Hugo Claus, Tom Lanoye, Protea, Vlaandere en Suid-Afrika

  • 7

Hugo Claus (foto: verskaf)

Na aanleiding van die onlangse Hugo Claus-lesing deur Tom Lanoye in Antwerpen, hiermee my persoonlike ervaring van verhoudinge tussen Suid-Afrika en Vlaandere.

Na my onlangse verhuising na België wonder ek opnuut oor Suid-Afrika en hoe daar van buite, en veral vanaf Vlaandere, na my vaderland en sy toekoms gekyk word. Internasionaal en ook in Europa is daar radikale politieke en kulturele veranderinge. Hoe dit Suid-Afrika en sy internasionale bande en ook sy rol in die geskiedenis sal raak, interesseer my nie net as skrywer van politieke spanningsromans nie, maar as trotse Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner in die hart van Europa.

Aangesien ek ’n diplomaat in België was tydens die oorgangsjare na ons demokrasie (1992–1995) en ’n bewonderaar is van Hugo Claus, een van België se grootste skrywers, oor wie ek ’n MA-verhandeling geskryf het, het die jaarlikse Hugo Claus-lesing deur die bekende Vlaamse literêre figuur Tom Lanoye my aandag onmiddellik getrek. Die onderwerp, “De wetsteen die Mandela heet”, het my oortuig om die trein na die Bourlaschouwburg in Antwerpen te neem. Hoe word die demokratiese Suid-Afrika twee dekades na Mandela vanuit Europa gesien? Is daar nog belangstelling in Suid-Afrika? Wat het geword van die Boere en die interessante variant van 17de-eeuse Nederlands wat aan die suidpunt van Afrika gepraat en geskryf word?

Dat daar al lank ’n besondere verhouding tussen Suid-Afrika, of dan Afrikaanstaliges, en Vlaandere bestaan, is onbetwisbaar. Dit is ook deur Tom Lanoye, ’n skrywer met popsterstatus in Vlaandere, bevestig in sy toespraak. Lanoye woon ’n paar maande van die jaar in sy huis in Kaapstad. Hy ken Suid-Afrika en het bekendheid in Suid-Afrika verwerf met veral die verhoogstuk Mamma Medea (in Afrikaans vertaal deur Antjie Krog) en die Afrikaanse vertaling van sy Kartonnen dozen.

In ’n stampvol Bourlaschouwburg is Lanoye as verhoogkunstenaar op sy stukke. Met kolligte op twee kateders met mikrofone aan weerskante van die donker verhoog sing Ladysmith Black Mambazo saggies in die agtergrond. Dit roer my hartsnare, want die verlange na die sonnige suide is reeds daar. Ek kyk om my rond na die teaterfundi’s en kwasi-intellektuele literati en wonder of hulle soos ek oor Afrika kan voel. Groot applous wanneer Lanoye op die verhoog verskyn. Die Antwerpenaar word graag as die “seun” van Claus beskou en is dankbaar vir die geleentheid, alhoewel hy vooraf laat blyk het dat hy min oor Claus gaan sê. Met humor stel hy gou die gehoor op hulle gemak.

Tom Lanoye (foto: Naomi Bruwer by US Woordfees 2016)

Tom Lanoye is eerlik en dwars en dikwels berekend moedswillig. Hy hou van kontroversie en kan daarmee wegkom. Tussendeur met fyn en soms kru humor trap hy graag op tone en hierdie lesing is geen uitsondering nie. Hy wil by sy landgenote weet hoekom Vlaandere (hy het nooit na België verwys nie) nie soos ander vooraanstaande Europese lande oor sy verlede, en by uitstek oor sy koloniale verlede, kan praat nie. Hoekom word daar in Amsterdam (daar is tans ’n groot tentoonstelling oor die 400-jaar-verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland in die Rijksmuseum) en Berlyn en Parys na die koloniale verledes gekyk en nie in Vlaandere nie? Hoekom was daar in Nederland en Brittanje anti-apartheidsbewegings en nie in Vlaandere nie? Hoekom is daar soveel pleine en strate in Nederland en Brittanje na apartheidsleiers vernoem en nie in Vlaandere nie? Lanoye gee wel erkenning aan die pasgeopende stadsbiblioteek van Gent, De Krook, wat met ’n Bikobrug en Miriam Makebaplein spog.

