Hoekom voer Christene oorlog as hulle (ons) geroep is om lief te hê?

  • 12

Die vryskutjoernalis Jean Oosthuizen spreek in Rapport (7 Januarie 2024) onder die opskrif “RSG druk die Bybel in ons kele af” sy misnoeë uit teen RSG, wat volgens hom al hoe meer soos ’n Christelike sender klink.

Hy pleit om NP Van Wyk Louw se oop gesprek, maar word eerder deur Christene gestenig. Wat my ontstel, is die kru taal (of dalk is grutaal ’n beter woord) en persoonlike aanvalle op die joernalis. Moenie vir my sê hy’t dit of dat gesê nie. Ons Christene is veronderstel om volgens die Jesus-beginsels van “haal eers die balk uit jou eie oog” en “draai die ander wang” te leef.

Wat egter meer ontstellend is, is die stilswye onder kerkleiers. Ek verwag uiteraard nie dat elke skaapwagter ewe skielik die kudde op Facebook moet betig nie, maar êrens moet iemand opstaan en sê dié aanvalle staan in direkte kontras met Jesus se boodskap van liefde en versoening.

Hoe verwag Christene om dissipels van alle nasies te maak as hulle woorde en dade – veral op sosiale media – lynreg teen die Evangelie bots? WWJD – What would Jesus do? – bly tog die kern voordat ons iets doen of sê.

Sy argument onder die vergrootglas

Elkeen mag sy opinie hê – Oosthuizen ook. Mense mag met my en hom verskil. Verskil is nodig vir groei, veral vir geloof.

Omdat my voete stewig geanker is, ontwrig sy versoek my nie.

Inteendeel, ek voel sy argument het meriete. Hy erken en aanvaar dat die meeste Afrikaanse luisteraars en koerantlesers Christene is. Hy gun dit ook aan Christene omdat hulle 80% van die bevolking verteenwoordig. Hy pleit wel om die broodkrummels van die oorblywende 20% – wat opgedeel kan word in humaniste, agnostici, ateïste ens. Niks meer nie. Net dit. In die res van die artikel staaf hy net sy standpunt. Mens hoef nie met hom saam te stem om Christelik op te tree nie.

Wat is dit in Oosthuizen se versoek wat so erg bots met mense se Christelike geloofsoortuiging dat hulle dit nodig ag om met hom oorlog te voer?

Verdra mekaar in liefde

Die predikant-skrywer Jaco Strydom herinner ons in sy boek Leef lig daaraan dat ons vergeet het wie ons is. Want jy kan die ander wang draai net as jy geslaan word. “Dat liefde veronderstel is om te wen.” Strydom predik gereeld op sosiale media hierdie mantra: “Don’t hate the haters.” Kom ons verander dit na: Moenie die nie-Christene haat nie.

Ons kan Jesus verteenwoordig net as ons anders lyk as die wêreld, daarom bid ek gereeld dat bekering in die kerk moet plaasvind. Dat ons meer soos Jesus sal lyk en minder soos die wêreld.

John MacArthur maak hierdie gewaagde stelling: “In fact: the hypocrisy of a superficially religious person has potentially even more sinister implications than outright atheism, because of its deceptiveness.”

Jesus waarsku ook dat ’n boom aan sy vrugte geken word, en nie een van die kommentare wat Oosthuizen op Facebook gedeel het, het Bybels vrugte gedra nie. Inteendeel ...

MacArthur gaan verder wanneer hy verklaar: “It is the height of irrationality and arrogance to call Christ Lord with the lips while defying Him with one’s lips.”

Gaan kyk asseblief weer na die kommentaar van die mense wat die Christelike geloof wou beskerm, en vra jouself: Het hulle enigsins Christelik opgetree?

Hoe kan ons dissipels maak as ons optrede van ons boodskap verskil?

Eerstens: Dit is nie die eerste keer dat ek sulke Christelike aanvalle op iemand sien wat van geloof met ons verskil nie. Net ’n paar jaar gelede het ’n boek by Naledi verskyn met die ontstoke titel: Die slegte nuus van die evangelie. Ek het die skrywer se naam vergeet, maar nie die aanvalle op die boek en die skrywer nie. Ek wil net dadelik byvoeg, ek weet van een of twee sinvolle gesprekke oor die boek. Maar met die meeste aanvalle was ek nie eens seker of mense die boek gelees het nie. Almal het ingespring en begin skiet na die vyand sonder om na sy hart te luister. Die boekverkope staaf nie die hoeveelheid kommentaar nie. Nietemin, kom ons delf ’n bietjie dieper in die nagevolge van sulke optredes.

