Brakdak: beelde van eenvoud

  • 1

Titel: Brakdak: Platdakke in die Karoo
Outeur: Gabriel Fagan
Uitgewer: Breebloem
ISBN: 9780620407564
Pages: 217
Handelsprys: R300
(Also available in English under the title "Brakdak" Flatroofs of the Karoo)

Lewer argitekte of gewone mense die grootste bydrae tot ons argitektoniese erfenis? In Suid-Afrika, waar die meerderheid huise sonder argitekte gebou word, sal enige argitek wat sy/haar inspirasie uit plaaslike argitektuur put, tog sekerlik baie moet kyk na die geboue wat mense vir hulself gebou het. Brakdak: Platdakke in die Karoo is ‘n boek wat juis sulke geboue dokumenteer. Die skrywer, Gabriel Fagan, wat een van Suid-Afrika se belangrikste argitekte is, verklaar hiermee sy liefde vir en inspirasie uit hierdie amper vergete geboutipe wat so eg aan die droë dele van die platteland is. Die boek is ‘n versameling foto’s van dorps- en plaashuise met platdakke wat met ‘n mengsel van klei, mis en plantmateriaal gebou is.

As jong argitek in diens van Volkskas Bank het Fagan dikwels dwarsoor Suid-Afrika gereis om om te sien na die ontwerp of onderhoud van bankgeboue, meestal met sy Piper Tripacer-vliegtuig. Op hierdie reise het hy terselfdertyd die plattelandse argitektuur bestudeer en gedokumenteer, veral die platdakgeboue. Die geboue is so tussen 1959 en 1964 afgeneem. Aan die een kant is die boek ‘n reisjoernaal en aan die ander kant ‘n versameling van inligting in die aanloop tot ‘n doktoraal wat nooit voltooi is nie.

Die kwaliteit van die swart-en-wit foto’s gee die boek ‘n amper onwerklike voorkoms: alhoewel mens weet dat die beelde omtrent 50 jaar oud is, is hulle nie motgevreet en verdof nie, maar eerder hoëresolusie-foto's wat die geboue ‘n teenwoordigheid gee asof hulle gister afgeneem is.

Saam met sy vrou Gwen het Fagan allerhande notas gemaak oor die ligging, eienaars en boumetodes. Ten spyte van die betoog dat die boek nie akademies van aard is nie, is dit juis hierdie notas wat onskatbare tegniese inligting gee oor hoe verskillende brakdakke gemaak is. Daar word vertel van kru prosesse waar die "brak op palmiet op krom en skeef sparretjies op ronde populierbalke" geplaas is, tot deftige huise waar die brak direk op geelhoutplanke gelê is en vindingryke oplossings waar die plafonplanke gemaak is uit opgesaagde blomstingels van garingbome. Foto's van kamers met katoenstofplafonne wys ook hoe die probleem van fyn grond wat uit die dak uit sif, aangespreek is.

Maar tussen die foto's en notas is daar baie meer te sien as net argitektoniese detail oor brakdakgeboue. Daar is etlike interieurfoto's wat ‘n kykie gee op die plattelandse leefwyse van die 1960’s. Daar is ‘n bed met kantgordyne en ‘n laslappiekombers wat ek nie weet hoe enige man ooit op daai kooi kon slaap nie. Die asbak langs die bed laat my wonder of hy nie dalk die hele spul wou afbrand nie. In ‘n kombuis van ‘n ander huis hang daar rou vleis van die dak en tussen die aluminiumpanne teen die muur hang ‘n suspisieuse saag wat dalk gebruik is om die arme skapie die ewigheid in te help. Vir enige persoon wat belangstel in ons plaaslike skrynwerkery is daar wonderlike foto's van meubels, waens en boligte.

