Hoe om ’n draak se toorn te tem
Cressida Cowell
Protea Boekhuis
2018
Die heel eerste keer wat ek kennis gemaak het met hierdie stories van Cressida Cowell was deur die fliek How to train your dragon. Die boeke het eintlik al in 2003 in Engels verskyn, maar dis eers later in Afrikaans vertaal. Ek het die Hoe om jou draak te tem-boeke begin lees in April 2016 toe ek agt jaar oud was. Dis presies twee jaar gelede, ek is nou tien jaar oud en het dié naweek die laaste boek in die reeks gelees.
Boek twaalf se naam is Hoe om ’n draak se toorn te tem. Dit is ’n skreeusnaakse boek met ’n goeie storielyn en ek het regtig baie daarvan gehou. Dit is ’n konkelende storie, ’n mens-weet-nie-wat-gaan-gebeur-nie-tipe storie en die grappe is regtig snaaks. Dit speel in die Vikinglande af. Ek weet nie presies waar nie, maar dit is fiksie wat probeer om iewers naby Finland in te pas – dis mos die naaste Vikingland aan die Noordpool. Die Barbaarse Argipel (dit word ook die Wilderweste genoem) is vol eilande waar mense aanmekaar oorlog teen mekaar voer. Daar is ook wilde drake en mak drake. Mak drake is drake wat as babas gesteel is en opgelei is om te werk vir mense as slawe of om skootdiere (troeteldiere) te wees.
Die hoofkarakter van die storie is Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde. Hy kan Drakonees praat, die taal van drake. Hy is die enigste mens wat dit kan praat. Harwarrus veg daarteen dat die Wilderweste menslike en draaklike slawe sal aanhou en die enigste manier om dit reg te kry, is om self ’n koning te word. Maar daar is nie elke generasie ’n koning nie. Net as hy genoeg volgelinge kan kry en Grombaard die Gruwelike (die vorige koning van die Wilderweste) se tien verlore toebehore kan opspoor, kan hy as koning gekroon word. Deur die loop van die reeks boeke spoor Harwarrus die verlore toebehore op – dit is skatte soos ’n tandlose draak, Grombaard se tweede beste swaard, die Romeinse skild, die tik-tak-ding, die robynhartsteen, die pyl uit die land-wat-nie-bestaan-nie, die sleutel wat alle slotte oopsluit, die troon en die kroon. Die belangrikste toebehoorsel is die draakjuweel wat die mag het om alle drake vir ewig uit te wis.
Die grootste menslike vyand is Alvin die Verraderlike wat probeer om koning te word, en sy ma, die heks Excellinor. Dan is daar ’n draakvyand, die draak Verwoed. Hy is die leier van die draakrebellie en hulle is vol van die Rooi Raserny – dis wat die boeke dit noem. Hulle hou ’n rebellie omdat hulle wil hê daar moet nie meer draakslawe wees nie. Aan die begin van die twaalfde boek het Alvin die Verraderlike amper koning geword van die Wilderweste én Harwarrus het geen van die toebehore meer nie én die draakrebelle maak jag op Harwarrus!
Die twaalfde boek is so geskryf dat hy op sy eie kan staan sonder die ander boeke, maar dit sal baie beter wees as jy dit in die volgorde van die reeks lees, want dan verstaan mens hoe Harwarrus hiér uitgekom het en hoe hy dáár uitgekom het, waar dít vandaan kom en waar dát vandaan kom. Dis die dikste boek wat ek nog ooit gelees het (dis 471 bladsye lank), maar wat my laat aanhou lees het, is dat daar die heeltyd hoogtepunte is. Daar is bitter min plekke waar die skrywer jou laat rus. Dit is nogal ’n goeie idee om ’n blaaskans te vat en jou oë te laat rus en die storie te verwerk, want jy wil ongelooflik graag net aanhou en aanhou lees!
In die eerste boek was Harwarrus nege jaar oud en aan die einde van die twaalfde boek is hy vyftien jaar oud. Die lekkerste dele van die boek is waar hy uit die nouste, nouste ontkomings kom, waar mens altyd dink hy gaan dood, maar elke liewe keer kry hy dit reg om te oorleef! Hy gebruik sy geaardheid om te kan oorleef. Hy is vriendelik met alles en almal, wat beteken hy het altyd iewers ’n vriend wat vir hom wag en dan kry hy dit reg om op ’n manier te ontsnap. As sy vriende op ’n ander plek is, dan onderhandel hy met die vyand en praat met hulle totdat hulle goeters heroorweeg of uitbars en hom jaag en hy dan op een of ander slinkse manier van hulle probeer ontsnap.
Ek het die reeks boeke al twee keer gelees, so ek hou regtig baie daarvan, dis my gunsteling boeke. Ek dink dis goed om die boeke te begin lees as mens so tussen agt en nege jaar oud is en tot so veertien jaar op die oudste. As ek dit met ander boeke moet vergelyk wat ek al gelees het, sal ek sê dis amper die teenoorgestelde van Narnia, want dis meer aksievol en spannend en grapperiger. Dis nogal ewe snaaks as die Treehouse-boeke, maar op ’n ander manier. Die verlore toebehore waarna Harwarrus moet soek, is ’n bietjie soos die sendings waarop die ministers vir Stach in Koning van Katoren stuur voordat hy kan koning word. Daar is landkaarte in al die Hoe om jou draak te tem-boeke en tekeninge wat gemaak is deur die skrywer self.
Die hele storie gaan oor hoe ’n normale seun, wat die hoofmanopvolger van sy stam is en dit nie eers wil word nie, die begeerte te kry om die koning van die Wilderweste te word, omdat dit die enigste manier is om slawerny stop te sit. Veral hierdie laaste boek gaan oor hoe verskriklik aaklig oorlog is. En oor hoe goedaardigheid op ’n manier jou toekoms vir jou gaan maak. En dat alles op ’n manier by iets anders inpas. So, iets wat jy lank gelede erg verkeerd gedoen het, sal omswaai en terugdraai na jou toe. Jou goedaardigheid sal ook iewers in jou lewe terugkom na jou toe en mense gaan goedaardig teenoor jou wees. Op lang termyn word alles oorgedra, alles kom terug na jou toe.
Eendag sal ek hierdie boeke onthou vir hoe ’n hele storielyn binne twee bladsye voor jou oë kan omdraai en iets beter word as wat jy ooit kon gedink het.
Kommentaar
Uitstekende ressensie! Welgedaan Aden. Jy sal dit nog ver bring in die lewe. Ek het die ander dag 'n stuk gelees wat sê: "Huiswerk maak 'n mens nie slim nie, lees maak jou slim!"
Lekker resensie en ek stem 110% saam, mens wil nooit die boek neersit nie! Ek het ongelukkig nie die vorige boeke gelees nie en nr.12 op 'n uitverkoping gekoop - wat 'n skat. Nou wil ek sommer al die ander boeke lees. Lekker lees en ek hoop jy skryf weer 'n resensie.
How to trian your dragon