Gister gons dit op Facebook – Melly is dood. Soos Speedo Wilson in ’n e-pos aan my laat weet het: Hy glo dit nie. Minder kon ek dit glo.
Ek het hom in 1980 ontmoet. En ons het een belangstelling gedeel – musiek. Dan was daar die joernalistiek. As joernalis het hy by Die Burger begin. Daarna is hy Rapport toe voor hy by Die Son geland het.
Soos die Sidego-broers – Conrad en Peter – het sy loopbaan by Keeromstraat 33 begin. Dus, as joernalis het hy diep spore getrap. Deur noodtoestande, mediaregulasies, die UDF, die opheffing van die verbod op die ANC, die vrylating van Nelson Mandela … hy het baie in sy leeftyd gesien.
Melly het ’n fyn sin vir humor gehad. Nadat Naspers na Heerengracht 40 verhuis het, kon ’n mens saam met hom by die ou Monte Carlo oorkant die pad gaan kuier en diep gesels.
Wat egter uitstaan is dat hy ’n taalbul was. Afrikaans was sy liefde.
En soos baie bruin/swart verslaggewers uit daardie tydperk het hy nie gemeenskapsdiens vergeet nie. Enigeen uit die gemeenskap kon aan sy deur klop vir raad, hulp of om ’n berig te plaas. Hy was nooit verhewe bo die gewone mens nie.
Een van die vroeë musiekhelde waaroor hy geskryf het was Johnny Starr – ’n boorling van Malmesbury. Ek het Johnny deur hom ontmoet. Tydens ’n besoek aan ’n nagklub in Durban ’n paar jaar gelede, loop ek vir Johnny raak. En steeds het hy Melly as mens en joernalis geprys.
Dit is moeilik om ’n huldeblyk te bring aan iemand wat so groot was. Net twee weke gelede gesels ons nog oor ’n lang-vergete kollega wat hom nou in die staatsdiens bevind.
Die volgende berig uit Die Burger is ’n paslike huldeblyk.
Yuri