Veronderstel iemand wat met Oosthuizen of Die slegte nuus van die evangelie-skrywer of ... of ... Facebook-vriende is, lees die Christelike aanvalle, wat sal hom oorreed om te bekeer as die bekeerdes se optrede presies dieselfde lyk as dié van sogenaamde sondaars s’n?

Ons kla wanneer Christene êrens in die wêreld vervolg word – ons moet waak dat ons nie dieselfde doen nie. Christelike vervolging lei niemand na Jesus toe nie.

Al wat fout is ...

Ek het baie aan die skrywer en resensent Trisa Hugo te danke. Sy vertolk ook ’n moederfiguur in my hart. Onlangs skryf iemand vir haar ’n dankie-boodskap rakende my en voeg hierdie haatlike woorde by: “Al wat fout is, jy (Trisa) is nie ’n Christen nie.”

Kan ek haar nie net liefhê vir wie sy as mens is nie?

Ek het Jean Oosthuizen by die Woordfees ontmoet. Ek wil hom nie bekeer nie en hy wil my nie laat ontspoor nie. Al waaroor ek spyt is, is dat ek nie in my besige program tyd kon uitsny en saam met hom kan mens wees nie.

Jesus is ’n vriend van sondaars genoem – mag dié woorde ook op my grafsteen staan.

  • 12

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ja jy het 'n mooi hart, Stefaans. Jy is baie verdraagsaam en respekvol teenoor andere se gelowe en perspektiewe. In amper alle opsigte, sou ek sê, is jy 'n modelburger. Ek kon jou ook darem vlugtig groet. En het jou eerste boek gelees en vreeslik geniet en daaruit geleer, dinge wat ek nooit geweet het. Ek het wel 'n alternatiewe perspektief op die dinge as jy.

    Ek lees op die oomblik die boek "A history of Christianity" deur Diarmaid MacCulloch. Dis 'n dikke boek van oor die 1000 bladsye en klein gedruk. Net om die storie gelees te kry, is in eie reg 'n storie. Hierdie is maar een perspektief op die geskiedenis van die kerk. Daar is hordes. Oor MacCulloch se Christenskap sal mens baie kan sê. Ek twyfel of baie Christene hom as 'n Christen sal beskou. Op die oog af skyn sy teologiese idees baie liberaal te wees. Hoekom ek myself so met godsdiens en die Christendom bemoei, is 'n vraag wat ek myself telkemale afvra. Veral in die lig van my totale ongeloof. Ek reken, was ek maar slimmer, dan het ek ander dinge met my tyd aangevang. Ongelukkig is ek geen vuurpylwetenskaplike nie.

    Die Christendom fassineer my egter vir voor-die-hand-liggende redes. Dis die grootste godsdiens op aarde. Van alle tye. Daarby het ek self as kind en jongmens 'n bepaalde Christelike denominasie intiem geken. En mens kan dit selfs stel dat ek letterlik tussen die kerkbanke grootgeword het. Dis 'n ope vraag vir my vandag of 'n mens werklik 'n godsdienstige groepering soos die Gereformeerde Afrikaanse (Calvinistiese) kerke in die algemeen, en die NG kerk in die besonder, waarlik as "Christelik" kan beskryf. Maar hoe dit ook al mag wees, reg of verkeerd, dit is hoe ek eens aan myself gedink het. As Christen. En dit is hoe lidmate van die NG kerk hulleself vandag nog beskryf.

