Die week in woorde
Soos ek verlede week vertel het, het ek vroeg hierdie week na my ouers se plaas toe getrek op soek na stilte en inspirasie om werk aan ’n ontwykende digbundel gedoen te kry. (Dit is terselfdertyd ook ’n poging om lastige verpligtinge soos my maandelikse huur te ontwyk.)
Ek is bly om te rapporteer dat die plan tot dusver ’n reuse-sukses is: die eerste groot vlaag inspirasie het my sommer getref voor ek nog vertrek het, in die gedaante van die briljante idee om vir my pa ’n hond vir sy verjaarsdag te koop. Binne ’n paar uur nadat die gedagte my soos die spreekwoordelike bliksemstraal getref het, het ek dit reggekry om die perfekte hondjie te identifiseer en te reserveer en daarvoor te betaal. Minder as 48 uur na die bliksemstraal was die hondjie in ons woonstel, besig om die vloer met sy eie strale inspirasie te versier. (Ag, as die gedigte maar so vinnig wou opdaag ...)
Daar is darem net niks anders op aarde soos ’n babahondjie nie. Hierdie ses weke oue bondeltjie pote en plesier laat almal wat hom teëkom, glimlag. In die stad het hy soet by my voete gelê terwyl ek werk, en as meisie-magneet gefunksioneer as ek êrens heen loop met hom in my arms. Hier op die plaas is hy behoorlik kaatjie van die baan en het selfs die knorrige boerboel oortuig om hom as speelmaat aan te neem.
Op die oomblik probeer ons vir hom ’n naam uitdink wat by hom pas, ’n proses wat meer ingewikkeld is as wat dit mag klink. Dis byna soos om die één woord te kies waarrondom ’n hele reël of gedig gaan draai. Vir my lyk hy soos ’n Andries en my ma hou van Noag, maar my pa, wat die laaste sê sal hê, is nog nie tevrede met ons voorstelle nie.
Terwyl ons hoop op die regte woord om hom aan te meld, verken ek en die naamlose hondjie ons nuwe omgewing. Hy jaag hoenders en ek jaag idees. Hy blaf vir grashalms en ek blaai deur boeke. Hy wag op sy volgende honde-snoepie en ek wag op ’n gedig.

Met ander se woorde
To sit with a dog on a hillside on a glorious afternoon is to be back in Eden, where doing nothing was not boring − it was peace. - Milan Kundera
Dis 'n hondelewe ...
... maar moenie dat dit jou onderkry nie. Hier is dinge wat jy kan lees en waarna jy kan kyk en luister om jou te herinner waarom die hond blykbaar ’n man se beste vriend is.
Billy Collins is bepaald die koning van die honde-digters. Die volgende vyf gedigte wys sy slag met die honde in woorde.
Another Reason why I don’t keep a gun in the house
’n Paar weke gelede het ek Dave Eggers se kortverhaalbundel How we are hungry gelees. Die verhaal “After I was thrown into the river and before I drowned” is vanuit die perspektief van ’n hond geskryf en vang die hond se stem uitstekend vas. Enigiemand wat iets wil leer oor karakterisering, of sommer net die lewe uit ’n hond se oogpunt wil beskou, kan gerus hier gaan lees.br/>
Joanna Newsom se stem mag dalk nie in almal se smaak val nie, maar hierdie liedjie oor ’n hond se pragtige lirieke is eintlik ’n bloedig mooi gedig oor sterflikheid.
Gaan kyk ook sommer dadelik na Daniël Naudé se foto’s van Suid-Afrika se unieke inheemse hond, die Africanis.
As jy nog nie van Africanis gehoor het nie, gaan voed jouself op deur hier oor hierdie honde te lees.
En ’n laaste iets om aan te peusel in jou honde-iglo: hier is ’n bladsy met ’n klomp gedigte oor honde.

Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


Kommentaar
Haai, Bibi
Jou nuwe hondjie se gesig lyk nogal op die van 'n panda, seker 'n plaaspanda. En dankie vir die roerende song deur Joanna Newsom.
WG