Hulp vir Duitswester

  • 0

Dagsê Duitswester

Lees jy die argiewe of wat want ek sien geen bekgevegte of skelkompetisies nie behalwe miskien nou die ewigdurende godsdiensdebat.

Maar sou daar nou 'n bekgeveg hier uitbreek en jy wil weet wie wen, of gewen het, sou ek aanbeveel jy beoordeel die storie soos ek op 'n kol met die gesprek – gestry as jy wil – tussen Anton Barnard en Jaco Fourie gemaak het: Jy kyk wie konstateer feite en wie gooi net menings rond dan kry 'n ou 'n punt vir 'n feit en 'n nul vir 'n ongestaafde persoonlike opinie. Jy kan selfs so ver gaan om negatiewe punte toe te ken vir onwaarhede, soos byvoorbeeld die stelling 'die gemiddelde swarte praat ten minste 6 tale vlot', een van Williams se juwele.

Dit is seker nie altyd maklik om te weet wanneer iemand die waarheid praat, met ander woorde besig is om feite te konstateer nie, maar dit is navorsbaar. As ek nou byvoorbeeld vir jou sou sê die gemiddelde gas op RSG (en party van die omroepers) praat swak Afrikaans mag dit na 'n persoonlike mening klink maar jy hoef net die radio aan te skakel om uit te vind of dit die waarheid is of nie.

Jy het op 'n stadium geskimp dat ek en Jaco net soveel soos die Jode stry wat nie waar is nie (ek weet nie of jy my antwoord aan jou gesien het nie, hierdie onderaan-kommentaar werk nie juis nie [en ek weet nie of die Jode meer as ander stry nie]): Jaco het die stelling gemaak dat goeie aksies goeie reaksies tot gevolg het en slegtes het slegtes tot gevolg. Ek het hom gevra wat hy reken ons reaksie op plaasmoorde en naamsveranderinge moet wees waarop hy geantwoord het dat hy nie met fanatici praat nie. So, hier was nie sprake van 'n geveg nie; net 'n afjak van sy kant af op 'n, vir hom, baie ongemaklike vraag.

Bogenoemde soort van ding sal jy baie kry: Iemand maak 'n stelling en 'n klomp dui aan dat hulle nie van die stelling hou nie. Niemand 'wen' of 'verloor' hier nie. Sou iemand egter bewys die stelling is vals en die steller reageer nie het hy verloor, al was daar nie 'n uitgebreide debat nie. Sou hy egter die stelling herbevestig met meer inligting en die ou wat hom aangevat het reageer nie het die steller gewen. Dis eintlik baie eenvoudig.

Tchüss

Jan Rap

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top