    Wat ek egter oor die jare agtergekom het, is dat die krag van die kerk lê in die manier hoe die kerk verskillende tradisies gekaap en gekombineer het. Dit voed verskillende soorte persoonlikhede en spiritualiteite. Hierdie onverdraagsaamheid teenoor die ander, is tog ook geensins onchristelik nie. Beslis nie wanneer mens dit aan die Bybel meet nie. As oud NG-lidmaat is ek gladnie lief daarvoor om argumente te staaf met Bybelverse nie. Dit is trouens, een van die grootste stukke kritiek vanaf baie Christene teen die NG kerk. Naamlik dat die NG kerk-dominee net 'n ou klein stukkie uit die Bybel lees. En verder op eie insigte staatmaak. Dit is geldige en regverdige kritiek, en het dalk ook nogal baie te doen met die NG kerk se historiese mistastinge ten opsigte van apartheid. Hoe kan mens jou eie interpretasie vertrou, na SO 'n lelike blapsie? 'n Misdaad teen die mensheid, teologies beredeneer uit die Bybell deur die heilige sinode van die Boerekerk!

    Oor die jare het die NG kerk gevolglik al meer en meer krities geword oor die Bybel. Verslae voor die sinode het kritiese en ongemaklike vrae gevra. Teoloë binne die kerk het toenemend die Bybel begin beskryf as "mense se woorde oor God" en nie meer langer "God se Woord" nie. Ononderhandelbare sekerhede soos die maagdelike geboorte van Jesus, die soenoffer en erfsondeleer, die hemelvaart, Jesus se opstanding uit die dood, alles het relatief geword en is op kreatiewe maniere geïnterpreteer. Wat daarop neerkom dat die Bybel nie as historiese waarheid meer erken word nie. Al wat nog 'n mate van heiligheid oorgehou het, is die persona van Jesus, wat darem nog redelik wyd en syd as die held van die kerk beskou word waardeur God aan die mens op wonderbaarlike wyse geopenbaar was. Maar selfs Jesus se goddelikheid begin toenemend onder skoot kom, soos in die onlangse geval van die teoloog van Stellenbosch, wat in 'n akademiese artikel die goddelikheid van Jesus verwerp het.

    Nou, vanuit die perspektief van die "gewone" lidmaat, daardie lidmaat wat nog kinderlik glo, daardie "tannie" wie se Bybel altyd ooplê op haar bed (ons ken almal so 'n "tannie"), daardie broeder van 'n ander moeder wat teksverse op Facebook post, as mens die saak vanuit hulle perspektief sien, dan sal ek argumenteer dat om die rug styf te maak en basies op te staan vir die "waarheid", is gladnie so onchristelik nie. Teen my sin en beterwete in, haal ek nou uit die Bybel aan, maar die Bybel waarsku tog eindeloos teen onheilsame gevare. Wie nie vir my is nie, is teen my. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar oorlog. Herhaaldelik word daar gewaarsku in die Bybel teen mense wat afwyk van die suiwer leer. Moenie in dieselfse juk trek saam met die ongelowiges nie. En so aan en so meer. Die voorbeelde, wil ek my verstout om te sê, is legio.

    Jaco Strydom oorbeklemtoon die een aspek van Christelike spiritualiteit en onderbeklemtoon die feit dat die Bybel ook vir God beskryf as selfsugtig. As 'n God wat volle trou eis. Wat nie ander gode en vreemde idees duld nie. Die behoudendes praat altyd van die heiligheid van God. Op daai manier versamel Strydom sy gehoor, tot wie hy spreek, en wat sy boeke koop. Ek het self al verskeie van sy boeke gelees. En geniet.

    Ek het dus simpatie met al die angry Christians. Net soos wat ek ook verstaan waar kom die kwaai ateïste se woede vandaan.

    Die groot jammerte is en bly dat mense vir Oosthuizen so misverstaan. Daar bestaan, selfs binne die kerk, uiters uiteenlopende interpretasies. Neem nou maar byvoorbeeld vir Anton van Niekerk, wat homself ook as 'n Christen beskou. Maar totaal anders dink oor die Bybel en God as wat al hierdie kwaai Christene op die sosiale netwerke en in die media doen. Gelowiges soos Van Niekerk se stemme moet ook gehoor word. Ook mense soos Jaco. Was hy al op die draadloos? Seker nie baie nie. Sy God is nie juis kwaai genoeg nie.

    En ja, dit sal ook nogal nice wees om so nou en dan 'n ateïs se opinie ook te hoor op die draadloos. Dit sal heilsaam wees vir die volk. Meeste ateïste is heeltemal skadeloos, vreedsaam, en doodnormale wetsgehoorsame mense. Presies nes meeste gelowiges.

