Ander lewens nie vir die literêre fynproewer

  • 0

Ander Lewens: ’n Roman in Drie Dele
André P Brink
Human & Rousseau
ISBN: 9780798149259
Hardeband met stofomslag
256 pp
R165

 

Êrens kort na 1994 is Brink in ’n onderhoud met ’n Britse blad gevra waaroor Suid-Afrikaners nou gaan skryf, siende dat apartheid nie meer die oorkoepelende tema kon wees nie, en vir ewig verby is. Sy antwoord was dat dit skrywers voortaan groter ruimte sou gee om die verbeelding vrye teuels te gee, om die mites, verhale en stories op te teken wat tot op daardie stadium nie as relevant beskou is nie. En nie lank daarna nie het die mirakelagtige en heerlike Duiwelskloof (1998) verskyn: vars, oorrompelend vernuwend en humoristies, maar ook ’n skatkis van verrassings in karakterisering, style, wendinge en humor, asook ’n optekening van ’n vervloë ou Afrikaanse wêreld wat in detail die kuns van witblits stook, van inheemse medisyne, en van bygelowe betrek. Daarnaas ook ’n teenstelling van tradisionele teenoor globale leefstyle, die orale tradisie teenoor geletterdheid en tegnologie. Ook met die fiksionele voorstelling van die historiese karakter van Kupido Kakkerlak en sy kulturele vasgevangenheid tussen twee kulture en sy geloofskonflik in Bidsprinkaan (2005) het Brink ’n hoogtepunt in sy oeuvre bereik.

Daarom stel hierdie jongste “roman in drie dele” uit 2008, getiteld Ander lewens, die leser teleur. Dit is weer die ou Brink van die vroeë sestigerjare, met sy obsessiewe uitbeelding van geobjektiveerde vroue seksualiteit, seksueel-eksplisiete uitbundighede, en driehoeksverhoudings, hier meesal gekontekstualiseer met verwysings na eietydse sosiale konflikte. Die mees onderhoudende dele van hierdie “roman” is juis die eietydse kontekstualisering, veral in “Spieël”, waar die hoofkarakter homself plotseling as swart man in plaas van wit man moet konfronteer, asook die roof-oorval in ’n Kaapse restaurant, waar vier van die ses hoofkarakters in Ander lewens daardie aand eet.

“Die blou deur”, die eerste verhaal, is ’n tyd gelede as aparte publikasie uitgegee: eers net in Afrikaans, en daarna in ’n dubbeluitgawe, met Engels en Afrikaans. In Ander lewens vorm dit die eerste van die drieluik verhale (verder nog ”Spieël” en “Appasionata”), waarin karakters oor en weer voorkom, verhoudings met mekaar het of gehad het, en ’n identifiseerbare geografiese Kaapse ruimte as leefwêreld deel. Die skakel tussen al drie dele van die “roman” is die art nouveau-spieël wat in elke onderafdeling op bonatuurlike wyse figureer om die werklikheid te vervorm of te verwring – ’n soort skyn-werklikheid op te roep, soos wanneer Steve in deel twee plotseling een oggend van velkleur verander. In elk van die drie verhale draai die gebeure telkens om ’n middeljarige manlike hoofkarakter as fokalisator, met teenoor hom ’n besonder aantreklike vroulike teenspeler of teenspelers (afwisselend ’n swartkop, rooikop en blondine) in ’n driehoeksverhouding. David le Roux, ’n skilder, het as integrale deel van sy lewe teenoor hom plotseling Sarah, ’n fotograaf, in plaas van sy vrou Lydia, in “Die blou deur” (by die oopmaak van sy studio-deur, stap hy op ’n dag onverwags ’n “ander lewe” binne, kompleet met ’n ander, bruin vrou in plaas van wit, en kinders waar hy voorheen kinderloos was).

