Huis, woning, tuiste: Huis

  • 0

Huis

“Teken jou huis,” sê-vra ek die kind hier by my,
Ek kyk toe hoe ’n vierkant en ’n rooi dak vorm kry.
Sy maak die vier-letter woord − so toegewy
En klaar, so kinderlik onskuldig, wonder sy of myne ook so lyk.

Het ek ’n inventaris wat hierdie duisendvoudige begrip kan meet?
Sou ek dit so kan illustreer dat elkeen seker sal weet:
Dáár woon warmte, liefde, vrede, vreugde ... en al kom klop Leed
Is my woning ’n skuiling wat die Boosheid nie kan reik?

Hoe sal ek kan toon dat my huis is in my man se omhelsing,
Verskuil is in die warmte wat my ma se brief steeds bring,
Gehoor kan word in die geliefde stemme wat my omring,
Gekoester word in my dagboekblaaie wat so huis-tuis ruik?

My huis is sonder adres, iewers tussen Oos en Wes
Oneindig meer as wat ek in my reistas kan pak − ’n rotsvas nes,
Maar Lewend, intens met my seerkry, ontnugtering en groei begaan −
My tuiste is oral waar ek lê, sit of staan.

My huis is die naelstring wat my met gister verbind
En my help om die toekomspad te vind.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top