Huil in my huistaal

  • 0

Foto: Canva

Huil in my huistaal

Dit was my eerste woorde –
klanke wat nog voor ek kon onthou
deur my ma se bors gevloei het,
’n taal wat my kom wieg het
soos slaapliedjies op warm aande.

Ek praat nou baie Engels,
skryf essays, antwoord emails,
lees digbundels van ander wêrelde,
maar Afrikaans bly die stem
wat binne my fluister
wanneer die wêreld raas.

Ek sê “sorry” in die dag,
maar “jammer” in die nag.

Al lees ek ’n Engelse Bybel
wanneer ek aan die voet van my bed sit
en my trane in gebede opgaan,
is dit Afrikaans waarin ek pleit.

Elke keer as ek Afrikaans praat,
gee ek lewe aan iets ouer as ek,
iets wat in my are klop,
iets wat nie verdwyn
as ek aksente aanleer nie.

Want al is ek soms tussen tale,
bly ek gebore in hierdie een,
en wanneer ek huil, huil ek
in my huistaal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top