Huldeblyk aan die laaste Afrikaanse denkers

  • 7

Hierdie skrywe word gerig aan Afrikaanse “intelligentsia” wat, ter wille van die beskerming van hulle poste en die bevordering van publieke profiel, aan hulself die reg toeëien om Afrikaans in die publieke ruimte groot skade te berokken. Die effek hiervan is dat my generasie en die wat volg van die geleenthede ontneem word om onsself te ontwikkel en bekwaam, en gevolglik nie oor die selfvertroue en vermoë beskik om onsself teen hulle te verset nie. Die troosprys is darem dat die taal nog ’n huistaaltjie gaan bly, wat soos moedersmelk gevoer word tot ’n mens oud genoeg is om te loop en dan moet jy aanbeweeg na meer voedingryke kos.

Die vermetelheid van hierdie “denkers”, waaronder akademici, koerantredakteurs, openbare figure, aanbieders, omroepers en rubriekskrywers tel, lê daarin dat hulle brood gebotter is aan twee kante: die einste ding wat hulle aftakel, is juis die medium waarin baie van hulle hulle brood verdien. Hulle spring ook vir elke geleentheid om op Afrikaanse platforms te verskyn en in die taal op die taal te braak. Ek is nie seker of die skisofrenie, waarvan die simptome gediagnoseer kan word enersyds as ’n beeldpoetsing van Marxisme, en andersyds as die gulsigste vorm van kapitalisme, opsetlik is nie, en of dit ’n kwaal is wat ontwikkel uit jarelange skoenlekkery nie.

Die benadering van hulle “denke” (die aanhalingstekens ingevoeg omdat dit in die naam van denke aan ons afgesmeer word) is om politieke napratery te begrond in statistieke, wat die verdere doel dien om die geringste spore van eiebelang uit te vee. Statistieke, soos ons almal weet, is vanweë die abstraktheid en objektiwiteit daarvan, onweerlegbaar. Daarteenoor is enige tasbare fondasie (soos ’n moedertaal) verwerplik, of ten beste “sekondêr”. Die verdere kenmerk van statistieke is dat die resultate bo die motiewe en interpretasies van die statistieke verhef word. Opnames word met ’n spesifieke doel opgestel, en indien dit aan hierdie doel voldoen, spreek dit vanself in ’n stem wat alle ander stemme uitdoof.

Wat hierdeur bereik word is nie, soos hulle aanneem, emansipasie en integrering nie. Die aftakeling van “hoër” onderrig tot ’n instrumentele inrigting wat bekwaamheidsdokumente produseer (laasgenoemde kenmerk verduidelik ook die weerstand teen Afrikaans, en daarmee saam ander moedertale, naamlik dat hierdie tale nie in die globale mark ’n plek het nie) lei juis tot die teenpole van hierdie doelwitte, naamlik die redusering van menswees tot arbeid – die punt waarin die Marxistiese en Kapitalistiese mensbeelde (die mens as uitsluitlik Homo faber) saamvloei, en distansiëring tussen mense. Teenoor laasgenoemde stelling sal hulle onmiddellik aanstoot neem: die grootste prestasie van die transformasie wat hulle voorstaan is juis inklusiwiteit! Die ruimte wat geskep word vir hierdie inklusiwiteit is egter in die eerste plek ’n ruimte van selfvervreemding. Dus: om die “ander” te ontmoet in ’n ruimte waarbinne menswees tot statistieke en meganistiese werksvoorbereiding (eiebelang) verskraal word, is om afstand te skep tussen die tasbare aspekte van menswees, waarvan moedertaal een is. Indien inklusiwiteit ’n waarde is wat nagestreef moet word, dan moet dit die volle menswees van diegene wat hierby betrek word kan akkommodeer – nee, bevorder en kultiveer! Hulle begrip van inklusiwiteit en transformasie, van nader beskou, kom neer op totalitarisme. Onder die vaandel van “hoër” onderrig word afskalende gelykmaking mense aangedoen.

