Hy is dood

  • 1

Ek lees die VB-advertensies toe my oog op die foto val, links bo, onder die opskrif "sterfgevalle" - die gesig, voller hare, minder 'n bril, maar dit was vir seker hy.

Ons het mekaar raakgeloop by die Skietwinkel, 'n vuurwapenhandelaar hier in Bloemfontein. Nooit gepraat oor ons grensdienste nie, ons het dit vermy, eerder gesels oor ons liefde vir vuurwapens en jag. Ons het albei herlaai, so die gesprek het gegaan oor ladingsslagdoppies kruit. Die laaste keer wat ek hom gesien het, het hy sy wapen kom haal nadat die lisensie goedgekeur is. Dit was 'n Colt Combat Commander kaliber .45, 'n lieflike wapen en ek onthou so goed die opgewondenheid die lewe in sy oë. Ons het met die wapen in die skiettonnel gaan skiet, natuurlik eers hy en toe het ek 'n paar rondtes geskiet. Daardie wapen het so lekker in my hand kom lê; dit was net van bring die wapen op teiken, druk die sneller en dan die gerusstellende terugskop van die wapen in my hand.

Ek het kort daarna vir my ook so wapen gekoop. Ons het gegroet en nog ooreengekom ons gaan saam jag, wat toe nooit gebeur het nie; ek het kontak verloor hom nooit weer gesien voor die dag in die VB nie. Ek bel die ondernemer vra vir 'n nommer want ek wou tog net my meegevoel oordra aan sy naasbestaandes, maar nee sy mag nie dit is die ondernemer se reëls en regulasies, ek praat mooi, verduidelik aan die dame aan die anderkant dat ons mekaar geken het en kontak verloor het. Teësinnig gee sy die nommer van sy vrou. Ek bel haar, die selfoon lui lank dan antwoord sy; ek sê haar wie ek is, wil net simpatiseer met haar verlies, maar op watter manier het ek hom geken vra sy en ek vertel haar, sy sê net, o, hulle is geskei. Sy kon dit net nie meer uithou met hom nie, sy buie die gedrink, hy was 'n goeie mens, maar vandat hy teruggekom het van die grens af was dit anders - hy het verander die Here weet sy het probeer maar sy kon net nie meer nie.

Wat het gebeur, vra ek, sy weet nie; die bediende het op hom afgekom waar hy in die sitkamer was, al die troeteldiere was met genoeg kos en water in een van die kamers toegemaak en die sitkamer was vol bloed; sy Colt het langs hom op die vloer gelê hy het homself geskiet.

My God! my God! Hou ons vas, hou ons tog net vas.

Boer in beton

  • 1

Kommentaar

  • Dag Boer,

    ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Ek weet ook nie of jy G_d moet vra om jou vas te hou nie, jy sien, Hy is altyd, altyd daar, dis ons wat aan Hom moet vashou en saam met Hom gaan waar Hy die wêreld neem.

    Ek ken daai verlies wat jy van praat, ek weet dat baie in die nag wakker lê, ek weet dat baie verhoudings moer toe is, ek weet dat baie hul eie lewens geneem het.Ek onthou baie dinge wat ek wens ek nooit gesien het nie.

    Snaakse ding is, ek kan die reuk van warm gewere en buskruit nie uit my neus kry nie. 

    Shalom

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top