hulpeloos en magteloos
die waarheid is naak
soos ’n angsbevange vrou
vasgekeer tussen die mure
van haar eie huis
waar sy gewoonlik
vreesloos kan beweeg
sonder ’n onbekende monster
met wellus in sy oë
wat ’n mes teen haar keel druk
en haar verhoed om te gil
’n hulpelose vrou
wat net magteloos kan toekyk
hoe haar klere afgeruk word
van haar bewende lyf
met die grootste geweld
en minagting
deur ’n sadis
sonder enige respek
vir haar privaatheid
sonder enige gewete
met net die siek
siek bevrediging
van sy drange
op die brein
hy’t op die vlug geslaan
soos die lafaard wat hy is
maar saans keer hy terug
om haar uit die slaap te hou
of om haar opnuut
in haar nagmerries
te teister
waaruit sy uitasem
en natgesweet
wakker skrik
soms staan hy in die donker
en steek vir haar tong uit
maar as sy weer kyk
is hy nie daar nie
sy kry dit nie oor haar hart
om die polisie te bel
of selfs haar beste vriendin
daarvan te vertel
sy voel te skaam
te vuil
te goedkoop
want sy’t nooit ingestem
tot dié walglike daad
Kommentaar
'n Sterk gedig, geskryf met taaltrots.