Ek dink ek’s ’n huis vir anoniem-iteit
Raak aan die slaap langs ’n
vel
papier
As ek wakker word is my
vel
deel van die papier
My hartklop is
die ritme van die ongeskrewe gedig
Daar’s huise
woonbuurte, dorpe, stede
ongepubliseerde gedigte met
opgedroogde traanmerke wat moes wees
deure
En iewers hoor ek ’n storm brul
vokale en klinkers van jaloesie
As die TV suksesverhale blêr
my gedigte teruggestuur word
betyds
om geboorte te skenk aan nog
ongepubliseerde gedigte
3 Januarie
(Die dag wat ons matriekuitslae bekend gemaak word en huise verander)
En tradisies is wit gordyne wat voor groot verhoë hang,
ek weet
met tonele daarop
Sê ek nou
“Exit, pursued by a bear”
soos Spud het ek geleer om te vlieg
en toe in ’n pot onoorspronklikheid geval
en ek’t toe daardie onderskeiding vir Engels
in elk geval ook gemis
In my drome
hardloop die merrie deur die gras
wanneer die bruin beer haar vang
spat die bloed op die bladsy
spat die ink deur die vel
Van die lyntjies papier van my heel laaste vraestel
en ’n hingsperd eet my honderdjarige skoolklere op
wapen en al
Ek bewe want ek’t nie my wiskunde-huiswerk gedoen nie
Ek weet nie hoe om irrelevant te spel nie
Ek is bang.
Elke huis
Jy kan maar weet nog voor jy die kosblik oopmaak
Sien witbrood sonder korsies
Met ham en kaas en tamatie
En gherkins,
’n Appel wat jou aanstaar
Blinkrooi
jy weet jy moenie jy weet jy moenie
maar jy doen dit nog steeds
draai hom om en sien
die vrot kolle
Wiskunde en sy onderwysers is die somtotaal van my probleme
verskoon maar die eerste persoon dis net
makliker en meer warm om te
bou, ’n huis, asof mens ’n
huis is ’n gedig kan
bou
’n selfbeeld kan bou
wanneer daardie bries nee stormwind jou elke dag dreig
was veronderstel om wiskunde huiswerk te doen
gisteraand toe verloor ek dit toe sin cos en tan
smeek om gedigte te word gevolglik
SINne en somme COS hare
Op jou
TAN
de
After all
Vandag vir die eerste keer ’n gedig
ingestuur vir ’n kompetisie
skaam-skaam die knoppie gedruk
na my ma gehap toe sy vra wat ek maak
Vergewe my maar
tien teen een sal my mure van bravade
in elk geval kraak
wanneer my gedig nie saam met
al die ander
goedgekeurdes verskyn nie
Ek sal terugvlug na my ma
se huis
waar dit okay is om
net okay te wees
en nie ’n wêreldbekende digter
nie
After all
Ek is sewentien jaar oud
en ek belowe
hierdie is nie die laaste keer nie
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


