Huis, woning, tuiste: John Benn se inskrywings

  • 0

Piketberg
die wind waai ’n tolbossie in jou rigting

Piket Berge,
aan jou voete kom staan ek bakhand
nie vir gierige geld of onstuitbare stiltes nie
ek kom met my swartgallige tong
ek beitel en blaf van die kus tot by jou
oor als – oor droogte, kind kry en kind maak.

Piket Berge,
jou berge is vas geloods in my hart
die epitawe en oortollige verse
van deurdrenkte geluk en gegiste
familie in begraafplase en dies en daar’s ...
alles oor dié vers ek ná ervarings en bedaring.

Jou Berge is honger vir besoek.
Jou grond vars en gesond vir knus en rus
vir die wat nog terug sal keer
die wat alreeds hier gekettingloop
in alle vryheid en die wat jou ken ...
korrel vir korrel

steeds is jy ’n tregter en maatlose kind in hul dooilike oë 

Piket Berge,
as die Herold van die seisoen kom
sal jy ons almal verduur en verdra in ons verraad teenoor jou prag?

 

Vrou in ’n lenterok
vir my ma

Haar vel is donker en dik.
Haar hartjies fyn en gestaaf met haar trots.
Vandag dra die vrou ’n lenterok
met bloeisels van pers, geel en olike papegaaigroen
soos my kop dit resiteer
dit wapper en gly verby al die drama van die dag.
Haar hand is swaar en gelaai met lyne
sy lees nie hande nie – sy kweek dit
in die hortjies van haar hart
met haar plat skoene
plat
plat op die aarde
nes almal haar ken
geen lyn geen droef kraak
of miserabele ontug van die lewe
kan so ’n vrou misken nie.
Sy’s ars poetica inderdaad self.

Haar ore het ek gevryf om aan die slaap te raak as kind
haar hele bestaan tolk nou verse op verse in my beste drome

 

Haar webbe roer
opgedra aan die digteres wat my ouma was

Haar webbe roer.
Ontstoke verslap haar nimmer
been
gekors gekneus verwyt
sy die heelal wat nou bestaan van
haar tuin tot binne haar kombuis.
Ouma, maak lekker kos;
die blou are en spatare
die goeie en slegte dae se kromtrekke
wat altyd daar is.
Met die lag. Met die pyn.
Haar webbe roer
Sy leef die dae vir die nagte
En die nagte vir die dae.

 

Op takke van anderste bome.
Vir Oliver Hansen – my Duitse kamermaat en biltong-vriend

Ek wil weer met die skemer
’n fiets trap en hier met jou kom lê.
Op takke. Elkeen in sy eie boom.
En as die tyd stilstaan en die geluide bots met die paaie
sal ek weer ’n fiets trap en hier met jou kom lê.
Op takke. Elkeen omvou met blare.
Want die Victoriaanse huisie regs knipoog
groet my en slaan my met heimwee
t’rug t’rug t’rug
na ’n tyd waar ek en jy
nie hier kon wees nie.
Maar hier is ons nou.
Bruin. Wit.
My fiets – Ferry.
My herfs en jou tekkies.
Op takke.
Elkeen in sy eie boom.

 

My Meisie
’n relevansie op Breyten Breytenbach se ‘My Vrou’

My Meisie se naam is Emily
Nog nie My Vrou nie Breyten
Maar My Meisie

Haar hare is swart soos git
Haar oë is ’n mengsel van Maan en Mars
Haar neusie is nie plat nie
Maar haar mondjie is toevallig ’n rooiborsie
gestol in die vlug
En agter haar tande hang die
vleesklok van ons
deurmekaar land.

Emily
Emily
deur jou kry ek nog puisies
Jy is nog nie My Vrou nie
maar wel
My Meisie

En al julle belustige oë, Here,
laken-kak en bed en toontjies
as julle verwag, manne op
Facebook, Instragram en in
haar Afrikaanse-klas, dat ek My Meisie,
leen en deel in die kooiens
van julle verbeelding ...

Dis ons twee wat lelik lag (My Meisie en ek)

Om af te sluit,
Haar ore is dus katedrale
Haar hande is weinig soos wyn
Haar voete tower beter as
Da Vinci-werke
Nes jou roosblaar en klein konyn, Breyten
Porsies spek en bloed
Nie van die beste nie
Maar DIE beste in ons land.

My Emily
Nog nie My Vrou nie Breyten
Maar wel
My Meisie


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top