Dit is juis hierdie detail in die buite- en binnefoto’s wat dié boek anders maak as soveel tekste oor die volksboukuns. Geboue word nie uitgebeeld in plan- en aansigtekeninge nie maar word eerder weergegee as deel van ‘n deurleefde en vermenslikte wêreld. Van die trots van die welvarendes tot die stryd van die armes word van vertel. Die klem is nie net op uitmuntende voorbeelde van geboue in hulle oorspronklike toestand nie. Die lot van die brakdakgeboue word gestel in die konteks van voortdurende innovering en verandering, insluitend die sinkdakke wat mettertyd die meeste brakdakke vervang het. Van gebou tot gebou lê die plesier in die variasies te vinde in eenvoudige gewels op die borsweringsmure, hoekversierings, vuurherte, en so meer. Omdat daar so min dokumentasie van plattelandse platdakgeboue is en veel meer oor die gewelhuise, is Brakdak ‘n waardevolle toevoeging tot die geheelbeeld van Suid-Afrika se argitektuurerfenis.

Die boek illustreer ook die dorpsomgewings waarbinne van die huise geleë is. Dorpe met grondpaaie en geen of eenvoudige straatligte, boomsoorte wat in die strate staan en tipes grensmure word getoon. Daar is ook inligting oor die stigting van nedersettings en panoramiese dorpsfoto’s. Die meeste van die dorpstonele lyk heeltemal anders vandag – as hulle nog hoegenaamd bestaan. Padverbredings en gedwonge verhuising van mense het groot skade aangerig aan baie van hierdie dorpies.

Daar is toenemend mense wat belangstel in die kleibaksteenhuise van die verlede, omdat hierdie tegnologie veel meer volhoubaar is as ons huidige boumetodes. Ek glo nie dat baie mense graag die onderhoud sal aanpak wat ‘n brakdak vereis nie, maar die boek help die leser om ‘n begrip te vorm van hoe daar met klei, strooi en mis gebou kan word om eersteklas huise te maak. Ek stel my voor dat die meeste boumateriaal vir dié huise gratis uit die omgewing gekom het en as die huise tot niet gaan, dat mens skaars ‘n oorblyfsel kan vind. So ‘n verlies aan erfenis is tegelykertyd ‘n oorwinning vir die omgewing.

Hierdie boek is ook ‘n belangrike toevoeging tot die algemene beeld wat oor plattelandse argitektuur bestaan. Baie dorpe wat vandag die volksboukundige erfenis wil beskerm, skep ontwikkelingsreëls wat aspekte soos gebouvorm probeer reguleer. Net soos sinkgeboue op Paternoster verbied word (alhoewel dit deel van die erfenis is), bestaan daar pogings om platdakhuise in sekere dele van die Klein Karoo te verbied omdat dit blykbaar onversoenbaar is met die dorpe se historiese karakter. Hopelik lees dié hoogsbesorgde burgers hierdie boek en besin oor hulle sondes. Fagan self het ‘n uitsonderlike Volkskas-gebou ontwerp in Montagu wat eersdaags dalk nie toegelaat sal word nie omdat dit etlike reëls van die estetiese komitee oortree. Die platterige dak wys blykbaar op ‘n minagting vir die “ware” geskiedenis!

Wat inhoud betref, kan Brakdak amper gesien word as voorloper totdie publikasie van Fagan se vorige boek, Twenty Cape Houses,wat handel oor die outeur se ontwerpe vir nuwe huise en ‘n paar bewaringsprojekte. Brakdak gee ons ‘n idee van die ondersoeke van ‘n jong argitek om sy konteks te verstaan, die werk wat gedoen is om tot beter begrip te kom van die argitektuurgeskiedenis en die waardes wat hy in hierdie geboue waardeer. Daar word ’n paar keer verwys na die brakdakgeboue as “eenvoudig en waardig” en dit is duidelik dat hy dié eienskappe ook in sy eie geboue laat geld het. Net soos die foto wat Fagan van hom en sy familie voor hulle vliegtuig geneem het, is hierdie boek ‘n terugblik op sy lewe en sy werk.

Brakdak is ‘n waardevolle blik op ons verlede omdat dit breed kyk na ‘n argitektoniese verskynsel sonder bevoordeling van een inkomstegroep bo ‘n ander of ter uitsluiting van enige inwoners ten spyte van die politieke orde van die 1960’s.

  • 1

Kommentaar

  • Philip Bromley

    Pragtige boek. Maar nêrens is daar ’n goeie verduideliking oor die bestanddele van waaruit ’n brakdak op gebou is nie. ’n Dwarssnit-tekening sou baie behulpsaam gewees het. Ek sal bly wees as iemand, my vraag kan beantwoord. Byvoorbeeld wat is brak?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top