Hoekom viniel in die era van iPods, iPads en iPhones?

  • 1

In die dae van iPods, iPads en iPhones kry ek ’n draaitafel.

Dis nie my eerste een nie. Ek het voorheen in my volwasse lewe twee besit, maar nie een soos dié nie. Dit was ’n geskenk van my beter helfte wat, teen haar beterwete (“draai bietjie sagter!”), gespaar en gespaar het voor sy my die oggend van my onlangse verjaarsdag vroegdag uit die bed gejaag het met die woorde: “Daar is vir jou ’n geskenkie op die butcher’s block.”

En daar staan hy toe, my geskenkie, gekartondoos: ’n NuMark TTUSB. ’n Draaitafel waarin jy ’n geheuestafie kan prop om jou plate digitaal af te laai (sou jy wou). Ek sou wou, maar vir eers wou ek net ’n slag die stuk of 300 langspelers wat ek oor die jare versamel het en wat nou alfabeties op ’n rak in die sitkamer staan en stof opgaar, spéél.

Vir jare voor hierdie lieflike meervalletjie en liederlike gebaar (wat natuurlik teen ’n prys gekom het, want skottelgoed en tuinwerk is ná dese eksklusief my verantwoordelikheid), het ek gesoek na ’n speler vir my plate. Ek het by elke dodgy Cash Crusaders-winkel denkbaar aangedoen, by pandjieswinkels en opelugmarkte gaan snuffel en advertensies op Gumtree nagevolg.

Die eerste draaitafel wat ek gekoop het, was wat op sy dag seker as state-of-the-art beskou kon word. Geen standaard-opligdeksel nie, maar ’n gleuf waar jy die langspeler inglip, waarna die arm outomaties na die eerste snit spring. Dit het vir drie maande goed gewerk, en heelwat kuiergaste beïndruk, maar op ’n dag het die arm besluit om nie meer na die begin van die eerste snit te spring nie. Dit het eenvoudig ’n ent ingeskuif, sowat een sentimeter diep, en daar die naald laat sak. So jy het altyd die eerste 30 sekondes of so van snit een gemis. Nadat verskeie “draaitafelkenners” aan die binnegoed gekrap het, en die ding my reeds drie keer die koopprys van R200 uit die sak gejaag het, het ek dit een aand uit frustrasie in die asdrom gaan smyt.

’n Jaar of twee later het ek in die geklassifiseerde advertensies van ’n koerant gesien iemand adverteer ’n Lynn Sondek, op sy dag die Jaguar van draaitafels. Ek het die deal op R500 beklink en is opgewonde huis toe. Opgestel, ingeprop, Prefab Sprout se Two Wheels Good-album ontstof en op die wiel laat sak en siedaar: die soet klanke van Farron Young!

My vreugde was egter van korte duur. Die naald het ’n paar maande later die klank al hoe swakker opgevang en nadere inspeksie het dit bevestig: dit moet vervang word. Nou ja ... ek het agt maande later bes gegee. Nêrens kon ek ’n naald vir dié spesifieke draaitafel vind nie. Invoer van Brittanje, ja, dié kon ek, maar hoe sou ek die koste daarvoor kon regverdig gemeet aan wat ek vir die draaitafel betaal het? Uiteindelik het ek die Lynn geruil vir ’n Hohner-bekfluitjie (in the key of C) en ’n taamlik gehawende weergawe van Nick Cave se eerste boek, And the Ass saw the Angel.

Van daai dag af het ek met ’n swaar gemoed na my stofbedekte langspelers gestaar. Netjies in gelid op rakkies wat ek self uit die bruikbare hout van ’n stel ou eetkamerstoele gebou het (want Confucius says: He who is retrenched, will have his work cut out).

Deesdae is ek en my Numark TTUSB onafskeidbaar. So tussen blare hark, rankplante in toom hou, potte was en panne skrop, laat sak ek saans die naald op Jethro Tull, Fleetwoord Mac, Rolling Stones, Slade, The Sweet, Deep Purple, ACDC, Lindisfarne, Emerson, Lake & Palmer, Crosby, Stills, Nash & Young, Stawbs, The Nitty Gritty Dirt Band, CCR, Beach Boys en die Beatles.

Hoekom, sou u vra, liewe leser, hoekom viniel? Veral in die era van iPods, iPads en iPhones?

Ek weet nie. Daar is meer as een antwoord. Dit ruik sommer net lekker ... die plaat self, die harde plastiek-omslag, die anti-static binnebaadjie. Dit lyk beter – veral die Ragtime Records of Silverstone Imports met hul notas, foto’s en liriekblaaie. Dit klink beter, selfs met die krap-krap-krap van die naald op plate wat veroorsaak het dat my ousus volgens my pa “op haar gatvelle” matriek deurgeskraap het.

Bowenal wikkel en woel dit gedagtes los wat jy jare gelede – dekades selfs – in jou onderbewussyn gebêre het. Soos die play-offs wat ek en my pa gereeld oor naweke gehad het op sy SuperSonic-hoëtroustel. Ek mag ’n rocksong speel, maar dan moet ek een van sy klassieke snitte luister. Ek onthou ek het een ronde gewen met “Soldier of Fortune” van Deep Purple se album Stormbringer.Tot vandag toe as ek Shirley Bassey se “Never, Never, Never” hoor, proe ek nog die pannekoek wat my ma in die kombuis maak as die reën in vlae oor die Boland uitsak. Sy sal sê: “Pa, ek gaan vir ons iets bak, sit my plaat op.” Ek sien nou nog hoe my broer – op sewe-dae-weermagpas uit Suidwes-Afrika – die CSN&Y-album So Far by die huis aanbring, dit met versigtige hande uit die omslag glip en hoe hy my leer om “Our House” saam te sing.

So, ek is bly ek het weer ’n platespeler. Dis ’n device wat my kinderjare gevorm het, ’n instrument wat my laat onthou, dis die enigste manier om met ál jou sintuie na musiek te luister.

Ooit gewonder hoe langspelers gemaak word? Kyk hier:

CSN&Y (Our House)

Deep Purple (Soldier of Fortune)

Shirley Bassy (Never Never Never)

The Kinks

Beach Boys

Wilco

Rolling Stones

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Ek het met groot heimwee jou brief gelees. Ek het ook 'n versameling plate wat netjies gestoor word. Ek hunker baie keer om net weer na die musiek te luister wat ek het maar eendag wanneer ek groot is gaan ek vir my so 'n spoggerige draaitafel koop. Die plate wat ek het, se musiek is nie op CD beskikbaar nie. Ek het al gesoek maar kry dit nie. Dit is jare se versameling en opgaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top