Terwyl hy verduidelik hoe die Vlaminge die Boere in hul stryd teen die koloniale heerser, Brittanje, ondersteun het, word ’n groot foto van ’n sterwende kind in ’n konsentrasiekamp tydens die Boereoorlog geprojekteer. Die Vlaminge (en die res van Europa) het die Boere as helde beskou in hulle stryd teen die Engelse, maar vir Vlaandere het die Boere se verset nog meer betekenis gehad as gevolg van hulle eie stryd teen die politieke en kulturele kolonisasie van die Franse.

Hierdie heldeverering is versterk deur die taalverwantskap met die Afrikaners. Hulle kon Paul Kruger verstaan tydens sy besoek aan België.

Lanoye gooi dan ’n paar gevaarlike klippe in die bos wanneer hy beweer dat talle Vlaminge wat aan Duitse kant teen die Russe geveg het tydens die Tweede Wêreldoorlog, na die oorlog na Suid-Afrika gevlug het, deels om aanklagte van kollaborasie met die Duitsers te ontduik. Kollaborasie is ’n uiters sensitiewe kwessie in België en dit is gevaarlik en gewaagd om hier sulke uitsprake te maak. In Suid-Afrika is hulle met ope arms deur eendersdenkende Afrikaners ontvang. Daardie broederskap is verder gevoer deur hulle steun vir die Nasionale Party na 1948 om apartheid as beleid uit te voer en die "terroris" Mandela en kommunisme te bestry.

Teen hierdie agtergrond begin die liberale skrywer sy chagrin teen bekende Vlaamse politieke en kulturele leiers. Terwyl die foto geprojekteer word van Hector Pieterson wat tydens die Soweto-opstande in 1976 deur Mbuyisa Makhubo gedra word, noem Lanoye die name van bekende Vlaminge wat in 1977 ’n pro-Suid-Afrika-vriendskapsvereniging genaamd Protea opgerig het. Hierdie Protea het niks met die huidige Suid-Afrikaanse krieketspan te make nie.

Hoeveel die gemiddelde Vlaming vandag van Protea en die destydse “Vriende van Zuid-Afrika” weet, is onseker. Miskien juis daarom dat Lanoye dit aan die groot klok wil hang, veral omdat van sommige van hierdie lede bekende en magtige politici en kultuurleiers was en steeds belangrike rolle in die Vlaamse gemeenskap speel. Hy noem name soos Leon Rochtus, wat die Orde van Goeie Hoop ontvang het vir sy antiboikot-aktiwiteite en ander Protea-stigterslede, soos Andre Vlerick, Clem de Ridder, Karel Dillen en Bob Maes. Hy beskryf hierdie mense as misdadigers, met die enigste toegewing dat hy miskien Protea se impak oorskat danksy sy eie warmbloedigheid.

Toevallig was een van my take as diplomaat in Brussel om met hierdie “vriende” bevriend te raak en hulle dan te “ontvriend”. Ek moes hulle oortuig dat “Die Stem” nie meer die nasionale lied is nie en dat die vlag verander het en dat daar ook ander mense as wit Afrikaners in Suid-Afrika is. Lanoye se argumente en my destydse pogings blyk twyfelagtige sukses te gehad het, as in ag geneem word dat “Die Stem” steeds (hierdie jaar vir die 80ste keer) tydens die Vlaamse Nasionale Sangfees deur duisende Vlaminge saam met die Nederlandse volkslied en die “Vlaamse Leeu” (’n nasionalistiese lied wat gebruik word deur persone wat hulle vir Vlaamse nasionalisme en ’n onafhanklike Vlaandere beywer) gesing word. Ek het self in 1994 as diplomaat daar gestaan met die nasionale TV-kameras op my gefokus as verteenwoordiger van Suid-Afrika. Met ’n hart vol emosie en gemengde gevoelens het ek nie saamgesing nie.

Lanoye vind dit goed dat daar steeds meer kritiek is op Nelson Mandela en die politieke foute wat hy gemaak het. Volgens hom het die res van die wêreld Mandela as die Messias en redder van Afrika aangegryp om van hulle eie skuldgevoelens ten opsigte van Afrika te ontsnap. Dit het myns insiens ook vir blanke Suid-Afrikaners gegeld; ek self het die eerste demokratiese verkiesing as ’n groot bevryding ervaar. Terwyl Lanoye oor Mandela praat, word die ikoniese foto’s van Nelson en Winnie Mandela op ’n balkon bo die Leidseplein in Amsterdam voor derduisende juigende Nederlanders getoon. Ek was bevoorreg om Nelson Mandela te ontmoet en die foto bring heimwee en opnuut herwaardering vir die ontsaglike versoenende rol wat hy gespeel het. Vir dié wat al vergeet het of te jonk is, gaan kyk maar na die film Invictus, al is dit die Hollywood-weergawe. Die meeste Suid-Afrikaners hunker terug na hierdie dae, al het die euforie van bevryding in die waas van die wen van ’n Wêreldbeker vir rugby en ’n Afrikabeker vir sokker verdwyn. Alles waaraan ons geraak het, het in goud verander.

