In Oomblik in die Wind, die eens verbanne boek van André P Brink, swerf die witvrou, Elizabeth Larsson en die Khoin-vlugteling, Aob, dwarsoor die suidland op pad terug na die Kaap. Nie net het Elizabeth haar man verloor tydens hulle binnelandse ekspidisie nie, maar ook haar ongebore baba. Stelselmatig het sy ook die twee waens, huisraad, proviand en klere óf verloor óf moes dit agterlaat ten einde net te kon voortgaan. Totdat sy net een skamele rok oorgehou het vir die aankoms in die Kaap. Aob het haar geleer om haar inhibisies saam met haar rykmansgewoontes prys te gee ten einde te oorleef: dra ‘n skort van velle en leef van dit wat die natuur bied. Vir ‘n lang tyd het hulle in ‘n grot gebly, so tevrede dat hulle dit oorweeg het om glad nie terug te gaan Kaap toe nie. Elizabeth was klaar met die lewe van partytjies en pieknieks en sambreeltjie-wandelings langs die Heerengracht. Om met Eric Larsson te trou, was haar ontsnappingsroete. Maar hulle moes terug. Sy sou vir Aob gaan vrykoop, sodat hy weer Adam Mantoor kon word. Soos net Brink emosie kan verwoord, raak die ruwe, ongerepte land ‘n paradys en die twee karakters se ontberinge raak jou eie.
Dit laat my wonder: is dit soos God dit deur alle eeue heen wou hê toe hy aan Adam en Eva die opdrag gegee het om nie te eet van die vrugte van die boom van kennis nie? Om te heers oor die voëls in die lug, die diere op land en die visse in die see? Gestel hulle sou gehoorsaam gebly het, hoe sou die wêreld vandag daar uitgesien het?
Oral sou mos paradyse wees; daar waar water is, sowel as in die barre woestyne. Bome met dik bruin verknotte stamme en donkergroen blare wat in die winter teen mekaar sou baklei om nie die reën deur te laat nie. Ander met yler takke en peridoot blaartjies waardeur die warm somerson skaamweg sou lag en patroontjies trek op die vermolmde grondkombers. Almal sou vrugte en neute dra, elkeen na sy seisoen, sodat die mens altyd van hul voeselbron kon put. En hulle sou lugwortels hê, sterk genoeg vir die mens om matte mee te vleg. Iewers tussen hierdie bome sou ‘n oop sonkol wees waar die vroue lappe sou weef van vlasdrade en gare wat uit skuimwit katoenbolle gedraai is.
Struike met welriekende blommetjies, sommiges wydtakkig, ander al rankend teen enige moontlike stut, sou hulle geure eweredig deur die etmaal versprei. Party sou vir die son op hulle blare wag; ander sou teen skemer in die aandlumier hul geursakkies oopmaak. Grondbedekkers wat wissel van aromatiese kruie tot bruin-groen mos sou die voete van groentestoele koel hou. Oral tussen die plantegroei sou kleindiertjies rats rondspeel terwyl die groter wild skugter en spits-oor hulle gang gaan.
Die mens sou oor die diere heers sonder om te oorheers. Net genoeg doodmaak vir kos en velle. Kinders sou hulle verwonder oor die geboorte van ‘n kalf en hulle nerwe af val as hulle probeer om op donkies te ry. Daar sou vrede heers tussen tussen dier en dier, mens en dier, mens en mens, selfs as die heuningbier te oorvloedig vloei. Die mens sou net dans en lag, vrolik en gelukkig wees.
Saam met die vrug van die boom van kennis het misdaad, afgodery, tweedrag, kompetisie, ontdekkingstogte, handel, slawerny, tegnologie, differensiasie en segregasie gekom. Goed uit die wêreld, van die wêreld, vir die wêreld. God het dit so toegelaat. Hy het die opbou van Jerusalem ook toegelaat, die afbreek daarvan ook, tot vandag toe nog. Die Comore en Seychelle eilande word vandag “paradys” genoem, maar dis paradyse uit die wêreld.
Die enigste Godbedoelde paradys vind mens net in jou eie siel en gees. Alleenlik daar kan jy jou in veiligheid op die groen mos neervlei en jou oë sluit teen die gedruis en geskarrel rondom jou. Hier kan jy in ‘n bruin bergpoel onder ‘n waterval dryf en in jou paradysklere op ‘n plat rots droogword. Hier in jou eie Eden is jy reeds gered terwyl die res van die wêreld by COP17 tevergeefs probeer ooreenkom oor hoe om te red wat nie meer te redde is nie.
Ook dit was so beplan, spesifiek vir die mens om ‘n keuse te maak waar hy wil wees.
Suikerbrood en suurvye