Die fokus op die visuele kunste van hierdie deel maak plek vir die eers wit, en dan swart (gewaande?) argitek-met-identiteitskompleks Steve in “Spieël”. Sy vrou Carla is ’n pottebakker, maar die objek van sy plotseling ontwaakte, ongebreidelde en aggressiewe seksuele lus ná hy van velkleur verander, is Silke, die inwonende, verloklike uitlandse au pair. ’n Swakheid in “Spieël” is sy plotselinge woeste, aggressiewe seksuele omgang met die au pair, wat by implikasie die gevolg van sy nuwe "swart" identiteit, en dus woede, is, soos ook in die dreigende toneel met die bergies voor Claremont Towers, die “Toring van Babel”, wat hy ontwerp het en wat ook in elke onderafdeling van die sogenaamde roman figureer. Dit word gesuggereer dat die interaksie met die bruin straatbewoners anders, en beslis meer gewelddadig en bedreigend van sy kant af, verloop as vroeër toe hy wit was. Geïmpliseer is die nogal rassistiese aanname dat ’n “swart” identiteit noodwendig meer aggressie en woede van die subjek inhou.

Naas hierdie swart-bruin (Steve en die bergies op straat) en swart-wit (Steve en die au pair in die argitektonies ontwerpte Fresnaye-huis) interaksies, is die ander pertinente swart-wit alterkasie tydens die roofoorval in Chez Alice, die knus familie-restaurant in die buurt van Oranjezicht, waar die boewe swart en die restaurantgangers almal wit is, buiten vir die swart-gewaande Steve (dit word nooit opgeklaar of hy inderdaad swart is nie, maar dié persepsie of waan kleur in ieder geval die karakter se optrede en interaksies). Hierdie verhaal, of onderafdeling van die roman, is die boeiendste van die drie, juis oor hierdie spel met identiteit, hoewel dit insak in die middel, met die aggressiewe seksuele interaksie, wat geen duidelike motivering in die verhaalgegewe nie het.

In “Appasionata”, verhaal drie, is nog ’n kunstige paartjie, hierdie keer met loopbane in die musiek: Derek Hugo, pianis, en Nina Rousseau, ’n sopraan met ’n donker, dreigende geskiedenis. Twee van Nina se vorige minnaars het gewelddadig om die lewe gekom, met donker toespelings op haar rol daarin. Dié derde narratief word gebind deur die volgehoue, en uitgestelde, spanning van die onvervulde liefdespassie tussen Derek en Nina. By die uiteindelike voltrekking van die smagting (in die ou familiewoning op die Rousseaus se Tulbaghse wynplaas) vind ’n donker, dodelike transformasie plaas as die vrou in sy arms nie die blonde Nina blyk te wees nie, maar ’n swartharige skoonheid ... (Is dit vergesog om hier eggo’s te hoor van “By Rietfontein se leidam waar die reier staan en droom” met “bloed op die water en bloed op die maan"? Dis in ieder geval ’n soortgelyke verouderde sfeer van geeste en donker familiesaga’s wat hier opgeroep word.)

As ligte leesstof vir vermaak, en altemit ’n titsel seksuele prikkeling vir die moeë middeljarige manlike libido, sal Ander lewens seker ’n leserspubliek vind. Literêr gesproke en as roman is dit egter ’n insinking in Brink se oeuvre: sentimenteel, swak geskryf (eindelose lang beskrywings met wydlopigheid en veelwoordigheid), en dieselfde resepmatigheid waaraan die vroeë Brink gely het: geobjektiveerde vroulike seksualiteit vanuit manlike-fokalisator-perspektief, ’n skootjie aktuele politiek, ’n paar skeute eksplisiete seks met gepaardgaande vroulike aanvalligheid, en alles ingewikkel in ’n “kunstige”, aptytlike milieu. Op die styl af beoordeel het hierdie werk teleurstellend veel weg van vingeroefeninge vir die vroeë Brink-romans van die sestigerjare, maar dan sonder die impak van Lobola vir die lewe of Die ambassadeur. Miskien goed as leesstof vir vermaak, maar werklik nie onderhoudend vir die literêre fynproewer nie. Ander lewens is die drie-en-twingste Brink roman, maar ongelukkig nie een van die memorabeles nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top