Huis, woning, tuiste: Alida Marais se inskrywings

  • 0

Vindmekaar

op soveel onvaste en verskrokke plekke
het jy my wankelings kon voel
en lánk reeds het jy geweet
selfs nog voor ek jou oë
my vensters gemaak’t
dat ek in jou gevoelige kamers
rus sou kry
want deur elke skrefie en hort
het jý
Ligwordende
deur my kom reën
en my tussen reënboë tegemoet
om soos ’n dieper ontroering
deur my te skyn
ja op soveel onvaste en onklaar plekke
het ek en jy onsself van gevondenes
tot vindmekaars vertaal
om te verken
en verwyl
in hierdie nooit-ykende
vokaal van gee
en hiér
hier wil ’k ’n lewe lank bly
vervloeid in jou áls
tot ons omhalsing die brokkels
van alle voorafliefdes
oorskry
volmaak en vas
soos die sagter voleinding van ’n tuiskoms

 

Is nie ons woning nie
(met apologie Totius : “Die wêreld is ons woning nie”)

Hierdie plek
is nie
ín my nie
en nie deel
van ’n dieper-intrek-neem nie

hierdie woning
hang soos ’n bieslose bors
aan ’n donkersfeer-seer
en tap genadelose
bloed uit klip

ja hier,
hier waar ek my hand op pyn probeer lê
het leef ’n somberseer geword
sonder son
of lig
en klou ’n kouekeel my naam

want ek weet
ek weet dat hierdie plek, nie my hoort is nie
en dat hy geen stand dra nie

en jý weet
mede-mens-mens
dat ons nie mane kan pluk
sonder kant’lende sterre nie

ons weet dat elke hemelasem stiller-stil geword ’t
en dat kleurlose kadawers
soos ’n eens-leef,
waghou in ’n
Uilelied
in ’n niet
en dat niks
nee niemand,
meer-of-minder soos ’n hemelruim verskiet nie

(want ons hoort
is nie hier nie)

en ons vlerke fladder vlerkloos en verplet
met stemme
se krys
wat windlangs bewoë bedelbede giet

já dat hierdie plek
nie ’n huis is nie
en ons vertrek ’n volmond verlede verlê ’t

 

Want jy moes my huis gewees ’t, Pa

ek onthou hoe ek na jou gesoek ’t
in ’n ontvanklike skoot
as my hart moeg was
van skeiding
en angs my beetgepak ’t
(maar dat ek deur jou omhelsing bly val het)

ek onthou hoe ek gebid ’t
vir vrede in jou stem
en geswoeg het vir die mik van jou arms
wanneer die bang van donker
my verniel het
(maar dat die aand langer
en swarter was)

en ek onthou dat ek
na jou gesoek ’t
in die Babel van my taal
en in die klip-klip-klippies in my skoen
terwyl my hande
konstellasies liefde na probeer maak ’t
(soos ’n kinderlikheid)

ek onthou
dat ek jou in al my hoekomvrae
gesoek het
en jy die antwoorde
in bewuste dorstigheid sou sleeptong
(soos iets onbelangrik)
en
ek onthou
hoe ek myself gering geskat het
as jou tong beduiweld sou kwes
(soos ’n altyd)
en hoe ek geleer het van krummels eet
(soos liefde) aan tafels waar gebed
gewoonte was

ek onthou hoe ek na jou gesoek het
in die klanke van Callas
(want sy kón sing)
en dan my eie stem ingeperk ’t
agter jou “sssjjjjjj”

ek onthou (en weet)
dat ’k aanhou soek het
na jou
binne ons skeefgetrapte struktuur
en steeds na jou soek
binne ’n nou-gekrukte-kierieloop
en gevlekte oumensvel

L’envoi

(maar dis ’n wrewelrige besigheid
hierdie aanhou soek

verál as die vind
in weë van wonde lê)

 

Die laaste vertrek van die huis

soos by ’n suiwerste geboorte
was jy kaal
onbevlek en witter as wat ek onthou
veel meer broos ook
en ek weet ek het bly kyk
na die onpersoonlike rekkie om jou toon
jou hare wat skielik sieklik gelyk het
en jou oë wat dieper wou spartel
as in jou anderjaar
maar jou hande
(onthou ek nou)
jou hande was bedaard en salig onbewus van die tragiek
oopgevou en warm langs jou lyf
so asof jy huis toe is
en tuis sonder enige bang
jou lyf gewetenloos gestrek en sonder droef
terwyl ek my wimpers teen die wegwees 
probeer wend
maar ek weet nou;
jy’t gekom
(dalk te kort gebly)
maar jy moes huis toe
om anderkant die Jordaan in rus te gedy

 

Lighuis

Roep tog weer-’n keer my naam
uit die ligtelaai van jou mond
en brand nog-’n-teermaal
’n stormlamp oor ruwe seë

want kyk
’n rooigety het haar trooswind
in dieptes vergeet
en waters kolk al weer my oë
soos ’n oorryp tyd van drag

asseblief kom paai my nóg ’n sagte keer
met jou tong
en woorde wat embrio-skulp
in jou mond
en sit my dan terug in die vlakwater
tussen sand en strandkiewiet
se spykerloop-aai
sodat jou oë my naam soos son kan streel
en jou kyk my die plekke wys
waar seevoëls elke blou bloots wil ry
sodat ek en jy in die nagasem-tilt
wind-af kan lê
en elke soutwang-eggo
oor ’n stiller oseaan
te laat blom


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top