Die boek van toeval en toeverlaat: ’n rykdom van verbeelding, besinning en toespeling

  • 0

Die boek van toeval en toeverlaat

Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN-10: 0-7981-4728-8
336 pp
R140

 

 


1

Binne elke resensent is daar (hopelik) ’n leser. In baie gevalle is die reaksies van die een gelyk aan dié van die ander en kan hulle in harmonie met mekaar saamleef. In die geval van enkele uitsonderlike boeke is hulle egter in stryd met mekaar en is die peuterige handelinge van die resensent strydig met die ekstase van die leser. In sulke gevalle lees die leser roekeloos en onbeheerst. Sy dra die boek oral saam en lees dit op die toilet of in die kombuis, ignoreer die ander leeswerk op die tafel en duik weg in die boek soos in diep water. Die lees is vir haar ’n private ervaring wat sy nie noodwendig met ander hoef te deel nie. Mettertyd laat die lees haar gelukkig voel.

Die resensent maak aantekeninge, stip intertekste aan, soek na herhalende motiewe en probeer samehange en patrone vind. Die feit dat die resensent die leeservaring met ander moet deel, skep ‘n nuwe agenda. Sy kan nie wag om die kennis van die intertekste uit te stal en om die grappe te verduidelik nie. Sy sien die geleentheid om swaar-aangeleerde teorieë toe te pas en self ’n klinkende stelling of twee te maak wanneer sy haar maatstok vir gehalte moet uithaal. Dit is nie benede haar om oor haar skouer te loer na ander resensente nie,

Uiteindelik lê die stryd tussen resensent en leser in die geval van ’n uitsonderlike boek daarin dat die resensent met swaar voete stap oor die geluk van die leser, oor die gevoel van verwondering wat die boek opgewek het. Laat ek dit dan maar sê voordat ek begin met my resensie van Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat.

2
Die bekoring van hierdie roman begin by die poëtiese titel: die toeval is iets waaraan ’n mens uitgelewer is en waaroor jy nie beheer het nie; ’n toeverlaat is iets waarop jy kan steun en waarin jy jouself geborge kan voel. Presies hoe die twee met mekaar versoen kan word, is een van die vrae waarmee die hoofkarakter en ek-verteller Helena Verbloem haar in hierdie vertelling besig hou.

Die roman het op die oog af ‘n volkome helder en deursigtige oppervlak; daaronder lê egter so ’n rykdom van verbeelding, besinning en toespeling dat dit die aandagtige leser lank sal kan voed.

Die roman vertel van Helena wat besig is om saam met die taalkundige Theo Verwey te werk aan ’n projek om al die uitgestorwe woorde in Afrikaans op te teken. Sy bevind haar verder in ’n werkskring waarin sy gesprekke kan voer met verskillende soorte wetenskaplikes wat hulle binne ’n museum-omgewing besig hou met hulle spesialisgebiede. Die verhaal kom op gang met die diefstal van Helena se versameling skulpe. Die soektog na wie verantwoordelik was vir die diefstal, neem haar na vreemde plekke en bring haar in aanraking met ’n verskeidenheid mense, soos die Steinmeier-familie van Ladybrand en die gangster Fish. In die proses vorm sy ’n vriendskap met Sof Benade, wat haar bystaan met die sinisme en sosiale vaardighede wat sy as pastoriedogter aangeleer het. Soos wat die roman verloop, bou daar ’n gevoel van spanning op wat uiteindelik kulmineer in Theo Verwey se onverwagte dood en die begrafnisfees wat daarop volg. Ten slotte bereik Helena ‘n “onbestendige berusting” (333) in die verlies van haar skulpe en het sy die vooruitsig om haar lank-afwesige broer weer te sien.

’n Mens sou jou lees van die roman rondom bepaalde temas kon sentreer, naamlik dié van verlies, toeval en toeverlaat. Die tema van verlies manifesteer hom veral in die diefstal van die skulpe wat so intiem verbonde is met Helena se geestelike welsyn. Haar meditatiewe aandag vir die skoonheid en detail van elkeen van die skulpe help haar om haar gevoelens van kwelling en onbehaaglikheid te verwerk wanneer sy in geestelike nood is. As gevolg hiervan is sy byna meer geheg aan haar skulpe as aan mense en word sy deur diegene na aan haar verwyt van ’n gebrekkige emosionele lewe. Haar minnaar Frans dink dat haar obsessie met die verlies van die skulpe eintlik ’n aanduiding is van haar onvermoë om ander verliese te verwerk.