    Ons wetgewing vereis dit eintlik van openbare uitsaaiers soos die SABC dat almal 'n beurt kry.

  • Barend, om jou storie hier gelees te kry, is ook 'n storie in eie reg. Net soos jy "A history of Christianity" deur Diarmaid MacCulloch beskryf.

    Jy is seker stokflou en poegaai. Wat wou jy nou eintlik sê?

  • Stefaan de Jager

    Dit is 'n gegewe dat Christene deur die eeue heen vervolg is oor hul getuienis. Jesus het immers gesê dat ons gehaat sal word twv Sy Naam en dat wat die wêreld met Hom gedoen het, hulle ook met Sy volgelinge sou doen. Dit sou dus "normaal" wees dat die ongelowiges die gelowiges sou haat, maar dis "abnormaal" dat die gelowiges so met die wêreldlinge sou maak.

    Jean Oosthuizen pleit dat meer ruimte gemaak sal word vir alternatiewe stemme op RSG. Hy het ook maar die geloof verloor waarmee hy grootgeword het. Om hom en andere, wat soos hy opereer, met vuur te beveg, sal geen doel dien nie. Hulle geniet oënskynlik "angry Christians."

    Om "angry Christians" te wees is in elk geval geen getuienis nie. Nee, ons moet 'n ander roete volg en ek dink aan Petrus se oproep: "Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees (1 Petr 3:15)." Ek het al meer as een maal gelees hoe Jean Oosthuizen met die grootste waardering na sy oorlede moeder verwys as synde "diep gelowig." Die hoop beskaam nie, want hy sou die hoop wat in sy ma gelewe het raakgesien het. Dalk ontmoet hy ook op 'n dag soos Paulus op die pad na Damaskus vir Jesus, en word hy ook soos sy ma diep gelowig. Sy het waarskynlik as diep gelowige tot met haar dood vir hom hievoor gebid.

  • Barend vd Merwe

    Stefaan, nogal vreemde woorde van jou. Veral indien jy dieselfde Stefaan is van die media. Die welbekende een van die NG kerk. Sover ek weet is jy bekend as 'n groot doleerder. Dink nie jy moet te veel valse hoop in jou hart koester ten opsigte van Oosthuizen nie. Miskien het jy self 'n bietjie van 'n hartsverandering ondergaan sedert die kerk jou so klompie jare gelede aangespreek het. Dit skyn nou nogal so.

    Dirk, die Bybel gee genoeg skietgoed vir die gelowige wat wil rem om hard te kan rem. Net so gee die Bybel vir die gelowige wat wil vetgee genoeg om mee ruim vet te gee.

    Sit nou vanoggend so hier en dink aan die name van sommige van ons bekende Afrikaanse teologiese boeke so oor die jare. Vergelyk nou byvoorbeeld die volgende:

    Die vriendelike God: 'n Bybelse dagboek vir my ouers - Barend Vos

    Die vreemde God en sy mense - Wimpie de Klerk

    Die hemel en hoe om daar te kom - Willie Marais

    My eie weergawe van God, waarin ek eens so onwrinkbaar vas geglo het, was 'n god van misterie, soos die van De Klerk. En baie beslis ook vriendelik, soos die van Vos. Oor die hemel en hoe om daar te kom, was die minste van my worries. En tog het iemand 'n hele boek daaroor geskrywe en derduisende het die boek bestudeer. Ek hoop die wat intussen nou oorle is, is toe darem almal "hemel" toe. So jammer dat ons nooit sal weet nie.

    Baie Christene het so oor die jare vir God as 'n vriendelike en tegemoedkomende karakter probeer skets. Ons almal ken bv die legendariese teksvers Johannes 3:16, wat praat van die liefde van God vir die mens. Dit is gewis tog egter nie die volle prentjie nie. Kyk byvoorbeeld ook na hierdie waarskuwing van Jesus uit die 2020 Afrikaanse vertaling:

    "Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi." (Matteus 12:30).

    Uit my anekdotiese ervaringe, so oor die jare, weet ek darem een ding met sekerheid: Gelowiges is dikwels vreeslik aangetrokke tot 'n God met maklike, vinnige en finale antwoorde. Veral soos versinnebeeld deur die Amerikanisme: "God said it, I believe it, that settles it".

