Filmresensie: Hollywood in my huis

  • 0

hollywood650

Hollywood in my huis

Regisseur: Corné van Rooyen

Spelers: Christia Visser, Edwin van der Walt, Louw Venter, Nicola Hanekom, Viljé Maritz, Leandie du Randt

Charlize Theron se “meisie van Benoni tot Oscar-wenner”-storie het gevrá om in ’n liefdesverhaal of fliek gebruik te word, en die Van Rooyen-span Corné en René het dit flink opgetel.

Jana (Christia Visser) is die spreekwoordelike meisie van onderkant die spoorlyn, met ’n afbetaalde treindrywer-pa (Louw Venter) wat by die huis rond knutsel terwyl hy begeer om sy eie kwekery te hê, en ’n gewese Mej Vasco-ma (Nicola Hanekom) wat haar haarsalon uit ’n woonwa bedryf, maar nog altyd geglo het sy’s vir ghrênder dinge bestem.

Jana se skool se matriekafskeid werk anders – jy kan dié gesogte geleentheid bywoon net as jou naam op Die Lys beland, en Jana en die buurseun Frikkie (Edwin van der Walt) se name is toe wraggies daar. Jana is verlief op die skool se superaantreklike tenniskampioen (Viljé Maritz), en aangesien hy en sy meisie, die skool se superfeeks (Leandie du Randt), pas uitgemaak het, is vra mos vry.  

Wat ontvou, is ’n egte, roerende verhaal wat deur puik spel gedra word. Visser het daardie onbepaalbare iéts, en daar is wonderlike chemie tussen haar en Van der Walt. Ook die ander akteurs bring hulle kant – ’n pluimpie aan die rolleregisseur. Waarvoor hierdie fliek egter volpunte kry, is die oorspronklike slot. Vroeg vanjaar was daar Leading Lady en Knysna, twee flieks wat ek baie geniet het, maar beide het presies dieselfde slot: die heldin wat terugkom na die held en haar in ’n troue vasloop, waar sy dadelik aanneem dat haar geliefde die bruidegom is. (Vreemd genoeg het al twee flieks ook ’n fiksasie met die Britse koninklikes as tema.)

Vir lekker Afrikaanse vermaak, gaan kyk gerus Hollywood in my huis.   

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top