Emily Green & Me
deur Kathryn White
Umuzi Uitgewers
2007
Sagteband, 192 bladsye
ISBN: 97801415200414
Hierdie roman uit die toetsbord van ’n beduidende nuwe stem het my laat regop sit. Die jong skrywer het blykbaar die idee vir haar roman in ’n tydskrifartikel raakgelees, oor hartoorplantingspasiënte wat voorheen ongekende drange na die skenker se geliefkoosde voedselsoorte, musiek of kankerstokkies ontwikkel. Dit laat die vraag ontstaan hoeveel geheue, gevoel en persoonlikheid daar regtig gesetel is in die vuisgrootte pomp in ons bors.
’n Sewentienjarige javel van die mynhope in Johannesburg koop ’n 50 cc-motorfiets met sy eerste salaris en verongeluk op pad na sy geheime meisie. White skryf grafies, grinterig, vol bloed, derms en sweet: “Plough into the back of the little Datsun so that your sister, your dad and mom can’t identify your face of meat, bones and broken eyes crying no tears oh fuck please don’t let me be dead, your non-mouth not screaming don’t let me die now, your nose bleeding not just the smell of meat and fast-turning brown brain but every olfactory memory you ever held onto gravelled tarmac and the yellow paint of an old Datsun.”
In ’n gegoede voorstad van Kaapstad wag ’n arme ryk dogtertjie op ’n hart.
Die elfjarige Emily is al jare aan 't sterf en hele stadia van haar kinderjare het by haar verbygegaan. Sy begin stadig aansterk, potsierlik en verlore met haar babablou gelaatskleur, yl hare, groot dye en tenger skouertjies. Sy kry egter meer as net ’n hart: sy erf ook die onblusbare lewensdrif van die skenker wat oor haar skouer bly loer en weier om te wyk. Sy hormone, storm, drang, woede en aweregse humorsin bly spook. Emily ontwikkel vir die eerste keer in haar lewe houding, sy raak rebels, vloek, rook skelm in die tuin en luister na swaarmetaalmusiek. Op skool begin die cool kinders haar raaksien.
Die ontoombare javel wat in sy fleur afgekap is, lewer kommentaar op Emily se beskermde lewe, hy ontferm hom oor haar as "loser", por haar aan om sy hartstogte uit te leef, en pootjie haar vyande. Hy sorg vir aardse, straatslim humor.
Die boek is baie meer as net ’n goeie idee of slim foefie: die karakterisering is puik, die dialoog en verskillende stemme oortuig, die storielyn drafstap, dit is grafies soos ’n fliek, die skrywer het ’n wrang sin vir ironie en ’n fyn oog vir detail. Die geur van die roman is lekker local. Die skrywer slaag daarin om die energie van die hedendaagse Suid-Afrika vas te vang, wemelend van kontraste, teenstrydighede, belaglikhede, misdaad en vryheid, van die jakarandas, agtermiddagstorms en warm aande van Gauteng tot die windverwaaide Kaap.
Ek het na ’n ander resensie gaan loer wat die boek se einde ietwat voorspelbaar en geforseerd gevind het. Daarmee kan ek nie saamstem nie. Die boek het my geboei, vermaak en ontroer tot en met die onafwendbare einde.
Al beswaar wat ek kan opper, is teen die voorblad, wat my aan ’n inspirerende nommer uit die stal van Lux Verbi herinner, ontdaan van die waansinnige energie en polsende ritme van die boek.
Kathryn White is ’n vonds.