Ek het die slinksheid waarmee hierdie benadering by studente tuisgebring word ervaar as ’n filosofiestudent aan UP. Vir my was daar gesê (deur die departementshoof nogal!) dat Afrikaans ’n “minder filosofiese taal” is. As tutor moes ek verneem dat daar nie genoeg geld is vir Afrikaanse tutoriale nie (ten spyte van die feit dat daar genoeg betalende Afrikaanse studente was om die lokaal vol te maak). Laastens moes ek ’n jaar na die eerste weergawe van my verhandeling ingedien is, spook om my taalgebruik op standaard te bring. My medestudente en diegene wat na my ingeskryf het, was nie so gelukkig nie. Veral nie diegene wat nie die voorreg het wat ek gehad het om op die kundigheid en ondersteuning van persone en boeke by my ouerhuis staat te maak nie. Op hierdie punt moet ek ook dan noem dat ek nie namens bruin Afrikaanse studente praat nie, maar julle blatante ignorering van hierdie mense kom neer op rassisme, dieselfde ding wat julle kamtig so ruiterlik beveg.

Julle besmet jongmense, wat nog nie ryp genoeg is om te besef wat met hulle gebeur nie, met julle eie paniekbevange eiebelang, en dan swaai julle die stank van hierdie baksels onder die publiek se neuse in die vorm van statistieke. Van die studente wat besef wat gebeur en daarteen uitspreek word as rassiste uitgekryt en die wat nie wit is nie word geïgnoreer of selfs geviktimiseer.

Julle behandel die taalkwessie en die toenemende onluste wat tot die sentralisering van die universiteite (net soos die SABC) lei, as twee afsonderlike aangeleenthede, die een bevrydend, die ander kommerwekkend. Die feit dat julle nie die ooreenkoms tussen hierdie twee verskynsels en julle eie aandadigheid hieraan kan raaksien nie, is miskien die eerste teken van hoe julle in die geskiedenis opgeteken gaan word: as hoofnarre in ’n sirkus wat eens die naam van ’n universiteit gedra het.   

 

  • 7

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die uitstekende insigte en formulering in hierdie teks toon dat daar nog baie vernuwende gesigspunte in die taaldebat na vore tree. Ons moet nie berus in die vertrapping van Afrikaans nie.

  • Ag nee wat. Ek raak sommer gatvol vir skrywers soos hierdie een wat kerm en kla, sonder om enige positiewe alternatiewe aan te bied. Hy buit die geleentheid suiwer uit om 'n sekere deel van die Afrikaner gemeenskap aan te val, vanuit sy eenogige ideologies oë gesien.
    Afrikaanssprekendes sal voorts gewoond daaraan moet raak dat mettertyd alle staatskole, kolleges en universiteite uitsluitlik Engelse opleiding gaan aanbied.
    Sien eerder hierdie bedreiging as geleentheid aan, nl die stimulus vir die uitbreiding van Afrikaanse privaatskole, kolleges en universiteite waar die staat min vatplek het, selfs die uitbouing van tuis aanlyn-opleiding as opleidingsmedium. Helpmekaar Kollege (hoërskool) en Soltech (tegniese kollege) is reeds voorbeelde van Afrikaanse privaatskole wat by hulle nate uitbars.
    In Namibië waar die amptelike taal uitsluitlik Engels is, groei die Windhoek se Afrikaanse Privaatskool sonder enige gekerm, 'n jaarlikse gesonde groei in leerlingtal.

  • Helize van Vuuren

    Waar is die huldeblyk? Lyk na een lang verbitterde tirade. Soos NP van Wyk Louw geskryf het, "mis is daar en mis is daar genoeg", anno 1962 in TRISTIA. Waarom dan so 'n eindelose galbrakery? Gedenk liewer Maarten Versfeld, Degenaar, Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Karel Schoeman, en vele meer. Gaan lees bietjie VERKENNING. Begin by die slot - laaste twee bladsye. En begin dan by die begin. Mag die bitterheid sak en soetheid oor daardie donker verhemelte daag ...

