10 kg weeg, is nie iets om ligtelik op te neem as jy op safari gaan en dikwels ’n paar kilo's in die veld moet aflê nie. Die fotokwaliteit kompenseer egter hiervoor. Die grootformaat-5x4-negatief bied ongeveer 13 keer die area van ’n 35 mm, wat lei tot ’n skerper, greinlose foto met beter kleurnuansering. Tegniek staan voorop as dit kom by die eindproduk, aangesien alles deur die fotograaf beheer word: ligopening, sluiterspoed, fokus. In die tyd waarin basiese fotografie vervlak het tot bloot die opstel van komposisie en die druk van die knoppie terwyl die kamera die res doen, bied hierdie boek ’n getuigskrif van fotografiese vakmanskap.

’n Goeie oog vir komposisie word in die foto's weerspieël, terwyl die beligting van tegniese vaardigheid getuig, veral aangesien daar dikwels mense in die foto's gebruik word om persepsie ten opsigte van die grootte en omvang van bome te gee. ’n Klein digitale kamera is volgens die inleiding vir van die kleiner foto's gebruik, maar selfs hierdie foto's verbeeld Pakenham se fotografiese talent.

Botaniese boek

Hierdie boek, die derde in Pakenham se boomboekreeks, is geensins ’n wetenskaplike boek oor bome nie, maar onbekende feite oor sekere bome word deurgaans in die teks vervleg. Die boek is voorsien van ’n volledige indeks (Gazetteer) wat botaniese name naas algemene name en plekke waar dit voorkom lys.

Interessante botaniese feite word op so ’n wyse oorgedra dat elke boomspesie as’t ware ’n persoonlikheid van sy eie ontwikkel wat jou met ander oë daarna laat kyk. So byvoorbeeld het ’n vyeboom geen bloeisels nie. ’n Klein wesp klim by die vruggie in en versamel die manlike stuifmeel om dit na die vroulike vrug langsaan te dra. Boonop het elke soort vyeboom sy eie unieke wesp wat nie ’n ander soort vyeboom kan bevrug nie (109).

Ekologiese boek

Pakenham staan geensins terug vir sosiale en ekologiese kommentaar ten opsigte van die oorlewing van die bomeryk nie. Hy skryf blatant oor die verwoesting wat deur olifante veroorsaak word, vul dit aan met fotografiese bewyse, en vra dat daar ingegryp word om totale uitwissing te voorkom en die ewewig in die natuur te herstel:

Fever trees, shepherd’s trees, sesame bushes: all the smaller and more vulnerable trees of the bushveld in this area are being upended and killed by hungry elephants. Sensible, humane culling – the same policy that is used for protecting the balance of the environment in other parts of the word – will have to be resumed. Or the place will become a desert of smashed trees and starving elephants. (10)

Pakenham wy ook ’n hele afdeling van die boek aan uitheemse bome, waarin hy betoog teen die uitwissing van die “indringers” soos die jakarandabome in Pretoria, wat hy in sy boek beskryf as “gaste”:

The real motive, driven by a small number of hard-line ecologists (white "ecofascists" they have been called), is to cleanse South Africa of its "alien" flora – a case of white immigrant denouncing a green one. […] It must be sensible to try to protect and encourage native trees and other plants. Not so sensible to try to put the clock back a thousand years and destroy one of the best legacies that Europe gave to Africa. (10)

Die ekologiese argument word deurgevoer na klimaatsverandering en aardverwarming. Deur sy opinie eerlik te verwoord dwing Pakenham jou om vanuit ’n ongewone hoek na die problematiek van die ekologiese krisis te kyk.

Geskiedenisboek

Getrou aan Pakenham se skryfstyl in geskiedenisboeke soos The Boer War en The Scramble for Africa word geskiedkundige feite op ’n gemaklike en meelewende styl in die teks ingeskryf. Met ’n spesifieke boom op ’n spesifieke plek as fokuspunt, word geskiedkundige vertellinge vervleg met persoonlike ervaring om waarde tot die teks toe te voeg. Die leser leer van die Dorslandtrekkers wat vanaf 1875 deur die barre woestynland moes trek op pad na Angola en hoe ’n groep Herero’s die Duitse “Schutztruppen” ontduik het deur in ’n kremetartboom weg te kruip. Thomas Baines se spoor word nagevolg na die sewe baobabs wat hy in 1862 geskilder het en Pakenham gaan op soek na die worsboom waaronder David Livingstone in 1855 by die Victoria-waterval uitgekamp het.

Reisboek

Soos aangedui deur die subtitel, On Safari in Southern Africa, is hierdie ’n reisboek. En dit gee jou sommer ’n goeie rede om jou tasse te pak en na onbekende én bekende plekke te reis met ’n nuwe uitdaging voor oë.

In sy eerste boomboek het Pakenham gekonsentreer op bome in sy eie omgewing – Brittanje en Ierland. Met die tweede een het hy die wêreld aangepak en oor ses kontinente gereis om Remarkable Trees of the World saam te stel. In hiérdie reis na “wow”-bome fokus hy op Suidelike Afrika, en gooi sommer ’n draai in Madagaskar met sy magiese baobabs.

Pakenham neem jou saam op reis na afgesonderde plekke diep in die Namib, Richtersveld en Kalahari, en soos dit ’n goeie toeris betaam, besoek jy Kirstenbosch, Vergelegen, Nature’s Valley, Durban se botaniese tuin en die Victoria-waterval.

Die boek trek jou in in ’n heerlike safari-avontuur. Saam met Pakenham retireer jy versigtig vir ’n leeu in die vloedvlakte van Kafue in Noord-Zambië en val plat voor ’n stormende olifantbul in die Okavango-delta. En soos dit ’n goeie toergids betaam, vul Pakenham die reis met legendes en stories van weleer en leer jou om die vanselfsprekende met nuwe oë te sien en te waardeer. En, bo alles, hy laat jou uitsien na die volgende reis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top