Een positiewe verwikkeling en demonstrasie van Vlaamse betrokkenheid (al was dit laat), was die opleiding van Suid-Afrikaanse tolke in Vlaandere vir die Waarheid-en-Versoeningskommissie. In die gees van versoening kon politieke vyande, slagoffers en beskuldigdes in hulle moedertaal voor mekaar en die oë van die wêreld om vergifnis en amnestie van kriminele vervolging pleit. Tom Lanoye vertel hieroor trots hoe ’n kern van Suid-Afrikaanse tolke professioneel in Antwerpen opgelei is sodat alle Suid-Afrikaners in hulle moedertaal kon getuig. Hy brei met emosie uit oor hoe hy self vir hulle gekook het en hoe hy later waargeneem het hoe tolke uiters professioneel onder groot druk getolk het ten spyte van hulle eie hartseer en emosies ten tye van die amnestieverhore. Vlaandere het boonop vir al die opleiding en toerusting betaal en sedertdien was daar voortgesette kontak met betrekking tot die professionele opleiding van tolke deur onder andere samewerking en befondsing vir die Universiteit van die Vrystaat. Dit was seker een van die belangrikste bydraes en nalatenskappe van Vlaandere tot demokrasie in Suid-Afrika. Die Waarheid-en-Versoeningskommissie was ’n voorbeeld vir die wêreld hoe om met ’n nasionale trauma om te gaan en vorentoe te beweeg.

Lanoye keer terug na sy eerste punt wanneer hy sê dat hy eintlik nie dink Vlaandere gaan veel baat deur nou straatname en pleine na anti-apartheidshelde te vernoem nie. Net soos strate en pleine ná die Boereoorlog vernoem is na Transvaal en Paul Kruger en Steyn, gaan nuwe naamgewing nie Vlaminge help om bestek te neem van hulle skuld en koloniale verlede nie. Ek vind dit persoonlik ook onsinnig om mense op hierdie wyse te herdenk; ek herinner my hoe dit klink as jy soggens oor die radio tydens die verkeersverslag in Kaapstad hoor “Jakes Gerwel is congested this morning” of “Nelson Mandela staan doodstil op pad uit die stad uit.”

Een van die redes hoekom Lanoye net na Vlaandere en sy skuld verwys en nie na België nie (dink aan die kolonisasie van onder meer die Kongo en Rwanda), gaan ironies genoeg oor taal. Franssprekende België (Wallonië) het nog nooit in Suid-Afrika belang gestel nie. Eintlik ook nie in die Kongo of Rwanda na onafhanklikheid van België nie, maar dit daar gelaat vir nou. Lanoye se betrokkenheid by en belangstelling in Suid-Afrika is oor taal, en by name die Afrikaanse taal.

Die belangstelling in Vlaandere en Nederland in hierdie moderne Germaanse taal wat in suidelike Afrika lewe en bruis met sy eie letterkunde en grammatika en woordeboeke, fassineer Nederlandstaliges. Net soos talle groot Afrikaanse skrywers deur die Nederlandse letterkunde geïnspireer is, is mense soos Tom Lanoye, Herman van Veen, Stef Bos, WF Hermans en ander skrywers en kunstenaars van die noorde deur Afrikaans verlei. Toe ek vir Hugo Claus tydens ’n Claus-toneelfees in Rotterdam ontmoet het en hy hoor ek is van Suid-Afrika, het hy opgewonde vertel hoe hy Afrikaanse liedjies op skool leer sing het.

In Nederland en Vlaandere is daar groot belangstelling onder studente en kies talle taalstudente Afrikaans as vak. Veral in Amsterdam, Gent en Antwerpen (waar ek verlede jaar 27 derdejaarstudente gehad het) word die grammatika en letterkunde ywerig bestudeer. Daar is gereelde uitwisseling van skrywers en akademici tussen noord en suid en talle feeste waar Afrikaans sentraal staan.

