Hunkering

  • 0

Toe ek jou ontmoet het, het jy my bevry van my twyfel; dít terwyl jy die deure van my kas stewiger vas gegrendel het. Wanneer jy naby my gekom het, of die deur sonder jou hemp oopgemaak het, het my stem hees van verlange, en vrees geword. Op daardie oomblikke het ek myself gesien in die donker hoekie van my sel sit, te bang om te roer of ’n geluid te maak: dit sou jou van my af wegdryf en my grootste vrees sou soos ’n groteskte ondier realiteit word. Jou speelse mond en uitbundige lag het probeer om jou pragtige hartseer oë te kamoefleer. Ek het gewonder watter onheilspellendheid in so ’n ligte, aantreklike liggaam verberg kon wees.

In die aand sou ek in my sel lê en ween. Ek het spasmodies my lyf probeer knus maak in die kas, wetend dat ek die res van my lewe daarbinne sou moes bly. Elke keer wat ek jou gesien het laggend na my kyk, het ’n kramp my daarbinne laat sidder van die pyn. Party aande was ek onder die illusie dat jy dít in my wakker gemaak het, dat dit jy was wat my in die kas geboender het. Daardie aande het woede my die tralies van my sel laat skud. Tydens momente van helderder denke moes ek aan myself erken dat my vonnis, ’n selfopgelegde een was. Gelukkig kon ek, wanneer jy kom kuier het, my verlustig aan jou stories, en ek kon daar in my sel gedroom het van vryheid.

Toe die polisie die aand aan my deur kom klop het, het dit gevoel of iemand die ander deur probeer afbreek. Die nuus van jou selfopgelegde heengaan het soos dik kasterolie in my mond opgewel. My tronkbewaker en objek van my verliefdheid was weg. Die besef het eers ’n paar dae later gekom: voor jy dood is het jy die slot van my deur oopgesluit. Ek was uiteindelik vry om volkome na jou te verlang…

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top