
Foto: Canva
Huisgodsdiens
as die son se warm lig
in die aand
voor die donker van die nag
uit ons karoo-huis vlug
word alles stil
en as die nag se swart
triomfantlik
oor die velde kom
ons huis se kamers vul
skitter die suiderkruis
skroei die olielamp
se dowwe vlam
flikkerend
op die blink gepoleerde
tafel van hout,
in die warm kombuis
en soos donker
geeste
troon ons skadu’s
teen die spierwit muur
stille luisteraars
wat nog
gekersten moet word
in die koolstoof
helder brand
vir ewig
’n uitgebrande
verkoolde vuur
en ons kinders
ons sit soos olyfboompies
om die ronde tafel
wonder hoe lank
die ewigheid sal duur
moeder vroom
afgesloof en moeg
sit onder die gebed
handegevou en droom
vooroorgeboë
by die dowwe lamp
terwyl
sy vinger die woorde wys
slaan pa die bybel oop
lees van ’n Man
wat hulploos hang
aan ’n ruwe kruis.


Kommentaar
Diepsinnig.