Huis, woning, tuiste: Jy

  • 0

Jy

ek sluip saggies met my kaalvoete oor die koue teëlvloer 
versigtig dat die herinneringe nie ontwaak

ek blaas die rook van jou menswees
stadig deur my lippe
en laat dit smeulend sluimer in die asbakkie
wat langs my drink staan

jy is die watermerk wat my glas
op my lessenaar agterlaat 
al wat oor is van iets wat my eens
geluk sou verskaf

jy het aan my hart geruk
soos die rillende herfswind
wat verbete die vensters laat bewe 
en die deure laat klap 

nes die laaste sigaret
en die laaste slukkie koffie
is jy óók dan nou weg

wat ek nie sou gee om jou finaal
uit my gedagtes te kry
sonder moeite en second thought 

om jou moeiteloos weg te vee
soos die beskuit van laataand swotsessies
die stof op my boekrak 
die hare op my kamervloer 

ek’t gedink ek’t begin vergeet
maar sonder waarskuwing
pootjie jou oorblyfsels my

daardie kenmerkende reuk van jou
wat so dikwels nog aan
die mure van my woonstel bly klou


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top