  • Wat my walg in hierdie hele debakel oor Engels/Afrikaans by universiteite is die blatante elitisme wat daaragter skuil. Hoekom, noudat universiteite gaan verengels word daar groot ophef van gemaak? Wat dan van die verengelsing wat jare lank reeds in besighede en die private sektor plaasvind? Universiteite het geen spesiale status in die land nie. Die opleiding wat aan universiteite gegee word is maar 'n druppel in die emmer van alle opleiding wat in die land gegee word. Soos reeds gesê: daar skuil flagrante elitisme agter die taaldebat. Nie een van ons elites het 'n woord gerep toe die werkswinkel begin verengels het nie. Of toe professionele liggame net Engels begin praat het nie. Om die waarheid te sê, die intellektuele ammunisie teen Afrikaans - decoloniality, inklusiwiteit, politieke korrektheid, ens is juis braaksels vanuit elite kringe, veral die universiteite. Plotseling gebeur by universiteite se ivoortorings wat jare lank al in ander sfere van die samelewing gebeur en nou is dit 'n 'krisis'. Praat eers bietjie oor hoe ons die werkswinkel, die hof, die restaurant gaan verafrikaans voordat daar oor die universiteite gepraat word.

    • Felix, dankie vir hierdie wekroep. Nou waar sal ons begin om eers te praat "oor hoe ons die werkswinkel, die hof, die restaurant gaan verafrikaans"? Dis so 'n geldige punt en die onbegonnenheid van vooruitsigte vir vordering daarmee dui op die omvang van die dilemma waarin Afrikaans verkeer.
      Daarom seker dat mens mens maar vir eers wend tot die onderwerp van Afrikaans se regmatige plek by universiteite. Ten minste geniet daardie onderwerp tans baie aandag en mens behoort hierdie skaars geleentheid van kollektiewe fokus daarop ten volle te benut. Dis ook nie te versmaaie om Afrikaans se standplaas by die laaste enkele oorblywende universiteite, met 'n mate van Afrikaans, te probeer handhaaf nie.
      Die mate waartoe suksesse behaal kon word met die benutting van die wesenlike momentum met die debat oor Afrikaans by universiteite, kon bydra tot die uitbreiding van inisiatiewe vir die belangrike gebiede in jou wekroep.

  • Uit-"blerrie"-stekend!
    Dankie Hercules - ek het op die Chairefoon-inisiatief afgekom; en kon ek toe daarna 'n internetsoek doen en afkom op jou gegewens en artikels op LitNet; via Maroela Media se Podlitiek onderhoude artikel - geplaas op 1 Februarie 2019.
    Wat 'n vars bries en kans vir intellektuele gesprekvoering het ons nie in jou en die inisiatief nie!
    Die punt is soos ek slottenderwys na aanleiding van die podlitiek artikel op MM kan opsom: ons pragtige tongval het NIE die verfoeilike staat NODIG om te floreer nie, trouens, en dit hoop ek sal die wat verraad teenoor ons moedertaal pleeg by die instansies ook hoor en weldra besef: Afrikaans gaan hulle agterlaat – hulle gaan nog uitvind dat hulle sonder Afrikaans gaan ronddobber by die marxisties geïnspireerde Staatsindoktrinasie-sentrums op 'n oseaan van onsekerheid, minderwaardigheid, doelloosheid en uiteindelik identiteitsverlies en verval van denke en menswaardigheid!
    #LIEF AFRIKAANS

  • Beste Charles,

    Jou reaksie het my weer na hierdie stuk toe teruggebring. Taamlik harde woorde het hier geval moet ek sê. Die jammerlike toedrag van sake (wat nie in oordrywing hier gestel word nie), was egter ook die vonk wat ons nagraadse filosofiestudente daartoe gedryf het om op ons eie met nuwe inisiatiewe te begin, en ek moet sê, dis lekker om met kreatiewe dinge besig te wees. Dankie vir die aanmoediging en mag ons nooit die fakkel van Afrikaans laat uitdoof nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top