    Stefaans vra:

    "Wat is dit in Oosthuizen se versoek wat so erg bots met mense se Christelike geloofsoortuiging dat hulle dit nodig ag om met hom oorlog te voer?"

    Die antwoord is baie eenvoudig: Jesus en die Bybel vereis van gelowiges om nie af te wyk van die suiwer leer nie en ook nie met ongelowiges om te gaan nie (2 Kor 6:14 - 17).

    Ek luister gelukkig maar min RSG. Dit sal wonderlik wees as die SABC die Afrikaanse luisters eendag weer bietjie dwing om na alternatiewe geloofsoortuiginge te luister.

  • Jean Oosthuizen

    Stefaans de Jager, om op randfigure soos jy se fundamentalistiese en homofobiese teologie kommentaar te lewer, is eintlik nie eers die moeite werd nie. Julle soort teologie het geen invloed meer nie. Selfs julle eie kerk neem julle nie meer ernstig op nie.

    Aangesien jy egter na my oorlede moeder, wat jy glad nie geken het nie verwys, kan ek maar net vir jou sê sy was goed op hoogte van jou fundamentalistiese teologie en het daarvan net so min gedink soos ek en jou eie broer, wat ook 'n teoloog is.

    Die ironie van alles is dat dit nie ateïste of ongelowiges is wat my weggedryf het van die Christelike geloof nie, maar fundamentaliste soos jy. Ek kan jou die versekering gee dat ek geen belangstelling het of ooit sal kry om deel te word van die dampkring waarin jy jou begewe nie. Trouens jy en jou soort dryf my elke dag net verder en verder daarvan weg en maak my opnuut dankbaar dat ek daarvan bevry is.

  • Stefaan de Jager

    Dis nie Christene soos ek wat jou weggedryf het van die Christelike geloof nie, soveel mag het ek nie. Jy het self teen Christus gekies. Jy sê dat dit nie die moeite werd is om te reageer op wat ek geskryf het nie, en tog doen jy dit met groot emosie. Dit lyk of ek 'n senuwee raakgeboor het.

    Nietemin, dit sal goed wees as daar 'n dag kom dat van jou ook gesê word dat jy 'n diep gelowige geword het.

    So in ligter luim, jy verwys na my "soort". Iemand vertel my op 'n dag dat ek darem nie te sleg is vir my soort nie, dis net jammer dat my soort so sleg is!☺

  • Predikant NGK

    Stefaan, jou kille liefdeloosheid teenoor mense wat nie soos jy dink nie het menige mense al twee maal laat dink of Christen iets is wat hulle hulleself wil noem. Vir my as gelowige is dit ontstellend, want jy maak die evangeliese liefdeswerk wat ek en ander gelowiges probeer doen, ongedaan. Jou manier van doen maak nie dissipels nie, dit laat mense voel hulle wil eerder nie dissipels wees nie. Jy moet dalk diep gaan besin oor hoe jy dinge doen.

  • Hanno Visagie

    Bo gesien is Gods Woord besig om waar te word ook in die opsig dat in die eindtyd reg as verkeerd beskou word en verkeerd reg.

  • Stefaan de Jager

    Predikant NGK, ek wonder wat jy verstaan onder "evangeliese liefdeswerk"? Vertel asb dat ons kan weet, want daar is filantropiese liefdeswerk deur mense wat niks aan Christus het nie.

  • Ai, red nou die ou volkie. Die "gelowiges" staan bankvas daar agter in die NG Kerk grot en klippe gooi na die manne wat hier buite in die sonlig rond staan, terwyl hulle eintlik moet wonder oor wat Voltaire seg:
    “In the beginning God created man in His own image, and man has been trying to repay the favor ever since.”
    ― Voltaire

  • Christene is geroep om lief te hê? Kom nou! Dis sommer pure skynheiligheid. Geloof/godsdiens het nog altyd skeiding en oorlog beteken.

  • Hans Richardt

    Angus, geloof is in geweld gebaseer. "Clash of civilizations" is oa gebaseer op geloofsgedrewe oorloë teen waardesisteme van etniese groepe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top