My huis ...
Ek's lief vir my huis nes hy is – vol snuistery en stof,
Waar die seelug my sout opklont en die wind waai altyd rof,
Elke dryfhout, elke skulp & klip ... laat my geborge voel,
Al dien dit geen manjifieke of funksionele doel.
’n Volstruiseier van Sutherland, ’n klip van Ladybrand,
’n Cokeblik met ’n veldblom in – reg langsaan my kitaar,
’n bottel vol met seesand en ’n droë koringaar,
Dis ’n bietjie van ’n kraaines – en baie van ’n basaar,
My wynrak is vol bottels, maar hier kry jy geen wyn,
Dit vertel van al my reise, en vrolik’ samesyn.
Want dis ’n tarentaalveer wat my trane keer ... met blikke dof vol roes,
Ou foto’s teen my mure wat my anders maak as die bure,
Blou bottels in my vensterbank en ’n sonneblom van die plaas,
Dis hier waar ek my afsluit, van skinder, misdaad en geraas ...
Ou tydskrifte – koerantberigte, kreefbredie in die pot,
Hond lê op die mat en kat sit op my pop,
En netnou stap ons see toe om optelgoed te kry ...
Wat netjies op ’n brander – oor sandbank – strand toe ry,
Ek dra my lewe in my lyf – en saans kan ek daaroor skryf ...
Mense wat wil kuier om te kla – moet eerder ander help,
Want hier stap ek al vroeg reeds, met seeskat en uitgespoelde kelp,
Moerkoffie op ’n bankie met ’n uitsig oor die see,
My diere speel baldadig elke enkel tree,
My voete, hondepote op die rotse, en binne-in die see.
Dan vat ek al my skatte – om my erf en stoepie te gaan vee ...
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