Helena se weiering om haar verhouding met die skulpe te sien as ’n teken van of heenwysing na iets anders, is ook ’n wenk vir die leser dat die belangrikste betekenisse nie noodwendig weggesteek is agter iets anders nie, maar ook in die oppervlak of die voor die hand liggende gesetel kan wees.

Die idee van verlies is ook grondliggend aan die projek waarmee Theo en Helena besig is. Helena voel dat Theo se projek om die uitgestorwe woorde van Afrikaans op te teken eintlik ’n poging is om die hele taal in kaart te bring.

Die argivering van woorde herinner aan sekere prosedures in Winterbach se vorige roman, Niggie,waarin daar eweneens sprake was van ’n poging om sekere verliese in die taal te bekamp.

As verteller vermaak en stig Helena die leser egter ook met die wyse waarop sy met hele lyste van hierdie vergete woorde omgaan: sy toets hulle op haar tong, span hulle in om haar gemoedstoestand te vertolk en gebruik hulle selfs om te flirteer met die afgetrokke Theo. Net hiervoor is dit al die moeite werd om die roman te lees.

’n Verdere verlies is die geleidelike inkrimping van die museum-omgewing waarin Helena en haar kollegas werk omdat daar nie fondse beskikbaar is nie. Een van haar take is byvoorbeeld om ’n keuse te maak van die Afrikaanse boeke wat behoue kan bly wanneer die rakspasie vir Afrikaans verklein moet word.

Uiteindelik is daar ook die dood van Theo Verwey (wie se geheimsinnige lewe op sigself ’n roman werd sou wees) en saam met hom die verlies aan ’n bepaalde soort kundigheid oor Afrikaans.

Verlies funksioneer in hierdie roman saam met aflegging. In haar gesprekke met Theo verwys Helena herhaaldelik na Don Delillo se roman Cosmopolis waarin die hoofkarakter in ‘n “raserny van aflegging” (246) verkeer voordat hy op jeugdige ouderdom sterf. Deurgaans in die roman is Helena besig om in haar drome en gedagtes om te gaan met haar familielede wat sy al moes afgee, naamlik haar grootouers, ouers en suster Joets (juis om hierdie rede is sy teensinnig om haar obsessie met die verlies van die skulpe te sien as ’n maskering van haar bemoeienis met die verlies van haar familie). Die terugkeer van haar broer aan die einde van die roman verteenwoordig ’n gedeeltelike omkering van hierdie verlies, net soos wat die swierige begrafnisfees vir Theo ’n bevestiging is van die voortgang van lewe na die verlies van sy dood.

Helena Verbloem is naas leksikograaf ook skrywer wat jare tevore ’n mate van sukses gehad het met die publikasie van ’n roman. Sy word aan hierdie vroeër deel van haar lewe, waarna sy self verwys as “onbesonne”, herinner deur die nagtelike oproepe van ene Freek van As, ’n vae figuur uit daardie verlede. Hy herinner haar aan die tyd waarin sy omgegaan het met allerlei figure uit die Afrikaanse letterkunde, soos die uitgewer Achterberg, die digter Marthinus Maritz en die kritikus Abel Sonnekus (met wie sy vroeër ’n verhouding gehad het en waarvan sy verneem dat hy gedeeltelik Theo se projek befonds). Freek tart haar ook om iets beter te skryf as die roman waarna hy verminderend verwys as haar “vorige werkie”, en om waagmoediger te wees met haar volgende roman. Volgens hom moet sy “ordentlikheid en deugdelikheid” laat vaar om dit te verwesenlik.

Die wêreld van die Afrikaanse taal- en letterkunde word in die roman beskryf met ’n wonderbaarlike balans tussen hoë erns en satire. Dit is veral die tekening van die venynige letterkundige Abel Sonnekus wat ’n kragtoer is in hierdie verband.

