Humphries du Randt op 86 oorlede

  • 1

Wyle Humphries du Randt (Foto: verskaf)

My liewe pa, William Stephen Humphries du Randt, wat hierdie artikel op LitNet geskryf het, is op 27 Februarie 2023 op die ouderdom van 86 jaar, 2 maande en 4 dae in Port Elizabeth oorlede. Hy was ongelooflik entoesiasties oor die Du Randt-familienavorsing en dit troos my dat dit op hierdie forum behoue kan bly en voortleef.

Dankie vir die boodskappe wat ons op Facebook van vriende en familie ontvang het. Ek het elkeen gelees en opreg waardeer en kry myself nou eers, meer as ’n week na sy dood, so ver om ’n ode te skryf aan my liewe pa, my rots en my vriend.

Ek was bevoorreg genoeg om sy hand te kon vashou en vir hom sy gunstelingmusiek te speel in Greenacres Hospitaal op die nag van sy dood.

Die verlies is vir my ontsettend groot. Selfs op 51 voel ek, tot my groot verbasing, soos ’n weeskind: nes ’n kind op soek na jou … (Dana Winner)

Ek het nie besef dat dit my op 51 so ongelooflik diep sal aanraak dat hy nie meer daar is nie. Die missed calls terwyl ek by die werk was van Pappa, wat my soms geïrriteer het omdat ek hard moes praat vir hom om my te kan hoor, het net skielik opgehou en my foon is stil. Ek is dankbaar dat ek meestal geantwoord het en hom kon bystaan en net kon gesels.

En nou is my pa vir die eerste keer in my 51 jaar op aarde weg. My emosies is rou en my hart is aan flarde.

Ek het my vriend en my konstante vertroueling verloor.

Dit was nie lekker om hom te sien oud word nie. Ek was die laatlam; my pa en ma was altyd my vriende. Dit was vir lank net ons drie in die huis in Brighton-rylaan. Later jare was ons die meeste vakansies en alle Kersfeestye saam, óf by hulle in George, waar hulle van 1993 tot 1999 gebly het, óf in Adelaide van 2000 tot 2006. Of hulle was by ons in die Kaap en die laaste jare in die Karoo voor ons teruggetrek het Kaap toe verlede jaar. Hy was veral mal oor die Karoohuis en het dit die plaashuis genoem. Tot onlangs het hy gesê hy en my ma wil daar gaan bly (die huis staan leeg). My pa se verjaarsdag op 23 Desember was, vandat ek kan onthou, altyd ’n tyd van feesviering en saamwees vir ons Du Randts.

Humphries du Randt (Foto: verskaf)

Ek is trots dat hierdie unieke, talentvolle man my pa was. Soos ons almal, het hy ook sy foute gehad en in die laaste jare het hy swaargekry met sy gesondheid en emosies, en ek en hy het ook maar lekker kop gestamp, juis omdat hy altyd so sterk was. Maar ons het ook vinnig weer vrede gemaak – veral hy het gou weer gebel, omdat hy goed en sag was. Die liefde tussen ons was altyd daar en sal altyd daar wees.

William Stephen Humphries du Randt was ’n briljante, talentvolle man, ’n gerespekteerde letterkundige, hoogs musikaal, sportief en, allerbelangrikste, ’n wedergebore kind van God. Hy het met sy hele hart liefgehad en was deur ons, sy mense, geliefd en gerespekteer.

Hy was sportmal, en veral Rodger Federer en Nadal was vir hom ’n groot bron van vreugde in sy laaste jare in Munro Kirk Frail Care in Port Elizabeth.

Hy was baie trots op die feit dat Federer se ma ’n Du Randt van Suid-Afrika was en hy het die bloedlyn fyn nagevors en gepubliseer (sien van sy artikels hier op LitNet).

Hy was familievas en lojaal, beginselvas en soms uitgesproke oor dit waarin hy geglo het. Hy was uniek. Almal het geweet van hom, of hulle van hom gehou het of nie!

Vir my was hy ’n wonderlike pa; hy was tot sy einde kinderlik entoesiasties en optimisties oor die lewe, ongelooflik energiek, vol lewenslus, vol wysheid en met ’n uitsonderlike algemene kennis oor alles en nog wat.

Hy kon pragtig skryf met sy fyn sin van waarneming. Hy het unieke perspektiewe gebring op lewensituasies of filosofieë en in ’n menige spesialisvelde: sport, politiek, kulturele praktyke en ander onderwerpe, maar veral die digkuns.

Hy was opgewonde en trots op elkeen van sy kinders en kleinkinders. Hy het ons almal konstant aangemoedig.

Hy was tot sy einde mal oor musiek en ’n mooi fliek … wat ek tydens sy menigte kuiers by ons aan huis vir hom aangesit of gespeel het. YouTube was vir hom ’n wonderwerk, veral omdat ek sy gunstelingliedjies binne sekondes kon oproep tydens ons spesiale samemsyn in ons sitkamer: Gebed van Koos du Plessis, Karoonag van Coenie de Villiers, Abba se Thank you for the music, Barbara Dickson se Caravans, wat hy as Butterflies gesing het.

Mike Batt se Lady of the dawn, wat hom altyd laat huil het omdat dit hom herinner het aan my suster Lausanne, wat in 1982 op 21-jarige ouderdom verongeluk het, Nana Mouskouri se Seasons in the sun, Elaine Paige se I know him so well, She van Charles Aznavour, Dana Winner se In love with you en Gone waaroor hy mal was, en sovele meer. Hy was ook mal oor klassieke musiek en boeremusiek, en hy kon self pragtig klavier, kitaar, mondfluitjie en trekklavier speel.

My pa was tot die laaste aktief betrokke by, en het belang gestel in my en my broer en suster se gesinne se welstand en doen en late … bekommerd soos net ’n pa kon wees, en as daar probleme was, sonder uitsondering altyd bereid om te help.

Hy was ’n ongelooflik gasvrye mens en kon nie genoeg doen vir sy gaste nie.

Humphries du Randt (Foto: verskaf)

Hy was tot die einde so lief vir my ma, Adelai, wat Alzheimers het. Hulle was 65 jaar getroud, het elke aand hande vasgehou as hulle slaap, en hy het vir hulle gebid. Ek kon gereeld hoor hoe gesels hy met haar in die middel van die nag. My ma bly nou alleen agter in Port Elizabeth, omdat sy met Alzheimers nie goed sal vaar as sy nou vanuit haar bekende omgewing moet weggaan nie. Ons het hom beloof ons sal mooi na haar kyk en gereeld vir haar gaan kuier.

My liewe pa was altyd daar vir ons almal en vir my en Charles van Heerden. ’n Wonderlike oupa vir my kinders en my beste vriend met wie ek vir 51 jaar amper daagliks kontak gehad het.

Sy dood laat ’n ongelooflike leemte. Ek het nie besef ek sal soos ’n weeskind voel nie, maar ek vóél so.

Dit is die einde van ’n era en hy kan nou by sy geliefde ma, Cornelia Goosen Humphries du Randt, en my suster Lausanne wees.

Ek gaan jou so ontsettend mis, Pappa. Ek is lief vir jou, altyd, en sal jou so so mis!

Ns. Ek en my pa het ongeveer 10 jaar gelede hierdie webwerf geskep.

  • 1

Kommentaar

  • Ek is in trane, ek weet jou pappa kyk van bo af en is baie trots op julle, Adelai. Mag mooi herinneringe julle as familie troos in hierdie moeilike tyd. xxx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top