Die wêreld is my speelplek, maar ...
Ek kyk op deur die aanhoudende Europese winterreën na die eeue oue katedraal
en ek onthou hoe hy my daardie eerste dag in September gekog het.
Jy sal dit tog nooit maak nie! Kyk jy’t dan nie eers ’n kaart of ’n kompas nie.
Wat weet JY? het ek teruggeskel terwyl ek my te swaar wieletjiestas in ’n nou stegie afgesleep het.
Met ’n knop in my keel.
Gedetermineerd.
In ’n dorpie waar die katedraal met die blou vensters die enigste gespreksaanknooppunt is
het ek vinnig geleer van brood eet, wyn drink en dat winkels nie op Sondae oop is nie.
Het my badkamer se ongelooflike uitkyk oor Ons Dame my gunsteling sitplek geword.
Het die klokke se beier al om die uur my horlosie geword.
Is hy my metgesel in die oggendure deur die kombuis venster,
wanneer
die olifant in die stofvoetpad
die piet-my-vrou se roep op ’n warm Desembermiddag
my ouma se koel buitekombuis
’n donderstorm, Ubuntu, groot koppies koffie en ’n dik sny kaaskoek
te veel gemis word.
Voor ek my kon keer het ek halsoorkop verlief geraak op die dorpie. MY dorpie. My grootste droom van Frans praat en die wêreld alleen plat reis is byna voltooi.
Sukses!
Ek gooi weer ’n blik op die katedraal. Wat dan nou?
Iewers hoor ek ’n geritsel in die gras, ruik ek ’n stofdruppel wat val en hoor ek ’n seekoei “ho ho ho”.
Afrika roep my
Haas jou, ek het ’n huis nodig!
Liewe Mens,
Ek is kwaad. Gefrustreerd.
Waaaaaar is jý?
Voor verlede week was dit kos in Lyon,
laas naweek was dit kuns in Parys
volgende week die strande van Portugal
Vet pret. Tot ek agterkom dat daar net een mens op die foto is.
Liewe Mens ek weet dit klink so simpel soos witsous op ’n skoon vloer
en dat my Ouma reg is as sy sê ek het nog baie tyd om jou te ontmoet.
Maar Dinsdag op die trein terug van nog ’n ongelooflike reistog was ek moeg.
Sat vir alleen by ’n stil woonstel aankom.
Woedend dat ek ’n aandete net vir een aanmekaar moes slaan.
Ek is só gereed om jou my huis te noem.
Om saam jou voor my katedraal te dans
jou te ontmoet in ons gunsteling koffiewinkel
’n soentjie te steel terwyl ons wag op ’n perron
of selfs net saam in die tuin sit en bid.
Liewe Mens, haas jou, ek het soveel liefde om vir jou te gee.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