Die kritiek van Lanoye teen pro-Suid-Afrika-organisasies van die verlede kan miskien ietwat getemper word as gekyk word na die uitkomste van talle van die besoeke en interaksies. Besoeke deur sangers (soos Jannie du Toit, Laurika Rauch, Amanda Strydom, Annari Breed) en skrywers en talle studente en akademici wat deur soortgelyke organisasies bemiddel is, het bygedra tot die interaksie en belangstelling wat deur taal moontlik gemaak word. Insgelyks het die wedersydse vertaling van groot literêre werke kennis en waardering vir die andere kulture gebring. Of dit gepraat of gesing of gelees word, taal word nie deur dogma of politiek bepaal of beperk nie.

Lanoye se finale pleidooi aan die einde van die Hugo Claus-lesing is dat daar in België, soos by ander voormalige koloniale moondhede ’n tentoonstelling gehou word waar na die rol (en skuld) van die staat in die buiteland gekyk word. Nie net vir “awareness” nie, maar vir kennis en nugter wete – die teendeel van “feiten wegmoffelen door er collectief over te blijven zwijgen. De eeuwige Vlaamse omerta die Hugo Claus zo treffend beschreef in Het verdriet van België.”

Tentoonstellings en refleksie oor skuld en kolonialisme is goed. Net so is samewerkingsakkoorde tussen state en stede, maar ons het nie amptelike verdrae of skulderkennings of belydenisse deur politici nodig om bande en verhoudings van die hart te smee nie. Deur die wedersydse toeganklikheid van Afrikaans en Nederlands is ons verseker van die ewigheidswaarde van poësie en prosa en toneel en musiek van ’n groter en grootser werklikheid, ontdaan van die beperkinge van mense of kleur of tyd of landsgrense.

Tereg, dan, dat Tom Lanoye die lesing afsluit met ’n pragtige voordrag van een van Hugo Claus se mooiste liefdesgedigte, “Nu nog”. Lees dit asseblief.

Hier is ’n YouTube-voorlesing van die gedig:

  • Quintus van der Merwe is ’n ouddiplomaat in België, skrywer en tans woonagtig in Gent
  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Dana van der Merwe

    Interessant en goed geskryf, Quintus!
    Ek het self so pas 'n novelle voltooi (ongelukkig in Engels) getitel "Killing for Queen and Country". Gaan oor Anglo-Boere oorlog.

  • Met grote belangstelling heb ik deze bijdrage gelezen. Zelf ben ik te oud geworden om naar dergelijke gelegenheden te kunnen gaan, maar ik volg Zuid-Afrika nog altijd, bijvoorbeeld via Lit Net.
    Graag zou ik hier even de aandacht vestigen op de unieke rol die het tijdschrift Ons Erfdeel in de jaren 70 en 80 van de vorige eeuw heeft gespeeld om de contacten met Zuid-Afrika niet volledig teloor te laten gaan. Met eigen bijdragen, maar ook door schrijvers als Jan S Rabie en André P Brink aan het woord te laten. Het waren verrijkende teksten, afgedrukt in het Afrikaans! Dit gebeurt vandaag de dag niet meer of veel te weinig. Ik wil geen vertalers broodroven, maar teksten in het Afrikaans behoeven eigenlijk geen vertaling.

  • Van Tom Lanoye is ook die volgende boeke in Afrikaans beskikbaar: 'n Slagterseun met 'n brilletjie, Sprakeloos, Gelukkige slawe. Al drie uitgegee deur Protea Boekhuis!

  • Avatar
    Quintus van der Merwe

    Ek wil graag byvoeg dat De Vlaams Leeuw sedert 1985 as die amptelike volkslied van die deelstaat Vlaandere erken word.

  • Avatar
    LIEVE VAN EEMEREN

    Inderdaad er is geen vertaling nodig van het Afrikaans naar het Vlaams of omgekeerd, verder vind ik dat de omschrijving van Tom Lanoye "zoon" van Hugo Claus , en Tom Lanoye weet dat ook, is "absurd"! Ik was wel blij verrast hem (Tom) te horen spreken in het mooie muzikale Afrikaans , Woordfees 2017 in Stellenbosch. Een Vlaming met veel temperament en humor ...

  • Dingie van Rensburg
    Dingie van Rensburg

    Ek hou van Quintus se resensie van die Lanoye-lesing: dis gebalanseerd, gedissiplineerd, en spreek van ervaring en wysheid soos deur die grysheid verseker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top