Huldeblyk: Naas Steenkamp onthou André P Brink

  • 0

Ons vriendskap strek (het gestrek) oor byna ses dekades, in ’n dik stapel briewe gedokumenteer. ’n Gloeipunt was die daeraadtyd met die aanbreek van die sestigs toe André in Parys en ek in Londen was en ons oor en weer gekuier het. Later, terug in Suid-Afrika, sou hy aan my skryf: "Ek staan daagliks nog verslae voor die ontdekking van die burgerlike, dopperse ou sieletjie wat ek nog altyd gehad het. Mens raak swaar van so iets ontslae. En die groot probleem is: dis so maklik om, nadat jy dit afgewerp het, net maar 'n angry young man te word."

Maar dis nie wat gebeur het nie. Sy ontdekking het die skrywer bevry en die provokatiewe individualisme van die sestiger-Fransman in hom laat blom.

Uit ’n vroeë Paryse brief: "Ek is dol aan die werk, dag en nag ... Op soek na iets 'nuuts', daar is onteenseglik prikkels van Joyce, maar ek glo nie 'navolging' nie. Dit kán ek nie. (Kan iemand?) Eksperimenteel, miskien, maar nietemin 'n baie hewig beleefde ding."

Nog twee weke later skryf hy: "Roman klaar, drie-vier dae gelede, en ek lewe nog steeds in sy 'dampkring'. Ons het snags twee-uur gaan slaap, en die laaste ure het my liewe vrou my aan die lewe gehou met pannekoek en pampoenkoekies ..."

So is Lobola vir die lewe gebore. Ek skryf en vra oor invloede. Hy antwoord: "Invloede? Joyce het my oë oopgemaak, Beckett en die Franse nouvelle vague het 'n koers gesuggereer, Hemingway het verhoed dat ek die spoor byster raak; maar hoofsaaklik het oubaas Picasso kleur en lyn verskaf ... Hoofprobleem gaan ons ou volkie se ongeskrewe maar bitter sensorskap wees. Want daar is min grense wat ek nie oorsteek tov Afrikaanse taboes nie."

Lobola loop egter vas teen mure van argwaan oor sensuur en die komende Wet op Publikasies. Vir André breek die tyd van tandekners aan. Hy skryf: "Dis lewensbelangrik dat ek deurdruk met die boek. Ek is heeltemal voorbereid op enige soort snydende kommentaar – mens kan skaars iets anders verwag – maar dit gaan om ander dinge as erkenning. Dit gaan om die vryheid om te dink en te sê; om eerlikheid. En dit sal my dwing om die pad end-uit te loop."

Ek was bevoorreg om daar te wees en daardie ontwaking met André mee te maak. Ook om in die laaste paar jaar die pad enduit met hom te loop. Kort voor sy dood het hy Wordsworth weer meermale aangehaal: “Bliss it was in that dawn to be alive. But to be young was very heaven.”

Ek huldig my vriend vandag met ’n seer maar dankbare hart.

 

Vlnr: Etienne Leroux, André Brink en Breyten Breytenbach in Parys omstreeks 1960
Bron: Ons Erfdeel. Jaargang 21. Stichting Ons Erfdeel, Rekkem / Raamsdonksveer 1978

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top