Helena se skrywersagtergrond gee ook aanleiding tot die oproep van ’n verskeidenheid ander skrywers in haar vertelling. Don Delillo se Cosmopolis figureer herhaaldelik in haar gesprekke met Theo en is uiteindelik ’n soort verwysing na sy dood en begrafnisfees waarin die romans van Etienne Leroux ook meepraat. JM Coetzee se roman Age of Iron wek weer Helena se bewondering omdat die skrywer so meedoënloos is in sy weiering om in die slot van die roman sy leser te vertroos. Nabokov se Lolita en Joyce se Finnegan’s Wake word op speelse wyse opgeroep in die vals name Dolly Haze en Anna Livia wat Helena en Sof gebruik wanneer hulle in Ladybrand na die skulpe gaan soek.

Die lys skrywers wat ter sprake kom, strek verder van Kafka en De Sade tot by Leipoldt, CM van der Heever en WA de Klerk.

Naas verlies is toeval ook ’n belangrike tema in die roman. Dit kom veral ter sprake in Helena se poging om inligting in te win oor die ontstaan van lewe en die gang van evolusie in haar gesprekke met haar museumkollegas Hugo Hattingh en Freddie Ferreira. Dit blyk ’n verhaal te wees waarin toeval die hoofbestanddeel is. Volgens Hugo het “(b)iljoene kontingente gebeurtenisse” gelei tot die bestaan van die mens eerder as ’n samehangende plan. “Alles wat hier is, is die gevolg van toeval,” is sy konklusie (149). Dit lei Helena tot ’n besef van die betreklikheid van haar posisie in die kosmos: sy voel haar “(k)ompleet soos die eerste gewerweldes – ’n mond en ’n anus, verbind deur ’n rudimentêre senuwee: met vyfhonderd miljoen jaar van evolusie in oneindigheid aan weerskant van my uitgestrek” (209).

Alhoewel haar verhouding met haar skulpe haar reeds in aanraking gebring het met die oergeskiedenisse van die aarde, probeer sy om deur hierdie soeke na kennis vir haarself ’n vollediger beeld daarvan te skep. Sy vind dat die meedoënlose toeval hom ook herhaal in haar familiegeskiedenis: sy besef dat sy, haar suster Joets en haar ouers “’n eenmalige en kortstondige, en bowenal toevallige, konfigurasie” was wat ’n kort rukkie bestaan het om maar net weer te verdwyn.

Hierdie bewustheid van toeval word gekombineer met haar indringende nadenke oor die impak wat die aard en gedrag van ouers op hulle kinders het: die patrone wat haar eie ouers en hulle ouers neergelê het, speel byvoorbeeld ’n groot rol in die roman wat Helena besig is om te skryf. In hierdie opsig herinner die roman sterk aan die wyse waarop Ingrid Winterbach destyds onder die naam Lettie Viljoen in Karolina Ferreira, die teater van die familie (veral die verhouding tussen die wetenskaplike Karolina en haar vader) ten tonele gevoer het.

Die toeval speel ook ’n veelseggende rol in die gebeure waarom die roman draai, naamlik die diefstal van Helena se skulpe. Dit blyk uiteindelik dat die diewe by die verkeerde adres was en dat dit bloot toevallig was dat hulle haar skulpe gesteel het en op haar mat ontlas het. Die patroon wat sy so angstig was om te ontrafel, was dus gebaseer op louter toeval.

Die slotvraag is dan: Waarin lê die “toeverlaat” van die titel as Helena deur al die gebeure so sterk bewus raak van die heersende rol van die toeval en die onontkombaarheid van verlies?

Net soos Coetzee in Age of Iron,gee die skrywer Winterbach nie maklike antwoorde of troos nie. Die roman gee geen eenvoudige oplossing vir die aanvaarding en verwerking van verlies nie: dit toon eerder die ingewikkelde verloop van so ’n proses. Verder suggereer die roman dat die “toeverlaat” dalk juis lê in ’n deeglike kennisname van die rol wat toeval speel en in ‘n bewustheid van die ryk en komplekse teksture wat wel tot stand kom deur die heelal se toevallige verloop.

Ten slotte is Winterbach se roman ’n stralende bewys van die sin wat daar wel te vind is in ’n bestaan waarin toeval en verlies so ’n groot rol speel.

  •  Hierdie resensie is gedeeltelik uitgesaai in die boekeprogram van Fine Music Radio, Kaapstad.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top