Met die afsterwe van André P Brink het die Afrikaanse letterkunde ’n reus verloor. Op ’n aantal vlakke het Brink se skryfwerk my lewe geraak en ’n blywende indruk gelaat.
As student van die letterkunde in die 1970’s en 1980’s is my en my medestudente se politieke bewussyn gevorm deur Brink se betrokke romans van daardie tydvak. Kennis van die aand, Droë wit seisoen en ander romans het die pyn en wrewel verwoord van ons wat op ’n daaglikse basis die onregverdigheid en soms ook geweld van die apartheidsbestel beleef het. Saam met sy karakters kon ons stoei met die dilemmas van die individu in die aangesig van ’n ongenaakbare bestel en die eis om steeds moreel en eties op te tree. Brink se kredo, dat hy skryf sodat niemand mag sê hulle het nie geweet nie, was rigtinggewend in die strewe om jou akademiese werksaamheid te verantwoord aan die eis om teen onregverdigheid en ongeregtigheid te stry. Ja, ons was krities ten opsigte van sy metafisiese begrip van vryheid en sy oorverromantisering, maar as teenwig was daar sy opvatting dat die pen net so nodig is om die swaard te bestry en dat ons Don Quichot nodig het om die drogbeelde van ons tyd te bestorm.
Vir my as dosent van die Afrikaanse letterkunde is Brink se literêre opstelle onontbeerlik by die studie van bykans die hele moderne Afrikaanse letterkunde. Ek doseer tans ’n kursus oor die Sestigers en sy Aspekte van die nuwe prosa en Aspekte van die nuwe drama, asook sy blokboek oor Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet is standaardwerke. Vertelkunde is steeds die mees toeganklike inleiding tot die baie komplekse narratologie in die 20ste eeu. Voeg hierby ook sy opstelle oor die postmodernisme, poststrukturalisme en die metahistoriese. Sy onlangse romans is dan ook uitstekende voorbeelde van hierdie literêr-teoretiese ontwikkelinge.
Op persoonlike vlak kon ek Brink die afgelope paar jaar beleef toe hy die eerste ontvanger van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs was en hy by ’n paar geleenthede aan die Universiteit van Wes-Kaapland moes optree ter nakoming van die beursverpligtinge. Die waardigheid waarmee hy die kritiek op sy ontvangs van die beurs behartig het, het by my ontsag afgedwing. As deel van sy nalatenskap tel die feit dat hy die statuur van die beurs gevestig het deur ’n groot roman, Philida, te lewer.
My meegevoel gaan aan sy naasbestaandes.

